Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Medici: Bring NGV en ons vat die pad
dokter
Baie Suid-Afrikaners is aangewese op 'n staatskliniek omdat hulle nie 'n mediese fonds het nie. Foto: Unsplash

Altesame 72% beroepslui wat aan ’n studie van die Professional Provident Society (PPS) oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) deelgeneem het, sê hulle pak hul tasse vir die buiteland as die stelsel in sy huidige formaat geïmplementeer word.

Dié navorsing onder meer as 3 300 lede wat lede is van PPS , is die jongste waarskuwing aan die regering dat hy op rampspoed afstuur met dié gesondheidsplan.

PPS, wat die studie onder onder meer dokters, tandartse, prokureurs, rekenmeesters en ingenieurs gedoen het, het die resultate by hul skriftelike parlementêre voorleggings oor die NGV-wetsontwerp ingesluit.

Luidens die uitslae wat PPS nou aan hul lede deurgegee het, het 15% van die respondente ook gesê hulle is nog onseker oor emigrasie.

Net ’n handvol het gesê hulle sal beslis by.

Die twee hoofredes vir moontlike emigrasie weens die NGV, is vrese dat werkstoestande sal versleg en dat medici inkomste gaan verloor.

Volgens PPS was 58% van 2 905 mediese beroepslui in ’n aanlyn vraelys negatief oor die NGV. Hul grootste kommer is gebrekkige vermoë en infrastruktuur, die negatiewe impak van die NGV op belastingbetalers en dat die regering nie die NGV sal kan implementeer nie.

Net 10% was positief, onder meer omdat hulle meen die NGV sal primêre gesondheidsorg verbeter, alle landsburgers toegang gee tot gesondheidsorg en omdat geld vir gesondheidsorg gelykop verdeel sal word.

Van die medici wat aan die PPS-opname deelgeneem het, sê 31% die NGV kan meer posisies vir spesialiste skep vanweë groter vraag.

Maar daarteenoor sê 32% van respondente private spesialiste sal werk verloor, 31% sê korrupsie sal geld vir spesialisdienste wegkalwe en nog 24% vrees spesialiste se werklas onder die NGV sal te swaar wees.

PPS sê medici se opinies oor die NGV is uiteraard belangrik, maar hulle het juis ander gegradueerde professionele mense se menings ook gevra omdat hulle ’n waardevolle rol in die ekonomie speel.

PPS se voorlegging aan die parlement volg kort op nóg twee verdoemende peilings:

  • Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV), wat sowat 17 000 dokters verteenwoordig, het in November ’n peiling gedoen waarin 38% van hul lede gesê het hulle oorweeg emigrasie weens die NGV, terwyl 17% onseker was.

Meer as 1 000 van hul lede het aan die opname deelgeneem.

Altesame 67% sê hulle steun nie die NGV soos voorgestel in die NGV-wetsontwerp nie.

SAMV-lede is ook besorg oor korrupsie en gebrekkige verantwoordbaarheid (91%), en oor goeie bestuur van die NGV-fonds (83%).

Die SAMV het daarom in hul skriftelike voorlegging aan die parlement gesê hulle kan nie die NGV in sy huidige formaat ondersteun nie.

Die SAMV wil ook hê mediese fondse moet in die toekoms toegelaat word om dieselfde dekking as die NGV-fonds te bied, pleks van die aanvullende rol wat nou in die wetsontwerp vervat is.

’n Baie groot deel van die SAMV se dokters wat aan die studie oor die NGV deelgeneem het (37%), werk tans uitsluitlik in die openbare sektor en nóg 21% van die respondente werk gedeeltelik vir die staat. Die ander 42% werk tans in private praktyke.

  • Solidariteit het ook in die laaste kwartaal van 2019 bevind Suid-Afrika kan sowat 62% van sy gesondheidswerkers verloor.

Rapport het vroeg November berig een uit elke vyf medici wat aan die studie deelgeneem het, het reeds met ’n proses van emigrasie begin.

Nog 42% respondente het gesê hulle sal stappe doen om te emigreer wanneer die NGV geïmplementeer word.

Nog 42% respondente het gesê hulle sal stappe doen om te emigreer wanneer die NGV geïmplementeer word.

Solidariteit se vraelys is aan 7 443 gesondheidspraktisyns uitgestuur met ’n terugvoersyfer van sowat 9%.

Sowat 80% van respondente was negatief of skepties oor die NGV, teenoor 71,9% wat negatief was toe dieselfde peiling in 2018 gedoen is.

Die spertyd vir skriftelike kommentaar op die wetsontwerp is verby, maar die openbare deelnameproses is nog aan die gang waarin lede van die publiek kommentaar en insette kan lewer.

Kritiek teen die wetsontwerp sluit in dat dit heeltemal onduidelik is hoe die NGV die openbare gesondheidsektor gaan beter maak en dat die regering nie kan sê wat dit gaan kos nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het egter Woensdag by die King Dinuzulu-hospitaal in KwaZulu-Natal volgehou dat die NGV die oplossing is.

News24 berig hy het gesê onder die NGV sal daar min onderskeid wees tussen die gehalte en diens in staats- en private hospitale.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.