Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Medies: Jou goedkoopste, duurste opsies
Wanneer mense met 'n gesin begin, sluit hulle baie keer vir die eerste keer by 'n mediese skema aan, maar om 'n skema en opsies te kies is baie kompleks. Foto: Reuters

Die premies van mediese skemas bly ’n belangrike oorweging vir mense omdat baie van hulle onder finansiële druk is, sê Jill Larkan, hoof van die gesondheidskonsultante van GTC.

Die jongste peiling onder mediese skemas wat deur GTC gedoen is, toon uit die 16 verskillende soort opsies het Fedhealth die meeste opsies met die laagste premies.

Larkan sê premies is steeds die belangrikste oorweging vir verbruikers omdat salarisverhogings nie die afgelope tien jaar met die styging in premies tred gehou het nie.

Sy maan egter verbruikers om nie net opsies te kies op grond van lae premies nie omdat hulle dalk minder voordele bied.

“Dit is kommerwekkend dat skemas opsies bied wat lyk asof dit waarde vir geld bied, maar minder voordele as hul tradisionele eweknieë het. Dit word gedoen om verbruikers te lok wat bekommerd is oor hoë premies.”

Sy sê dit is nou belangrik om nie net na die premies te kyk nie, maar ook bewus te wees van die voordele wat die opsie bied.

Hoe die peiling werk

Die inligting oor die premies is as volg saamgestel:

  • Die peiling het 21 oop skemas en een geslote skema (Profmed) ingesluit en 272 van hul opsies is ontleed.
  • GTC deel die opsies in vier hoof kategorieë: intrede tot private gesondheidsorg; ’n hospitaalplan; ’n opsie met ’n spaarrekening; en ’n omvattende opsie. Sien die meegaande definisies.
  • Die opsies is verder in subkategorieë opgedeel: Intreevlakopsies is onder meer verdeel in dié wat dekking in netwerke in die private sektor gee en dié wat hospitalisasie tot staatshospitale beperk. Dié opsies is ook op grond van inkomstegroepe verdeel. Spaarplanne is verdeel om die opsies met ’n selfbetalingsgaping afsonderlik te hou van dié wat net ’n spaarrekening het. Uiteindelik is daar dan 16 soorte opsies.
  • Die premies wat in die hele peiling vergelyk word, is net die gedeelte wat na die risikopoel toe gaan en sluit dus die bydraes tot ’n spaarrekening uit. Dit is gedoen om die premies makliker vergelykbaar te maak.


’n Makelaar in die bedryf sê ’n beter vergelyking sou wees om die randwaarde van voordele die afgelope jare tesame met die premiestygings in ag te neem.

“Dan is dit ’n heel ander prentjie. Met ander woorde, tien jaar gelede was die totale voordeel R400 000 en dit is vandag steeds soveel, maar dit is eintlik net R280 000 in tien jaar gelede se geld.”

Die premie het egter ook intussen stewig gestyg.

Volgens hom sou dit egter amper ’n onmoontlike taak wees.

“Die skemas wysig kort-kort die voordele, so om ’n opsie te kry wat dieselfde was as tien jaar gelede gaan moeilik wees, maar dit is wat ’n ordentlike vergelyking oor tyd sal verg.”

Larkan sê van die goedkoopste opsies is byvoorbeeld intreevlakopsies omdat premies op grond van salarisse bepaal word. Dié opsies dek egter voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s), terwyl ander weer hospitalisasie tot staatshospitale beperk.

“Dié basiese opsies is ’n goeie keuse vir verbruikers wat vir die eerste keer by ’n mediese skema aansluit en wat tevrede is met ’n kombinasie van primêre gesondheidsorg en ’n hospitaalplan,” sê Larkan.

“Verbruikers wat egter omvattender dekking verwag, maar laer premies kies, gaan teleurgesteld wees as hulle uitvind hulle word vir talle prosedures nie gedek nie.”

Die GTC probeer jaarliks twee dinge meet in ’n peiling: die gesondste mediese skemas en die laagste premies vir die verskillende soorte opsies.

Om te bepaal watter skemas die gesondste is, word onder meer faktore soos die getal lede en die groei in lede, asook die skemas se finansies gemeet. Lees ook die berig Hier is die gesondste, siekste mediese skemas.

Tipiese gesin

Netwerk24 het die meegaande tabelle saamgestel uit die inligting vir ’n gesin met ’n hooflid, volwasse afhanklike en twee kinders, want dit is volgens Larkan die algemeenste gesin wat lede van mediese skemas is.

Die eerste meegaande tabel is suiwer net op die premies gegrond.

Die tweede tabel gooi die twee dele van die peiling saam sodat die goedkoopste premies vir die gesondste skemas getoon word.

In die tabel vir die goedkoopste premies het Fedhealth uit die 16 verskillende opsies die meeste, naamlik vier, wat die laagste premies het. Compcare en Makoti het elkeen drie opsies wat die goedkoopste premies het.

In die tabel word ook die waarskynlike ondersteuning aangedui wat hulle van GTC se makelaars sal kry.

Dit is bepaal op grond van die persentasiepunt wat die opsie vir die twee dele van die peiling kry.

’n Hoë waarskynlikheid dat dit ondersteuning sal kry, is tussen 70% en 100%; medium-waarskynlikheid is tussen 50% en 70%; en laag is onder 50%.

Gewildste opsie

Volgens Larkan is spaarplanne die gewildste soort opsie onder lede van mediese skemas.

Netwerk24 het dus ook gaan kyk wat die duurste en goedkoopste van dié opsies is. Die inligting hier onder sluit ook in dié met selfbetalingsgapings en is vir gesinne met ’n hooflid, volwasse afhanklike en twee kinders.

Hier is die drie duurste opsies met spaarrekeninge:

  • Die duurste opsie met ’n spaarrekening is Profmed ProPinnacle (vir inkomstegroepe wat meer as R9 000 per maand verdien). Die premie vir die bydrae tot die risikopoel (uitgesluit die spaarrekening) is R14 170 per maand. (Profmed is die enigste geslote skema wat ingesluit is in die peiling.)
  • Die tweede duurste opsie in die kategorie is Bestmed Pace4, wat R11 765 per maand kos.
  • Cape Medical Plan Healthpact Select het die derde hoogste premie in die kategorie van R11 612.

Die drie goedkoopste opsies met spaarrekeninge is:

  • Medisave Standard (vir mense wat tot R8 500 verdien) Dit kos R2 490 per maand.
  • Medisave Standard (vir mense wat tussen R8 501 en R1 300 verdien) en die premie is R2 670 per maand.
  • Medisave Standard (vir mense wat tussen R13 001 en R17 000 verdien) en die premie is R3 195 per maand.
  • Al drie dié opsies is medies met spaarplanne en ’n selfbetalingsgaping waarvoor daar nie ’n netwerk nodig is nie.

Klik op die skakel om die hele verslag te lees. Dit toon per kategorie en gesinsgrootte die goedkoopste opsies.

Meer oor:  Gesondheid  |  Mediese Skemas  |  Premies  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.