Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse: ‘Hou jul stygings láág, asb.’

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het nie net gevra dat mediese fondse hul bydraeverhogings vir 2021 bevries of tot die verbruikersprysinflasie (VPI) van 3,9% beperk nie. As die raad sy sin kry, sal mediesefondslede se maandelikse bydraes in 2022 met net 4,3% verhoog en in 2023 met net 4,5% in ooreenstemming met die verwagte VPI.

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) wil mediese fondse tot 2023 by die inflasiekoers hou.

Die raad beveel dié verhogings aan om die negatiewe impak van Covid-19 op verbruikers se geldsake te versag, maar sonder dat hulle mediese voordele inboet.

Van die land se grootste mediese fondse het die afgelope paar weke 2021-verhogings aangekondig wat ooreenstem met wat die RMS in ’n skrywe einde Julie gevra het, maar wys daarop dat mediese inflasie hoër is as die VPI én dat die syfer verskil van fonds tot fonds vanweë onder meer die demografie van lede.

Die raad is bekommerd omdat mediesefondsbydraes die laaste paar jaar met meer as VPI gestyg het. Die gemiddelde 2019-verhoging van 8,2% was dubbeld die gemiddelde VPI. Dít plaas onnodige finansiële druk op bestaande mediesefondslede én kan potensiële nuwe lede uitsluit.

Die RMS sê die uitwerking van Covid-19 kan verbruikers se finansies knou omdat baie mense geen salarisverhogings ontvang het nie. Boonop kan totale gesondheidsorgkoste vanjaar ’n geraamde 4% laer wees weens die uitstel van elektiewe prosedures weens die inperking.

Sommige fondse het ’n afname van tussen 20% en 40% in gewone gebruikspatrone gesien, grootliks vanweë die kansellasie van elektiewe operasies, minder diskresionêre mediese opnames, kansellasies van voorkomende gesondheidsorg en monitering en minder aansteeklike siektes in die wintermaande.

In 2018, die jongste beskikbare syfers van die RMS, het mediese fondse R157 miljard in eise uitbetaal.

Discovery Health Mediese Skema (DHMS), die grootste oop mediesefonds in die land met 2,78 miljoen begunstigdes, hou alle premies op alle planne onveranderd vir die eerste ses maande van 2021 omdat mediese inflasie van 0% verwag word.

Deon Kotzé, hoof van navorsing en ontwikkeling by Discovery Health, administrateur van DHMS en verskeie ander mediesefondse, sê die aktuariële span raam DHMS se reserwes sal einde vanjaar op R27 miljard staan. Dit is ’n solvensievlak van 32% teenoor die wetlike vereiste dat ’n mediese fonds 25% van sy bruto jaarlikse bydraes in reserwe hou.

Die raad is bekommerd omdat mediesefondsbydraes die laaste paar jaar met meer as VPI gestyg het.

Danksy dié goeie vlak kan DHMS verhogings vir die eerste ses maande van 2021 bevries sonder om voordele te verminder, sê Kotzé. Daar is wel aanpassings vir sekere voordele van 1 Januarie soos limiete en bybetalings wat styg. Kotzé meen dit kanselleer mekaar uit.

Gesondheidsorg en eise sal na verwagting in die tweede helfte van die jaar toeneem en daarom sal bydraes op 1 Julie 2021 verhoog word. Die verhoging sal in Mei 2021 aangekondig word. Dit sal dieselfde wees vir alle planne en niks meer as 5,9% (VPI + 2%) nie, aldus Kotzé.

Hy sê hoewel mediese inflasie volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) 4,8% is, is dit nié die inflasiekoers wat private mediese fondse gebruik nie omdat SSA openbare en private gesondheidsdienste insluit.

Mediese inflasie, gegrond op die verhoging in totale eise van een jaar tot die volgende, verskil van fonds tot fonds, verduidelik Kotzé. Verhogings in bydraes moet ’n fonds se mediese inflasie weerspieël vir die mediese fonds om volhoubaar te wees.

Die styging in totale eise word beïnvloed deur tariefverhogings (naby aan VPI), vraagkant-inflasie (eise is hoër omdat mense meer dokters en hospitale besoek weens fondslede wat ouer en sieker word) en aanbod-inflasie (hoër aanbod van gesondheidsorgdienste soos meer private hospitale, meer beddens, asook nuwer en beter medikasie).

Bonitas, die naasgrootste oop mediese fonds met sowat 723 000 begunstigdes, sê 2021-verhogings vir individuele planne wissel tussen 0% en ’n gemiddelde geweegde styging van 4,6%.

Lee Callakoppen, hoofbeampte, sê in ’n verklaring die grootste verhoging beloop 7,1%. Lede op Bonitas se groei-opsies, wat 91% van die sake uitmaak, sal verhogings van net 3,9% moet absorbeer. Callakoppen sê hulle het hard gewerk om die balans te vind tussen volhoubaarheid en bekostigbaarheid vir lede. Bonitas het ’n langtermynsiening geneem om lede te beskerm teen onredelik hoë verdere verhogings weens te lae verhogings vir 2021.

Momentum Mediese Skema se jaarlikse geweegde gemiddelde verhoging vir 2021-bydraes is 3,9%.

Damian McHugh, hoof van groei en bemarking by Momentum Health Solutions, wat Momentum Mediese Skema administreer, sê fondslede se gemiddelde ouderdom is laer as die gemiddelde vir die mediesefondsbedryf in die algemeen en daarom kon hy sy verhogings laag hou.

Meer oor:  Discovery  |  Bonitas  |  Verbruikersprysinflasie  |  Mediese Fondse  |  Gesondheidsorg  |  Premies  |  Eise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.