Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fonds dok meer as R7 mjd. vir Discovery op

Discovery Health Medical Scheme (DHMS) betaal nie minder nie as tien filiale van die genoteerde Discovery-groep vir dienste wat hulle aan die skema bied.

The logo of Discovery
Die genoteerde Discovery-groep se filiaal Discovery Health verskaf talle dienste aan die mediese fonds wat 'n naam deel met hulle.

Die grootste mediese fonds in die land het sy openbaarmaking van verwante partye aansienlik uitgebrei vanjaar. In die vorige boekjaar, tot einde Desember 2017, is dienste met sewe verwante partye openbaar gemaak.

Dis van belang omdat DHMS – wat soos alle mediese skemas sonder winsbejag bedryf word – daarop geregtig is om dienste van enige mediesefondsadministrateur of ander verskaffer te kry, maar dit blyk dat die Discovery-groep –wat wel op winsbejag ingestel is – groot voordeel uit die verwantskap trek.

Dit totale bedrag wat DHMS in die 2018-boekjaar aan Discovery-filiale betaal het, het nagenoeg R7,4 miljard beloop, volgens dr. Nozipho Sangweni, hoofbeampte van die mediese fonds.

Die trustees voer aan ’n evaluasie wat hulle elke jaar doen sedert 2014 toon hoe Discovery Health meer waarde toevoeg met sy dienste as wat lede opdok daarvoor. 

Volgens Sangweni is die definisie van verwante partye in 2018 hersien en uitgebrei om alle entiteite in die Discovery-groep te toon met wie transaksies aangegaan is.

“Die definisie is gewysig na aanleiding van veranderinge in die Internasionale Finansiële Verslagdoeningstandaarde (IFRS) asook skakeling met die Raad vir Mediese Skemas (RMS) en ons ouditeure,” het sy gesê.

Tebogo Maziya, hoof van finansiële toesig van die RMS, het gesê daar is met die mediese fonds oor die openbaarmaking geskakel as deel van die roetine-monitering wat die raad uitvoer.

“Die mediese fonds het daarna met sy ouditeur geskakel en ingestem om sy openbaarmaking in ooreenstemming met die RMS se interpretasie te bring. Dit het tot die bykomende openbaarmaking gelei.”

Vier nuwe maatskappye in die groep word nou onder verwante partye openbaar gemaak. Een van die nuwe firmas op die lys is die makelaarsfirma wat die mediese fonds gebruik. Voorheen is net na “makelaars” verwys.

Die nuwe verwante partye is:

  • Discovery Life
  • Discovery Vitality
  • Discovery Connect Distribution Services (makelaars)
  • Discovery Central Services

Volgens Sangweni het transaksies tussen die mediese fonds en drie van die maatskappye reeds in die vorige jaar plaasgevind. Dit word dus nou vir die eerste keer openbaar gemaak.

Die mediese fonds het verlede jaar die eerste keer met Discovery Central Services ’n transaksie aangegaan. Dit is ’n volfiliaal van Discovery Health. Die mediese fonds huur sy nuwe kantoor by dié maatskappy.

Netwerk24 het teruggegaan tot in 2010 in die mediese fonds se jaarverslae om meer inligting oor die uiteensetting van die verwante partye te verkry.

Eers was daar drie

Dit toon van 2010-’13 is drie dienste onder die transaksies met verwante partye openbaar gemaak.

  • Die grootste twee, soos dit steeds is, was vir administratiewe dienste en gesondheidsorgbestuur. Albei dié kontrakte is met Discovery Health.
  • Die derde maatskappy was Discovery Third Party Recovery Services, ’n volfiliaal van Discovery Health wat geld invorder wat deur die Padongelukkefonds (POF, vir motorongelukke) en die Vergoedingsfonds (vir beserings in die werkplek) aan die mediese fonds verskuldig is.

Toe is daar vyf

In 2014 het die dienste gelewer deur verwante partye tot vyf aangegroei.

  • Southern RX Distributors, ’n volfiliaal van Discovery Health, het farmaseutiese dienste aan lede van die fonds begin verskaf.
  • Discovery Health het ook ’n diens aan die skema begin bied om die welstand van lede te monitor. Die welstandsdiens behels “leefstyl- en gesondheidsontledings” wat aan lede van die skema verskaf word.

Toe was daar ses

  • In 2015 het Grove Nursing Services wat ook as Discovery HomeCare, ’n volfiliaal van Discovery Health, bekendstaan, dienste begin lewer. Die organisasie verskaf behandeling tuis aan lede.

Toe was daar sewe

  • In 2016 is aangedui word dat makelaarsgelde aan Discovery Health betaal word.

Toe is daar tien

Hier is ’n uiteensetting van die dienste waarvoor die groep in 2018 betaal is. Dit sluit in wat in die boekjaar betaal is en uitstaande was aan die einde van die boekjaar:

1. Discovery Health vir administratiewe dienste: R4,8 miljard is reeds betaal en nog R446,3 miljoen is verskuldig. Dit bring geld betaalbaar vir die dienste vir die 2018-boekjaar op R5,3 miljard te staan.

2. Discovery Health vir gesondheidsorgbestuur: Die mediese fonds het in die boekjaar sowat R1,6 miljard hiervoor betaal.

3. Southern RX Distributors: R242 miljoen is betaal en nog ontvangbaar.

4. Discovery Connect Distribution Services: R58,8 miljoen is aan die makelaarsdiens betaal. Die jaarstate toon nou R40,7 miljoen is in die vorige jaar aan dié maatskappy betaal.

5. Discovery Third Party Recovery Services: R24,2 miljoen word in invorderingsgelde opgedok.

6. Discovery Health vir leefstyl- en gesondheidsontledings (voorheen welstanddienste): R16,4 miljoen.

7. Grove Nursing Services: R11,9 miljoen.

8. Discovery Central Services, ’n volfiliaal van Discovery Health, by wie sy kantoor gehuur word: Altesame R5,8 miljoen was in die boekjaar betaalbaar. Daarvan is ’n deel betaal en nog ’n deel verskuldig. Die kontrak is in Julie verlede jaar gesluit nadat die groep na ’n nuwe kantoor in Sandton verhuis het. Kantoorruimte is van 250 m² tot 575 m² vergroot. 

9. Discovery Vitality vir die lede wat besluit om by Vitality aan te sluit: R3,7 miljoen. Dit word as ’n “wetenskapsgegronde welstandsprogram” beskryf. In die vorige jaar is net R4 000 aan Discovery Vitality betaal.

Oor dié kwaai sprong sê Sangweni dit hou verband met Vitality-lidmaatskap wat “verkeerdelik” in DHMS se bankrekening inbetaal is.

10. Discovery Life: Die jaarverslag verskaf nie verdere inligting oor watter diens Discovery Life verskaf nie. Aan die einde van die jaar was ’n balans van R51 000 aan die lewensversekeraar verskuldig, teenoor die vorige jaar se R149 000.

Netwerk24 se berekeninge toon in die vorige jaar is R6,9 miljard aan die groep betaal vir die verwante partye wat toe openbaar is. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.