Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Medies: Kleinste verhogings in jare in 2021 verwag

Goeie nuus vir verbruikers – wat vanjaar baie minder eise teen hul mediese fondse gehad het – is dat die laagste premieverhogings in jare vir 2021 verwag word.

  

Mediese fondse se premies gaan waarskynlik in 2021 met minder as 5,5% styg. Foto: iStock

Mediese fondse begin binnekort om hul premieverhogings vir volgende jaar aan te kondig.

Rod Leerkamp, hoofkonsultant van die mediesefondskonsultante NMG Actuarial & Specialised Consulting, meen lede kan verhogings van enigiets tussen 4,5% en 5,5% verwag. Dit is bykans die helfte van vanjaar se styging van 8,8% en 2019 se 8,2%.

Clayton Samsodien, ’n mediesefondsmakelaar en uitvoerende hoof van Phoenix Financial Services Group, sê die Raad op Mediese Skemas (RMS) het vir die eerste keer aanbeveel dat geen premieverhogings gehef word nie, of dat as premies verhoog word, dit tot 3,9% beperk word.

Samsodien sê normaalweg beveel die RMS ’n verhoging van verbruikersprysinflasie plus sowat 3% aan.

  

Ekonomiese impak

Die RMS verwys in ’n omsendbrief waarin dié aanbeveling gemaak is, breedvoerig na die vooruitsigte vir die internasionale en die Suid-Afrikaanse ekonomie asook die Suid-Afrikaanse werkloosheidskoers wat in die eerste kwartaal tot 30,1% gestyg het.

“Die langtermyn- ekonomiese gevolge van die pandemie gaan waarskynlik verskriklik wees,” lui die brief.

Aangesien werkende mense lede van mediese fondse is, het ’n stygende werkloosheidskoers ’n negatiewe impak op mediesefondslidmaatskap. Dit kan egter selfs vir werkendes onbekostigbaar word.

Leerkamp sê mediese fondse is beslis onder druk om te midde van die ekonomiese werklikheid laer verhogings te hef.

Hy meen veral oop mediese fondse is bekommerd dat hulle lede kan verloor en sal eerder ’n laer verhoging gee ten einde lede te behou.

LEES OOK: Mediese fondse verwag 15% gaan ophou betaal

    

Minder eise

Boonop is die verwagting dat mediese fondse groot oorskotte gaan behaal omdat vanjaar se eise baie minder as verlede jaar s’n gaan wees, sê hy.

Die RMS het Covid-19 vanjaar tot ’n voorgeskrewe minimum voordeel verklaar, en mediese fondse moet dus vir die diagnose en behandeling daarvan betaal.

Die langtermyn- ekonomiese gevolge van die pandemie gaan waarskynlik verskriklik wees.

Mediese fondse het al genoem dat hospitalisasie vir Covid-19 baie duur is. Maar terselfdertyd het mense die afgelope maande nie dringende operasies en mediese dienste uitgestel.

Leerkamp sê daar is in ’n stadium verwag dat dié eise nou al sou begin opvang het, maar dit het nog nie gebeur nie. Dit word nou eers teen die jaareinde verwag, maar sal nie betyds wees om op te maak vir al die prosedures wat uitgestel is nie.

Mediese fondse se jaareindes is einde Desember.

Leerkamp sê dit verskil van fonds tot fonds, maar eise kan tussen 5% en 20% laer as die begroting wees. Dit sluit die koste van Covid-19 in, wat beteken vergelykende eise sal eintlik persentasiegewys nóg laer as verlede jaar wees.

Sommige mediese fondse, soos dié met lede wat in die kleinhandelomgewing werk, het nie laer eise ervaar nie, moontlik omdat koswinkelgroepe as ’n noodsaaklike diens steeds sake gedoen het in die eerste deel van die inperking.

  

Verhogings

Mediese fondse se premiebydraes styg konstant ver bo verbruikersprysinflasie.

In 2019 was die gemiddelde bydraeverhoging 8,2%; dubbeld die gemiddelde verbruikersprysinflasie vir die jaar van 4,1%.

“Die RMS bly bekommerd oor hierdie neiging, want dit plaas ’n buitensporige finansiële las op lede en dien as ’n hindernis tot toegang vir nuwe lede,” lui die omsendbrief.

“Die groot verskil tussen premieverhogings en verbruikersprysinflasie skep bekostigbaarheidsprobleme, veral onder die heersende ekonomiese toestande, terwyl dit onwaarskynlik is dat salarisverhogings hiermee tred sal hou.”

Leerkamp meen verhogings vir 2021 gaan tussen 4,5% en 5,5% wees.

Die groot verskil tussen premie-verhogings en inflasie skep bekostigbaarheid-probleme, veral onder die heersende ekonomiese toestande, terwyl dit onwaarskynlik is dat salarisverhogings hiermee tred sal hou.

Samsodien meen omdat daar reeds verskaffers van gesondheidsorg is, soos dokters en hospitale, wat verhogings van tot 8% sal vereis, sal mediese fondse nie daarmee kan wegkom om geen verhoging te gee nie.

Hy meen dis moontlik dat sommige fondse sulke lae verhogings soos 3,9% tot 4% gaan hê, veral dié met hoë solvensieverhoudings. Gemiddeld sal dit tussen 4% en 6% wees, maar fondse wat finansieel sukkel sal hoër verhogings deurgee.

  

Reserwes

Alle bydraes wat oorbly nadat eise betaal is, gaan normaalweg na mediese fondse se reserwes. Volgens wet moet die reserwes 25% van jaarlikse bydraes beloop en word dit opsygesit vir ’n skielike toename in eise, soos wat vanjaar moontlik met Covid-19 beleef kon word.

Samsodien sê fondse met baie hoë reserwes wou dit al voorheen benut om premieverhogings laag te hou, maar dit is nooit toegelaat nie.

“Die RMS erken nou daar is finansiële druk op lede weens Covid-19, afleggings en salarisverlagings. Laer verhogings sal help dat minder lede verloor word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.