Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse: Covid-19 kan ‘wesenlike impak’ hê

Mediese fondse het reeds die somme begin doen oor die moontlike impak wat ’n uitbreking van die siekte Covid-19 op Suid-Afrika kan hê.

Mediese fondse bou reserwes op vir sulke gebeure, soos die uitbreking van ’n siekte wat tot ’n skielike en skerp verhoging in eise kan lei.

Dit is hoekom die Wet op Mediese Skemas vereis dat mediese fondse 25% van hul jaarlikse premies in reserwes moet hou.

Hoe werk die reserwes?

Lede wat belangstel in die finansies van hul mediese fonds, sal sien sy syfers toon jaarliks ’n oorskot of tekort nadat eise betaal is (dis soos ’n bedryfsverlies of -wins, maar omdat mediese fondse niewinsgewend is, verkies hulle om nie so daarna te verwys nie).

Mediese fondse stel normaalweg hul begroting (en premieverhogings) so op dat ’n oorskot gebruik kan word om die reserwes aan te vul as dit onder 25% is.

As dit nie nodig is om reserwes op te bou nie, kan fondse kleiner jaarlikse premieverhogings aan lede deurgee.

Net 16% van die Suid-Afrikaanse bevolking word deur mediese fondse gedek. Die res is op staatshospitale aangewese. Foto: iStock

Craig Comrie, hoofbeampte van Profmed, sê elke mediese fonds hou reserwes spesifiek vir gebeure soos hierdie. “Maar as ’n uitbreking te lank aanhou, kan daardie reserwes baie vinnig uitgeput word.”

Comrie sê die koste van ’n wydverspreide pandemie kan ’n wesenlike finansiële las op individue, mediese fondse en die regering plaas.

Net 16% van die Suid-Afrikaanse bevolking word deur mediese fondse gedek. Die res is op staatshospitale aangewese.

’n Volskaalse uitbreking sal die reeds sukkelende staatshospitale nog verder onder druk plaas.

Comrie sê hulle het verskillende scenario’s ondersoek om die moontlike impak van die virus se verspreiding te bepaal.

“Selfs al werk ons op ’n scenario dat net 10% van lede die virus opdoen, gaan dit reeds ’n wesenlike koste inhou.”

Die probleem is egter dat die werklike koste nog nie bekend is nie en die ramings “kan dus nie met redelike akkuraatheid gedoen word nie”.

Van die grootste koste-onsekerheid handel oor die koste van isolasie in hospitale.

Dit kan vir die 14 tot 21 dae in ’n private hospitaal enigiets tussen R40 000 en R50 000 per pasiënt kos, sê hy. Dít sluit nog nie die koste van enige mediese sorg in nie.

Mediese sorg in isolasiesale kan van normale tot intensiewe sorg wissel. Die koste van isolasie sal dus afhang van die behandeling wat nodig is.

Ergste scenario ‘vreesaanjaend’

Damian McHugh, hoof van verkope en bemarking van Momentum Health Solutions, sê in die ergste scenario gaan die kwarantynbehoeftes van ernstige siek pasiënte ’n wesenlike impak op koste hê.

Hy meen die koste sal afhang daarvan of kwarantyngeriewe buite hospitale opgerig kan word.

Ook Momentum Health Solutions het al sy somme gemaak op grond van verskillende infeksiekoerse. “Die ergste scenario se koste is vanselfsprekend redelik vreesaanjaend.”

McHugh sê oor die algemeen dek mediese fondse die koste van toestande op grond van hul reëls. Dit behels normaalweg dat enige behandeling buite die hospitaal uit spaarrekeninge of daaglikse voordele gedek word.

“As dit uitgeput raak, sal die mediese fonds, soos met enige ander behandeling, nie verder dag-tot-dag-dekking gee nie. As ’n lid nog voordele oor het, sal die fonds betaal.”

As ’n lid in die hospitaal beland, dek mediese fondse die koste soos normaalweg.

Lee Callakoppen, hoofbeampte van Bonitas Mediese Fonds, sê hulle is besig om ’n risiko-ontleding te doen en kan nie in hierdie stadium sê wat die moontlike koste kan beloop nie.

Meer oor:  Mediese Fondse  |  Koronavirus  |  Mediese Sorg  |  Mediese Toetse  |  Gesondheidsorg  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.