Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse moet stygings tot 4,2% beperk

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het mediese fondse aangeraai om die verhogings van hul lede se bydraes vir volgende jaar tot 4,2% te beperk.

Die Covid-19-waakeenheid in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Dit stem ooreen met wat die nasionale tesourie verwag die verbruikersprys-inflasiekoers volgende jaar gaan wees.

Dr. Sipho Kabane, registrateur van mediese skemas, sê ook indien dit moontlik is, moet laer verhogings aan die lede deurgegee word.

Hoewel mediese fondse nog voor die pandemie onder finansiële druk verkeer het en ’n hoër premieverhoging wil instel, sal dit behoorlik aan die RMS gemotiveer kan word.

Dit is egter onwaarskynlik dat enige mediese fonds se premieverhoging laer as die aanbeveling gaan wees. Mediese fondse se premies styg jaar ná jaar ver bo die inflasiekoers.

Verlede jaar is ook aanbeveel dat mediese fondse hul verhogings in ooreenstemming met die verwagte verbruikersprysinflasie tot 3,9% beperk. Die gemiddelde verhoging in bydraes vir 2021 het teen Oktober verlede jaar gelyk of dit rondom 5% is.

Dit was wel laer as waaraan mediesefondslede jare lank gewoond was.

Stygings bo inflasie

Die RMS bly steeds bekommerd oor die tendens dat premies baie meer as verbruikersprysinflasie styg.

In 2020 was die gemiddelde premieverhoging 7,6% – wat 4,6 persentasiepunte hoër as die gemiddelde verbruikersprysinflasie van 3% was.

“Dit plaas ’n onnodige finansiële las op lede van mediese skemas en skrik nuwe lede af,” sê hy.

Volgens hom gaan huishoudings nog in die afsienbare toekoms onder druk bly weens die ekonomiese toestande wat heers en deur die pandemie veroorsaak is.

Dr. Sipho Kabane, registrateur van mediese skemas.

Hy sê in die huidige ekonomiese toestande veroorsaak dit dat bydraes onbekostigbaar word vir lede, omdat jaarlikse salarisaanpassings nie met die premiestygings tred hou nie.

Mediese fondse is ook weer aangeraai om hul administrateurs en gesondheidsbestuurders volgende jaar dieselfde as vanjaar te betaal. Die RMS het verlede jaar hierdie tyd dieselfde aanbeveling gemaak.

Kabane het nie aangedui of hy suksesvol was met hierdie aanbeveling nie.

Reserwes kan benut word

Mediese fondse het hul reserwes verlede jaar te midde van die pandemie met miljarde rande verhoog omdat lede dokters minder besoek het, en minder vir ander siektes en operasies in hospitale opgeneem is.

Geld wat ophoop en nie aangewend word vir gesondheidsorg nie, word in reserwe gehou. Die wetsvereiste is dat reserwes 25% van die totale jaarlikse premies (die wetlik verpligte solvensieverhouding) moet beloop.

’n Paar mediese fondse se solvensieverhouding het in 2020 skerp gestyg en dit sal na verwagting vanjaar ook die geval wees omdat dieselfde toestande as verlede jaar geheers het.

Kabane is egter nie baie daarvoor te vinde dat dié reserwes benut word om kleiner premieverhogings deur te gee nie.

“Terwyl die gebruik van reserwes om lede te beskerm teen die stygende koste van medies ’n gepaste strategie is om lede teen onbekostigbare bydraeverhogings te beskerm, moet die besluit versigtig geneem word om te verseker dat die finansiële volhoubaarheid van die skema beskerm word.”

Hy noem ’n paar dinge waaroor kommer bestaan en wat tot meer eise in die toekoms kan lei:

Minder hospitaalopnames

Kabane sê hoewel die getal infeksies met elke vlaag in die pandemie styg, is daar ’n wesenlike daling in hospitaalopnames van gevalle wat nie met Covid-19 verband hou nie.

“Die pandemie het lede se gedrag om mediese dienste te benut, wesenlik verander. Daar word verwag dat die eise vanjaar laer as vorige jare gaan wees.

“Maar dit bly egter onduidelik hoe lank dit gaan voortduur. Gevolglik kan daar in die toekoms kostes wees vir die behandeling van sekere siektetoestande wat vertraag is omdat dit nie gedurende die pandemie gediagnoseer is nie.”

Die voortgesette simptome van Covid-19 of nuwe simptome wat laat in die loop van die infeksie kop uitsteek, word toenemend as ’n probleem erken.
Dr. Sipho Kabane van die Raad op Mediese Skemas

Hy verwys ook na die teorie dat daar ’n opgekropte vraag gaan ontstaan.

Opgehoopte vraag

“Die teorie van opgehoopte vraag behels dat verbruikers ná ’n tydperk van ’n gebrek aan toegang tot gesondheidsorgdienste teen ’n hoër koers toegang sal wil verkry as dié wat deurlopend toegang gehad het.”

Kabane meen namate die inentings toeneem en Covid-19-gevalle afneem, gaan onbehandelde mediese toestande potensieel duurder en meer komplekse ingryping vereis.

“Studies toon ook dat hospitaalopnames stadigaan herstel in lande wat verby ’n piek beweeg het, hoewel die benutting van verskeie dienste ver onder die vlakke van voor die pandemie is. Dit is waarskynlik dat sommige gesondheidsorg heeltemal nagelaat gaan word en dit gaan tot laer as begrote koste lei.”

Nasleep-simptome

Kabane is ook bekommerd oor lang-Covid-19.

“Gevolglik moet mediese fondse vir al hierdie scenario’s voorberei en vir die moontlike hoër eise wat regstreeks met die pandemie verband hou (waaronder lang-Covid-19).

“Die voortgesette simptome van Covid-19 of nuwe simptome wat laat in die loop van die infeksie kop uitsteek, word toenemend as ’n probleem erken.”

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) omskryf lang-Covid-19 as simptome wat 28 dae ná die aanvang van ’n akute infeksie met die virus voorkom.

Volgens hom toon empiriese inligting die voorkoms daarvan neem toe.

“Dit lyk of lang-Covid-19 waarskynlik ’n wesenlike effek op benutting van gesondheidsdienste gaan hê, hoewel die koste van die behandeling daarvan onbekend is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.