Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Siekefonds se hoof geskors hangende ondersoek
Die hoof van Resolution Health is geskors hangende 'n ondersoek.

Die hoof van die mediese fonds Resolution Health, Mark Arnold, is geskors hangende die uitslag van ’n ondersoek oor sekere aantygings.

Michael McGuigan, voorsitter van die raad van trustees, het dié nuus bevestig.

“Sekere aantygings het aan die lig gekom gedurende ’n inspeksie van die Raad op Mediese Skemas (RMS) en die raad het besluit dit is gepas om die aangeleenthede te ondersoek en dat die proses sy gang gaan,” het McGuigan gesê.

Die raad van trustees het ’n onafhanklike forensiese ondersoeker aangestel om die aantygings te ondersoek. Hy wou nie verdere kommentaar lewer nie.

Arnold het by navraag ook nie uitgewei waaroor die skorsing gaan nie.

Hy ontken egter dit hou verband met ’n inspeksie van die RMS waaroor onlangs berig is. “Die kennisgewing oor die skorsing het geen verwysings in oor aantygings wat uit die onafgehandelde RMS-inspeksie voortspruit nie.”

Hy ontken dat die kennisgewing detail van enige aantygings bevat.

Volgens hom het niemand van Resolution Health al ’n afskrif van die RMS se verslag oor sy onlangse inspeksie ontvang nie en weet hulle dus nie wat die bevindinge daarvan is nie.

Die RMS het in sy jaarverslag, wat onlangs uitgereik is, gesê hy het opdrag gegee dat ’n ondersoek by Resolution Health uitgevoer word. Dit volg ná ’n roetine-inspeksie wat aantygings oor onreëlmatighede getoon het.

Stephen Mmatli, die RMS se hoof van nakoming en ondersoeke, het daarna op ’n mediakonferensie oor die jaarverslag gesê die ondersoek hou verband met Resolution se uitvoerende hoof wat lenings aan personeel gegee het sonder om behoorlike prosedure te volg. Daar word ook gekyk na die raad van trustees wat nie hul fidusiêre pligte nagekom het nie met ’n kontrak met Agility, ’n maatskappy wat gesondheidsdienste administreer, waar nie bewys kan word dat hy betaal vir dienste wat gelewer word nie.

Volgens Arnold het Mmatli ’n paar weke gelede te kenne gegee dat daar niks in die voorlopige verslag is wat ’n samesmelting met die mediese fonds Spectramed kan pootjie nie.

’n Gesamentlike verklaring van Spectramed en Resolution Health is Maandagoggend aan die media gestuur oor hul samesmelting. Die RMS het nóg nie die samesmelting goedgekeur nie, maar dit is al deur lede goedgekeur.

Nieteenstaande het die twee fondse aangekondig die Health Squared Medical Scheme word op 1 Januarie uit hul samesmelting gebore.

“Die integrasie van die fondse sal hulle in ’n beter posisie plaas om beter waarde vir lede met gesondheidsorgverskaffers te onderhandel,” is in die verklaring gesê.

Die nuwe mediese fonds sal 11 opsies bied.

Die nuwe Health Squared sal ook deur die administrateur Agility Health bestuur word, wat tans die verskaffer van gesondheidsbestuur en administrasie vir Spectramed en Resolution Health is.

Die twee fondse se voorsitters, Steve Thobela van Spectramed en McGuigan van Resolution Health, het beloof die samesmelting gaan “wesenlike waardetoevoeging vir albei se lede meebring in die vorm van meer doeltreffendheid en skaalekonomieë”. Dit is veronderstel om beter premies te beteken.

“Health Squared beloof ’n kragtige alternatief waarna die mark vir jare soek. Dit is ’n goeie geleentheid om ’n fonds met ’n vars benadering bekend te stel wat gekenmerk word deur ’n omvattende reeks opsies wat ontwerp is om eenvoud te bied, sonder om keuse in te boet.”

Die voorsitters het nie verduidelik wat dit is wat hulle bied wat die mark soek nie.

Die jaarverslag van die RMS het getoon Resolution is een van die mediese fondse wat die afgelope jare ’n solvensieverhouding van ver onder die wetsvereiste het. Mediese fondse is verplig om 25% van hul jaarlikse premies in reserwe te hou. Resolution Health s’n het verlede jaar 15,2% beloop, wat ’n effense verbetering van die vorige jaar is.

Resolution het sowat 28 800 lede en afhanklikes en Spectramed amper 23 000.

Albei was onder die tien topfondse met die meeste klagtes. Spectramed was boaan die lys en Resolution derde.

Meer oor:  Mediese Fonds  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.