Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse krap kop oor subsidiëring van entstof

Mediese fondse krap nog kop oor hoe staatspasiënte wettig gefinansier kan word met mediesefondsgeld omdat hul geld net vir mediesefondslede gebruik mag word.

Ajil Hassna prepares the Pfizer-BioNTech vaccinati
Mediese fondse is in beginsel te vinde daarvoor dat hulle staatspasiënte subsidieer, maar dit moet ingevolge die Wet op Mediese Skemas gedoen word. Foto: AP

Dit het vroeër die maand bekend geword die regering het mediese fondse genader om met die finansiering van die entstowwe te help – vir mediesefondslede én ’n gedeelte van staatspasiënte.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het ook twee weke gelede aan die gesondheidsportefeuljekomitee in die parlement gesê die tesourie gaan die grootste deel van die entstofprogram betaal, maar twee ander finansieringsmeganismes word ook ondersoek, naamlik om mediese fondse te vra vir kruissubsidiëring en om skenkers en ondernemings te vra vir bydraes.

Dr. Katlego Mothudi, besturende direkteur van die bedryfsliggaam vir mediese fondse, die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF), sê die organisasie het met sy lede geskakel om ’n pad vorentoe te vind ten opsigte van die R6,8 miljard wat die regering gevra het mediese fondse moet opdok vir die finansiering van die entstof.

Regulasies ingevolge die Wet op Mediese Skemas is intussen gewysig wat dit moontlik gaan maak vir mediese fondse om ten volle vir hul lede se entstof te betaal omdat dit nou ’n voorgeskrewe minimum voordeel is.

Hy sê mediese fondse het die geld daarvoor.

Daar is ’n goeie argument te maak om van die geld te gebruik om die land te help om kudde-immuniteit te bereik. Maar die geld behoort aan lede en nie aan versekeraars nie.
Damian McHugh van Momentum

Dit is oor die kruissubsidiëring van staatspasiënte waaroor daar nog baie vrae is.

Netwerk24 het twee weke gelede berig die moontlikheid word ondersoek dat mediese fondse behalwe vir 70% van hul lede en afhanklikes te betaal wat eerste ingeënt moet word – sowat sewe miljoen van die 8,9 miljoen lede – ook vir soveel staatspasiënte moet help betaal.

Mothudi sê BHF se lede ondersteun in beginsel die konsep van maatskaplike solidariteit (waar armes deur rykes en siekes deur gesondes gesubsidieer word).

“Ten opsigte van die kruissubsidiëring is daar egter verskeie beperkinge op mediese fondse omdat die wet nie voorsiening maak vir die finansiering van gesondheidsdienste vir lede wat nie mediese skemas het nie.”

Mothudi sê die kruissubsidiëring word nog deur mediese fondse bespreek, asook tussen die bedryfsliggame en die regering.

“Daar is regulatoriese kopsere wat uitgestryk moet word omdat skemas nie toegelaat word om hul geld te bestee op niegeregistreerde mense nie.

“Daar moet ’n meganisme bedink word as ’n ooreenkoms bereik word.”

Mothudi se mediese fondse se trustees is besig om te vergader oor die voorstel dat mediese fondse staatspasiënte moet subsidieer. “Ons verwag om in die komende week of so van hulle te hoor.”

Damian McHugh, uitvoerende hoof van bemarking en verkope van Momentum Health Solutions, sê die reëls van fondse is baie streng oor waarvoor premies gebruik mag word en vir wie. Dit mag nie vir nielede gebruik word nie.

“As ons die entstof gaan subsidieer, moet ons dink aan ’n manier hoe dit moontlik is.”

Volgens hom glo hulle die beste manier hoe dit gedoen kan word, is om die stelsel van enkeluitgangpryse daarvoor te gebruik.

Medisynepryse word in Suid-Afrika beheer deur ’n enkeluitgangprys.

As mediese fondse dan meer betaal as wat die staat vir entstof betaal, vind kruissubsidiëring effektief plaas.

“Dit is die meganisme wat ons dink kan werk omdat ons nie regulasies hoef te verander nie.”

Mothudi bevestig dit is die oorheersende voorstel dat die subsidiëring plaasvind deur die enkeluitgangprys-meganisme.

“Dit is een van die voorgestelde meganismes, maar daar moet ’n balans wees ten opsigte van wat skemas kan bekostig. Dit kan nie in die algemeen toegepas word met al die skemas nie.”

Dit is mediese fondse se geld en behoort nie aan ’n Discovery of ’n Momentum nie. So die trustees sal deur die regte proses moet gaan om te verseker wat hulle doen is volhoubaar en wettig en goed vir lede.
Damian McHugh van Momentum

Solank dit op ’n deursigtige wyse gedoen word, kan die meganisme werk, sê McHugh. Dit sluit in dat die prys waarteen die regering die entstof koop, bekend gemaak moet word, asook wat die waarde van die kruissubsidiëring is. Die ander vraag is hoe groot die kruissubsidiëring gaan wees.

Mediese fondse is nie almal ewe gesond nie.

“Dit is mediese fondse se geld en behoort nie aan ’n Discovery of ’n Momentum nie. So die trustees sal deur die regte proses moet gaan om te verseker wat hulle doen is volhoubaar en wettig en goed vir lede.”

Hy meen as die subsidie billik is en ’n fonds se finansiële volhoubaarheid nie in gevaar gestel word nie, behoort die meeste trustees daarvoor te vinde te wees.

Hy meen mediese fondse wat finansieel sterk is, sal bereid wees om dit te doen omdat dit die hele land gaan help.

Die meeste mediese fondse het ook weens die inperking in 2020 beter gedoen as waarvoor begroot is en hul geldsake lyk beter.

LEES OOK: Mediese fondse: R17 mjd. se bedryfswins in pandemie

“Daar is ’n goeie argument te maak om van die geld te gebruik om die land te help om kudde-immuniteit te bereik. Maar die geld behoort aan lede en nie aan versekeraars nie.”

McHugh sê hulle maak nie planne om die entstof buite die regeringsproses te kry nie.

Hy sê dit is omdat dit gaan daaroor om kudde-immuniteit in die land te kry en omdat daar ’n tekort is aan die entstof sal dit verkeerd wees om ’n mediesefondslid onder 50 wat gesond is ’n entstof te gee terwyl iemand in die openbare sektor met komorbiditeite en ouer dit nie kan kry nie.

Volgens hom ondersoek Momentum Health wel wat kan gebeur as iets “verkeerd gaan” in die regering se aankoopplan. “Sodat as iets verkeerd gaan om die een of ander rede, of as Covax misluk, weet ons wie die verskaffers is met wie gepraat moet word. Maar dit is eintlik maar plan Z.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.