Mediese fondse hoop die markondersoek na private gesondheidsorg se voorlopige verslag wat Donderdag uitgereik word, gaan prysbeheer aanbeveel vir private hospitale en gesondheidsorg.
Die drukgroep die Health Funders Association (HFA) hoop verdere ingryping word aanbeveel in dié verslag, wat al jare lank sloer, om mediese fondse volhoubaarder te maak.

Lerato Mosiah, uitvoerende hoof van die HFA.
Lerato Mosiah, uitvoerende hoof van die HFA, sê die beoogde wysigings aan die Wet op Mediese Skemas wat dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, onlangs aangekondig het, gaan onbedoelde gevolge hê wat mediese fondse se voortbestaan in gedrang kan bring.
Wie is HFA?
Die HFA is einde 2017 gestig as ’n organisasie sonder winsbejag wat belangegroepe aan die finansieringskant van gesondheidsorg verteenwoordig.
Sy eerste jaarvergadering is einde Mei gehou. Al die groot mediese fondse (sien lede hier onder), waaronder Discovery Health Medical Scheme asook van die groot administrateurs, waaronder Discovery Health, is lede. Die HFA sê sy lede verteenwoordig sowat 53% van al die hooflede van mediese fondse.
Mosiah sê die wetsontwerp is daarop gemik om private gesondheidsorg bekostigbaarder te maak deur bybetalings op sekere voordele te verwyder en die wagtye wat fondse mag toepas, aan te pas.
“In isolasie gaan hierdie veranderings egter onbedoelde gevolge hê wat die voortbestaan van mediese fondse kan bedreig.”
Dit is belangrik om te verstaan mediese fondse gebruik sekere maatstawwe om hul risiko te bestuur om te verseker hulle bly volhoubaar.
Lerato Mosiah
Die HFA verwelkom dialoog, maar dit moet plaasvind met inagneming van die “breër prentjie en konteks”.
“Dit is belangrik om te verstaan mediese fondse gebruik sekere maatstawwe om hul risiko te bestuur om te verseker hulle bly volhoubaar. As daar in isolasie aan hierdie beperkte maatstawwe gepeuter word, gaan dit die erosie van reserwes versnel en mediese fondse met baie min opsies laat om volhoubaar te bly.”
Volgens Motsoaledi het mediese fondse sowat R60 miljard in reserwes terwyl fondslede in 2017 sowat R29 miljard opgedok het aan bybetalings. Die Wet op Mediese Skemas vereis dat reserwes 25% van jaarlikse premies moet beloop. Die reserwes is egter nader aan 33% van premies, sê Motsoaledi.
Hy meen mediese fondse het die afgelope jare onnodig hoë premieverhogings aan lede gegee om hul reserwes op te bou. Die Raad op Mediese Skemas (RMS) moet nou kyk na ander maniere waarop mediese fondse hul reserwes kan hou.
Die HFA se lede
Waar net die maatskappy se naam gegee word, verwys dit na dié onderneming se mediese fonds.
1. Bestmed
2. Bankmed
3. Resolution Health
4. Profmed
5. Discovery Health Medical Scheme
6. LA Health
7. Fedhealth
8. Momentum Health
9. Glencore
10. Medihelp
11. Topmed
12. Witbank Coalfields Medical Aid Scheme (WCMAS)
13. Malcor Mediese Fonds
14. Remedi Mediese Fonds
15. Tsogo Sun Mediese Fonds
16. Chartered Accountants Medical Aid Fund (CAMAF)
17. Alliance Midmed Medical Scheme
18. De Beers
19. SAB
20. TFG (The Foschini Group)
21. Selfmed
22. Die Universiteit van KwaZulu-Natal
23. Sasolmed
24. Die administrateur Discovery
25. Die administrateur Momentum
26. PPS Healthcare Administrators (PPSHA)
Van die ingrypings wat die HFA graag wil sien, is:
- Meganismes om dokters en hospitale se pryse doeltreffender te onderhandel; en
- Verpligte lidmaatskap van ’n mediese fonds van diegene wat meer as ’n sekere inkomste verdien.
Die HFA sê die Wet op Mediese Skemas kon ten spyte van sy beperkings lede op verskeie maniere beskerm. Dit sluit in dat daar nie teen lede gediskrimineer word op grond van die toestande waaraan hulle ly of hul ouderdom nie en dat elke lid geregtig is op ’n spesifieke stel voordele vir hospitale, noodgevalle en chroniese toestande.
Mediese fondse kla egter al jare lank dat die wet hulle verplig om ten volle te betaal vir minimum voorgeskrewe voordele, ongeag die prys wat daarvoor gevra word.
Die HFA meen ook fondse kan ’n groter rol speel om aan verbruikers beter toegang te gee tot gehaltegesondheidsorg. “Tussen mediese fondse, dokters en hospitale is daar voldoende data om inligting te kan publiseer wat verbruikers kan help om ingeligte besluite oor verskaffers te neem. Ons hoop die markondersoek besef dit en doen aanbevelinge aan die regering daaroor.”
Lerato Mosiah, uitvoerende hoof van die HFA:
Kwalifikasies: Onder meer ’n BSc honneurs en ’n B-graad in aptekerswese aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en ’n MBA van die Gibs-sakeskool.
Sy het 1993 as ’n apteker by Wits gekwalifiseer. Sy het 13 jaar se ondervinding in die farmaseutiese bedryf by Adcock Ingram, AstraZeneca, Norgine en Sekunjalo Health Care.
Sy het agt jaar bestuursondervinding en het ’n jaar lank as hoof van gehalte en wetskwessies by Afrox gewerk. Sy het twee jaar se bedryfsondervinding as stigter en eienaar van Leato Group.
Sy is ook ’n nie-uitvoerende direkteur van PSV, Force Fuel en Tafari Capital.