Mediese fondse gaan die entstof wat aan staatspasiënte toegedien word, subsidieer, bykomend tot meer as 7 miljoen lede en afhanklikes vir wie hulle ook gaan betaal.

’n Entstof teen Covid-19 word in ’n spuitnaald getrek. Foto: Reuters
Dr. Stavros Nicolaou, senior bestuurslid van die farmaseutiese maatskappy Aspen en hoof van die gesondheidstaakspan van Business for South Africa, ’n drukgroep van die private sektor oor pandemieverwante sake, sê die besonderhede word nog uitgewerk.
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandagaand gesê die regering het begin met ’n vennootskap met die private sektor en het mediese fondse genader om ’n medefinansier te wees.
“Die proses is nou in die stadium waar die Raad op Mediese Skemas met verskeie mediese fondse geskakel het en ek het wysigings aan regulasies onderteken om toe te laat dat entstowwe en ander behandelings deel van die voorgeskrewe minimum voordele sal wees.”
Die besonderhede word nog uitgewerk. Op die oomblik kan ons net sê dat mediese fondse daarna kyk om die staatssektor te subsidieer.
Nicolaou
Nicolaou sê die afgelope drie weke was die private sektor met die regering in verbinding om maniere te vind om die aankoop van ’n entstof te versnel en te vergemaklik en die “finansieringsgaping” toe te maak.
“Business for South Africa erken daar is geen dringender prioriteit tans as om die entstof te kry nie.”

Stavros Nicolaou
Suid-Afrika het reeds betaal om deel te wees van die Covax-program van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Covax verskaf ’n voertuig om vooraf-finansiering te gee aan farmaseutiese maatskappye om entstowwe te bekom. Suid-Afrika kry 6 miljoen dosisse van dié program.
Subsidiëring is nodig om 34 miljoen bykomende mense in te ent ten einde kudde-immuniteit te bereik, wat op tussen 65% en 70% van die bevolking geraam word, sê hy.
Dit moet binne ’n tydperk van 12 maande gebeur.
Daar is in beginsel ooreengekom met mediese fondse dat hulle 70% van hul eie lede en afhanklikes sal inent, naamlik 7,1 miljoen van hul 8,9 miljoen gedekte lewens, asook 7,1 miljoen van die ongedekte lewens in die formele arbeidsektor van 14 miljoen mense.
Dan ondersoek die sakesektor ook verdere moontlikhede om die res te finansier.
Taakspan
Business for South Africa se gesondheidstaakspan onder leiding van Adrian Gore, hoof van die Discovery-groep, voer gesprekke met die regering oor hoe die subsidiëring en finansiering gedoen kan word.
“Die besonderhede word nog uitgewerk. Op die oomblik kan ons net sê dat mediese fondse daarna kyk om die staatssektor te subsidieer.”
Nicolaou meen dit is waarskynlik dat die Solidariteitsfonds ’n rol gaan speel in die finansiering.
Wat die entstowwe gaan kos, is om verskeie redes nog heeltemal onseker.
“Ons weet nie watter entstof verkry gaan word nie. Ons glo die besonderhede sal teen die einde van die maand baie duideliker wees.
“Die sakesektor streef daarna om te kyk watter netwerke ingespan kan word om sowel die registrasie as die aankoms van die entstowwe te versnel.”