Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse ondersoek wat glo op ras fokus

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) gaan ’n ondersoek doen oor die bewering dat swart en Indiese dokters die teiken is van mediese fondse in ondersoeke oor bedrog.

mediese skemas
Die Raad op Mediese Skemas se manifes is gemik daarop om bedrog, misbruik en vermorsing in die bedryf hok te slaan. Foto: Pixabay

’n Groep swart en Indiese dokters wat onder die vaandel van die betreklik nuwe vereniging, die National Health Care Professionals Association (NHCPA), saamgekom het, het dié beweringe die afgelope week onder die media se aandag gebring.

Dr. Donald Gumede, voorsitter van die NHCPA, en Nomaefese Gatsheni, ’n maatskaplike werker, het op SABC se Morning Live onder meer beweer ’n lys van name word tussen mediese fondse rondgestuur met net swart en Indiese dokters se name op waarmee nie sake gedoen moet word nie.

Die RMS sal ook die bewering van ’n swartlys ondersoek, asook dat vertroulike kliniese inligting van praktisyns versoek word van mediese fondse, dat hulle geboelie en geteister word, dat verstrikking of uitlokking gebruik word, en dat geheime kameras gebruik word om dan die gedrag van die dokters te verfilm.

Die RMS wil die ondersoek binne vier maande afhandel.

’n Vergadering is verlede week deur die RMS belê waar amptenare van die NHCPA, Discovery, Medscheme, Metropolitan, Government Employees Medical Scheme, die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV), die Raad van Gesondheidsfinansiers (RGF) en die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) ooreengekom het om ’n bestuurkomitee te stig. Die komitee sal uit verteenwoordigers van mediese fondse en administrateurs, asook diensverskaffers en reguleerders, bestaan.

Dr. Clarence Mini, voorsitter van die RMS, het gesê daar is na die klagtes en aantygings in die media geluister en daar word met die diensverskaffers se lot gesimpatiseer.

Mini het gesê daar is ook na die skemas en die administrateurs geluister.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat ons wetstoepassing ingevolge die Wet op Mediese Fondse plaasvind wat skemas en administrateurs bemagtig om spesifieke stappe te doen om lede se geld teen bedrog, vermorsing en misbruik te beskerm.

“Die doel van hierdie wetgewing is om skemas van insolvensie te beskerm en ’n onbekostigbare styging in premies jaarliks te verhoed.”

Mini het gesê indien daar ’n aanduiding is dat skemas en administrateurs enige wetsartikel oortree en die inligting word aan die RMS verskaf, word dit ondersoek en ’n inspeksie word gedoen.

Die ondersoekspan sal uit twee dokters bestaan wat forensiese agtergrond het, ’n aktuaris, ’n projekbestuurder, ’n kundige oor mediese etiek, twee regskenners, nog ’n forensiese persoon, ’n data-ontleder en ’n kommunikasiepersoon.

“Ons wil hierdie kwessie nou vir eens en vir altyd oplos, want die uiteindelike slagoffer is die mediesefondslid.”

Ons wil hierdie kwessie nou vir eens en vir altyd oplos, want die uiteindelike slagoffer is die mediesefondslid.
Dr. Clarence Mini, voorsitter van die Raad op Mediese Skemas

Na raming beloop bedrog in die gesondheidsbedryf sowat R22 miljard per jaar.

Die SAMV het in ’n verklaring gesê enige optrede teen mediese praktisyns op grond van ras word ten sterkste afgekeur.

“Ons neem kennis van die aantygings oor rassisme, boelietaktieke en afpersing van mediese praktisyns deur mediese fondse. Die SAMV is verbind daartoe om ’n belangrike rol te speel in die bestuurskomitee wat geskep is om die aantygings te ondersoek,” het dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die SAMV, gesê.

Coetzee het gesê die SAMV stem saam met die siening dat wetsartikel 59 van die Wet op Mediese Fondse hersien en opgedateer moet word.

Die wetsartikel handel oor die eise van verskaffers en hoe dit gehanteer moet word.

Subartikel 3 handel oor geld waarop ’n verskaffer nie geregtig is nie of geld wat ’n mediese fonds verloor deur diefstal, bedrog, nalatigheid of ’n misdryf. Die geld mag van enige voordeel wat betaalbaar is aan die verskaffer afgetrek word.

Dit is duidelik dat die klagtes oor artikel 59 reeds vir jare plaasvind.

Die RGB het in Augustus 2017 ’n riglyn aan praktisyns uitgereik waarin gesê is die raad word “al lankal oorval met verontwaardiging van beroepsmense wat onderhewig is aan afpersing en wat deur mediese fondse gedwing word om erkenning van skuld en ooreenkomste te teken om die geld aan mediese fondse terug te betaal wat na bewering bedrieglike aan die praktisyn betaal is”. In die riglyn is meer duidelikheid verskaf oor hoe artikel 59 toegepas moet word.

Die administrateur van mediese fondse, Medscheme, het in ’n verklaring die ondersoek verwelkom.

Medscheme het volgens FANews in ’n verklaring gesê die ondersoek sal die aantygings dat swart en Indiese praktisyns geteister, uitgebuit en hul eise teruggehou word op grond van ras “ontmasker”.

Anthony Pedersen, uitvoerende hoof van Medscheme, het gesê dit is ’n geleentheid om te bewys hy teiken nie verskaffers op grond van ras nie.

“Ons maak op fluitjieblasers staat en ons eie voorspellende ontledingstelsel, wat bloot op die praktyknommer van ’n verskaffer staat maak. Ons hou nie rasdemografie oor mediese praktisyns aan nie.”

Volgens Pedersen het die NHCPA voorheen ’n hooggeregshofsaak gebring teen Medscheme en ander fondse, insluitende die RMS, waarin die hof versoek is om te verklaar dat sy forensiese metodes onwettig is. Die hof het die saak afgewys en vrae gehad oor hoe die NHCPA saamgestel is.

Meer oor:  Medscheme  |  Mediese Skemas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.