Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Life Healthcare meen ook data oor hospitale is oud
JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MAY 29: Babies who ar
Die markondersoek se bevindinge oor ’n hoogs gekonsentreerde mark is op verouderde data gegrond. Foto: Getty Images

Een van die drie groot hospitaalgroepe in die land, Life Healthcare, meen ook van die bevindinge van die vyf jaar lange navorsing van die Mededingingskommissie oor die private gesondheidsorgbedryf is verouderd.

Een van die bevindinge was dat die drie groot hospitaalgroepe, Netcare, Mediclinic en Life, die mark oorheers en dat die hospitaalbedryf hoogs gekonsentreerd is en in staat is om mededinging te voorkom en te verwring. Die markondersoek het bevind mededinging in die mark het grootliks misluk.

Dr. Shrey Viranna, uitvoerende hoof van Life Healthcare, het gesê dié hospitaalgroep beskou nie die mark as hoog gekonsentreerd nie gegewe die “wesenlike nuwe toetreders en uitbreiding van hoofsaaklike onafhanklike hospitale in die private mark die afgelope drie jaar”.

“Die markondersoek se bevindinge oor ’n hoogs gekonsentreerde mark is op verouderde data gegrond,” het hy in reaksie op vrae gesê.

Mediclinic het ook verlede week so gereageer.

Melanie Da Costa, direkteur van gesondheidsbeleid van Netcare, wat die grootste van die drie is, het gesê die hospitaalmark het talle nuwe toetreders gesien “en daar is baie nuwe opsies vir mediese fondse en verbruikers”.

“Daar was ’n beduidende bekendstelling van onafhanklike hospitale en hul markaandeel het die afgelope paar jaar tot net meer as 34% gestyg. Daar is meer as 7 000 bedlisensies aan hospitaalbeleggers buite die genoteerde groepe uitgereik.”

Die markondersoek het verwys na 2016 se data wat getoon het die National Hospital Network (NHN) en ander hospitale se markaandeel is 13,6% en 2,3% van beddens onderskeidelik.

Die NHN is ’n groepering van onafhanklike hospitale wat vrystelling het van die Mededingingskommissie ten einde gesamentlik met mediese fondse oor pryse te onderhandel.

Life se Viranna het dit ook verwelkom dat die markondersoek afgesien het van sy voorlopige aanbeveling van verlede jaar van desinvestering en ’n verbod op nuwe lisensies vir die drie grotes. Hy meen gegewe die aantal nuwe toetreders die afgelope drie jaar sou dié oplossing nie gepas gewees het nie.

Die departement van gesondheid het in ’n verklaring verlede week onder meer gesê die markondersoekverslag verwys na die “samespanningspraktyke van die groot hospitaalgroepe om mededinging te voorkom, te beperk en te verwring”.

Viranna sê die verslag het nie samespanning onder die hospitaalgroepe uitgelig nie. “Ons ontken dit ten sterkste dat ons saamspan of mededinging voorkom, beperk of verwring.”

Een van die aanbevelings is dat die Mededingingskommissie sy benadering ten opsigte van “geleidelike (creeping) samesmeltings” moet verander sodat die hoë vlakke van konsentrasie hanteer kan word.

Elsabé Conradie, ’n kundige van private gesondheidsorg en uitvoerende hoof van Delgado Consultants, sê die kommissie word nie in kennis gestel van samesmeltings onder ’n sekere grootte nie. “Baie kleiner onafhanklike hospitale is deur die drie grotes op dié manier bekom.”

Ons ontken dit ten sterkste dat ons saamspan of mededinging voorkom, beperk of verwring.

Sy sê die drie groot hospitaalgroepe het wesenlike markaandeel en bedingingsmag in die hospitaalmark. “Dit is duur om ’n hospitaal te bou, gemiddeld R3 tot 4 miljoen per bed en die aansoek vir ’n lisensie neem tyd. Dit is tot groter voordeel vir die groepe om bestaande onafhanklike hospitale te koop ten einde hul markaandeel uit te brei.”

Viranna sê die mededingingsowerhede het reeds ’n bestel oor samesmeltings vir transaksies waaroor hy verwittig moet word. Die beoordeling daarvan is aan ’n ontleding oor mededinging asook die openbare belang onderhewig.

Volgens hom steun Life Healthcare ’n gestandaardiseerde stelsel vir lisensiëring, soos ook aanbeveel is. “Dit is (egter) belangrik om te noem dat die huidige stelsel vir lisensiëring reeds voorsiening maak vir ’n ontleding van die behoeftes wat bestaan. Aansoekers word tans deur ’n provinsiale departement versoek om die vraag wat in ’n bepaalde gebied bestaan, te bewys en te toon wat die verhouding van hospitaalbeddens tot die bevolking is.”

Die markondersoekverslag het aanbeveel ’n nuwe owerheid moet geskep word wat die verskaffers van gesondheidsorg reguleer, en een van sy belangrike take moet wees om ’n strenger “behoefte-gegronde” lisensiëringstelsel te ontwikkel wat mededinging en markkonsentrasie in ag neem.

Oor die nuwe owerheid het Viranna gesê hulle erken die behoefte aan toesig aan die aanbodkant. “Dit wil voorkom asof hierdie funksie vandag binne ander reguleerders val, en dit sal nuttig wees om te oorweeg hoe hulle hierdie funksies anders kan verrig, eerder as om ’n nuwe owerheid op die been te bring.”

Ander bevindinge in die markondersoekverslag wat verwelkom is:

’n Organisasie wat op gestandaardiseerde wyse mediese uitkomste monitor en daaroor verslag doen. Viranna sê talle gesondheidsorgverskaffers, insluitend Life Healthcare, monitor tans die gehalte van gesondheidsorg, maar daar is nie ’n gestandaardiseerde model daarvoor nie. Almal gebruik verskillende metodes en kriteria, wat dit moeilik maak om die uitkomste te vergelyk.

Netcare sê ook hy steun ’n gestandaardiseerde stelsel.

Life het verder ook die verpligte standaard-opsie vir mediese fondse wat vir almal dieselfde moet lyk, verwelkom. Die markondersoek glo dit sal mededinging bevorder omdat dit die mark vir verbruikers minder ingewikkeld sal maak.

Life verwelkom ook die bevinding dat hospitaalgroepe mag voortgaan met jaarlikse bilaterale onderhandelinge oor pryse met mediese fondse, omdat dit “betreklik mededingend” is.

Daarbenewens het die markondersoek aanbeveel praktisyns en mediese fondse moet onder toesig van die nuwe owerheid vir die aanbodkant, ook multilaterale onderhandelinge oor pryse doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.