Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese dekking vir jou huiswerker? Hier is raad

Daar is mediese fondse en hospitaalplanne wat jy vir jou huiswerkers kan uitneem waardeur hulle lang toue by openbare klinieke kan vermy, skryf Letitia Watson.

  

huiswerkers
As jy mediese dekking vir jou huiswerker uitneem, moet jy seker maak jy verstaan wat dit alles dek.

Werkgewers wonder dikwels of hulle vir hul huiswerkers beter mediese dekking kan kry as openbare klinieke met lang rye en oorvol wag­lyste. Twee opsies om te oor­weeg, is hospitaalversekering en mediesefondsdekking.

“Dit hang grotendeels van werkgewers se begroting af en watter premie hulle kan bekostig om vir ordentlike mediese dekking te betaal,” sê Deon Heydenrych, ’n mediesefondsmakelaar van SecureMyFuture. Mediese fondse se dekking is meer omvattend, en hospitaalversekering se voordele is weer meer beperk.

Elke opsie se premie hang af van die hoeveelheid dekking wat dit bied, omdat hul uitsluitings en ekstra voordele kan verskil.

Mediese fondse

Die geskikste fondse sal inkomste-gegronde of kapitasie-opsies wees, wat die billikste is.

Ongelukkig kan jy nie jou huiswerker as ’n afhanklike op jou eie fonds plaas nie, tensy dit bloedfamilie is. Die huiswerker sal dus as hooflid geregistreer moet word, hoewel jy die premies kan betaal.

Ingevolge art. 34 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes kan werkgewers ’n bydrae tot ’n mediese fonds van die huiswerker se salaris aftrek. Jy moet dit eers skriftelik met die werknemer ooreenkom hoeveel afgetrek sal word.

Staatsmedikasie
Die departement van gesondheid het ooreenkomste met private maatskappye soos Pharmacy Direct om chroniese staatsmedikasie by sekere afhaalpunte beskikbaar te stel. Die doel is om opeenhoping by staatsklinieke te verminder. Die kliniek naaste aan jou sal vir jou kan sê waar jou huiswerker haar medikasie kan afhaal en hoe om dit te reël.

Met kapitasie-opsies gebruik die lid ’n vasgestelde netwerk van hospitale, dokters, tandartse en apteke. Dit sluit private hospitale in en gee onbeperkte dekking tydens hospitalisasie, sê Heydenrych.

Oor die algemeen is die dekking redelik omvattend mits jy die netwerkverskaffers gebruik.

Dit dek ook voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s). VMV’s is dienste en medikasie waarvoor jou mediese fonds die totale koste dra van die diagnose, behandeling en sorgkoste van sekere chroniese siektetoestande en mediese noodgevalle (dit is op www.medicalschemes.com gelys). Dié behandelings en sorg moet by die fonds se voorkeurverskaffers wees, anders is daar wel bybetalings.

Daar is wagtydperke, soos drie maande, sonder of met VMV-dekking; 12 maande vir spesifieke toestande, soos rugbeserings. Daar kan ook ’n laataansluitingsboete wees as die persoon al 35 jaar of ouer is en óf die eerste keer aansluit óf die vorige fonds meer as 90 dae tevore verlaat het. Mediese fondse sal dit uiteen kan sit.

Voorbeelde vir maandelikse premies vir hooflede op ’n kapitasieplan is Discovery se KeyCare Start-opsie (R839), Fedhealth se myFed-opsie (R916), BestMed se Pulse1 (R1 493) en Medihelp se Necesse (R1 965).

Gesondheidsversekering

Dit behels nie hospitaalversekering nie, maar dek doktersbesoeke en tot ’n mate oogkundige en tandartsbesoeke by ’n netwerk van verskaffers. Hoe hoër die premie, hoe meer omvattend is die dekking in die algemeen. Momentum het byvoorbeeld ’n Domesticare-produk van R273,60 per maand met onbeperkte doktersbesoeke deur die jaar by sy netwerk.

Hospitaalversekering

Dit is nie dieselfde as ’n mediese fonds se hospitaalplan nie. Dit is ’n polis wat kontant uitbetaal vir hospitalisasie en gewoonlik vir beperkte dag-tot-dag- mediese voordele. “Dit is meer bekostigbaar as mediesefondslidmaatskap, maar jy moet presies weet wat die dekking is. Dit is dikwels die geval van hoe kleiner die premie, hoe minder die dekking.”

Die uitbetalings is gewoonlik ’n vasgestelde bedrag per dag vir hospitalisasie en dit het ’n jaarlikse limiet, of beperkte bedrag, wat dit in totaal sal uitbetaal. Dit dek dus nie onbeperkte hospitaalkoste nie.

Heynderych sê die versekerde kan meestal net met noodgevalle ’n private hospitaal gebruik, alle ander hospitalisasie moet deur ’n openbare hospitaal wees.

Dit is dikwels die geval van hoe kleiner die premie, hoe minder die dekking.

Sekere polisse dek buite-hospitaalbesoeke en medikasie by ’n netwerk van dokters en apteke. Dit kan ook baie beperkte tandheelkundige en oogkundige voordele hê. Dit is alles net tot ’n beperkte bedrag.

Uitbetalings word gewoonlik regstreeks aan die diensverskaffer gedoen sodat daar nie enige bedrog plaasvind nie.

Daar is wagperiodes, maar dit is polisspesifiek, byvoorbeeld soos ’n wagtydperk van twee maande vir almal wat aansluit, of 12 maande vir eise vir spesifieke bestaande toestande.

Voorbeelde van maandelikse premies per hooflid is Unity Health se Primary + Hospital Care Plan C (R435), Health4Me se Health4MeGold (R286) en Discovery se Primary Care Advanced (R291).

Besering by die werk

Die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (Coida) sluit tans nog huiswerkers wat by private huise werk van die vergoedingsfonds uit, sê Anli Bezuidenhout van die regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr.

Die verwagting is egter dat dit in die toekoms verpligtend gaan word vir werkgewers om hul huiswerkers daarvoor te registreer.

Die fonds betaal uit vir beserings by die werk, in die geval van huiswerkers byvoorbeeld wanneer ’n huiswerker op ’n nat vloer gly en haar arm breek of ’n boom snoei en van die leer afval.

Meer oor:  Mediese Fondse  |  Huiswerkers  |  Huishulp  |  Huiswerker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.