Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse se bates ‘móét NGV toe skuif’

Die bates van mediese fondse moet na die Nasionale Gesondheidsversersekering (NGV) geskuif word, het parlementslede Dinsdag van die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) gehoor.

Staatsinstellings lyk gretig om hul hande op die R90 miljard te lê wat mediese fondse in reserwe het.

Die RGB, wat ingevolge wetgewing opgerig is en verantwoordelik is vir die registrasie van gesondheidspraktisyns, het aan die eerste openbare sitting oor die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die parlement deelgeneem.

Terselfdertyd meen die Raad op Gesondheidsfinansiers (BHF), wat mediese fondse en administrateurs as lede het, die wetsontwerp sal grondwetlike regsgedinge tot gevolg hê – onder meer omdat dit die reg op toegang tot gesondheidsorgdienste gaan beperk weens die beperking op wat mediese fondse sal mag dek.

Die kabinet het die wetsontwerp in Julie 2019 goedgekeur om in die parlement ter tafel gelê te word.

LEES OOK: Kabinet sê ja vir wetsontwerp oor NGV-plan

Die wetsontwerp is daarna in Augustus vir kommentaar uitgereik en openbare sittings het reeds in die verskillende provinsies plaasgevind.

LEES OOK: Nuwe NGV-wet: Mediese fondse só beperk

Prof. Mbulaheni Simon Nemutandani, voorsitter van die RGB, sê vir NGV om te werk, moet daar net een finansierder van gesondheidsorgdienste in die land wees.

“Dit is noodsaaklik dat die fonds alle finansieringsmeganismes in die land vervang. Die NGV moet oorneem van mediese fondse en alle bates van mediese fondse moet oorgedra word na die fonds.”

Mediese fondse is verplig om ingevolge regulasies onder die Wet op Mediese Fondse die oorblywende bydraes van lede in reserwe te hou.

Dié opgehoopte fondse het einde September meer as R90 miljard beloop.

Nemutandani sê ook die NGV moet met die belasting van alle werkendes in Suid-Afrika gefinansier word.

Hy meen dat die Wet op Mediese Fondse heeltemal geskrap moet word en dat die aanvullende mediese dekking wat verbruikers toegelaat word om te koop, onder die versekeringswette moet val.

Grondwetlike probleme

Michelle Beneke, maatskappysekretaris van die BHF, sê talle grondwetlike aangeleenthede is in die wetsontwerp geïdentifiseer wat problematies gaan wees.

Dit sluit in dat die wetsontwerp die grondwetlike verantwoordelikheid van provinsies ten opsigte van die verskaffing van gesondheidsorg, wil wegneem. “Die NGV-wetsontwerp gaan provinsiale regerings ten slegste probeer systap en ten beste hul verantwoordelikhede verskuif om net sekere tipes gesondheidsdienste aan te koop.”

Sy sê daar is ook ’n gebrek aan duidelikheid oor die rol wat mediese fondse gaan speel en hoe hul aanvullende rol gaan werk en wanneer dit moet intree.

“Dit is die regering se verantwoordelikheid om toegang tot gesondheidsorg te verbeter en nie te verminder nie.”

Ons glo ook nie die NGV gaan die probleem met die gehalte van sorg oplos nie. Die gehalte van sorg is ’n wesenlike struikelblok vir die NGV.
Michelle Beneke van die BHF

Nog ’n grondwetlike probleem wat kan ontstaan is oor die reg van praktisyns om hul beroep te beoefen en of hulle hul beroep sal kan beoefen as hulle nie deur die NGV gekontrakteer word nie.

Die wetsontwerp bepaal ’n roete van verwysing moet gevolg word vir die NGV om vir ’n diens te betaal, anders word daar nie betaal nie. Ook as iemand nie ’n geakkrediteerde verskaffer gebruik nie, betaal die NGV-fonds nié.

Maar terselfdertyd bepaal die wetsontwerp mediese fondse mag net vir aanvullende dienste gebruik word. Iemand kan dus nie versekering kry vir ’n diens wat by ongeakkrediteerde verskaffers verkry word nie.

Beneke meen die aanvullende rol wat die wetsontwerp vir private gesondheidsorgverskaffers kan meebring, gaan tot werkverliese ly en ’n situasie waar gesondheidsorgverskaffers oor die landsgrens praktyke oprig en dit tot “gesondheidstoerisme” kan lei.

Volgens haar sluit die grondwetlike probleme wat hulle voorsien ook in hoe swak die wetsontwerp geskryf is, omdat dit onduidelikheid en onsekerheid skep.

Dit bevat oorgangsreëlings wat eerder in beleidstukke hoort, en besonderhede oor vergoedingsmodelle wat eerder in regulasies hoort.

“Ons glo ook nie die NGV gaan die probleem met die gehalte van sorg oplos nie. Die gehalte van sorg is ’n wesenlike struikelblok vir die NGV.”

Potensiaal vir korrupsie

Charlton Murove, navorsingshoof van die BHF, sê die kontrakteringseenhede wat vir primêre gesondheidsorg geskep gaan word, gaan duplisering veroorsaak van ’n funksie wat provinsies veronderstel is om te hanteer. Dieselfde geld die distriksgesondheid-bestuursorganisasies wat die wetsontwerp in die vooruitsig stel.

Om korrupsie te vermy, vra die BHF dat die rol en magte van die minister van gesondheid beperk word.

Die BHF glo dié organisasies en eenhede is onnodig en gaan ’n onregverdige bykomende administratiewe koste vir die stelsel meebring.

Die NGV-fonds moet ideaal gesproke net in die finansiering en kontraktering betrokke wees en nie in die verskaffing van gesondheidsorg nie, volgens die BHF.

Hy is ook bekommerd oor geleenthede vir korrupsie wat die enkele fonds vir die finansiering van gesondheidsorg gaan skep.

Die BHF se voorstelle sluit in wysigings wat beter korporatiewe bestuur in die vooruitsig stel.

Dit sluit in dat die rol en magte van die minister van gesondheid beperk word. Die BHF wil hê dat die direksie van die fonds outonoom en onafhanklik moet wees, en immuun teen politieke invloed.

Openbare sittings oor die NGV-wetsontwerp het reeds van laat 2019 tot vroeg in 2020 in die onderskeie provinsies plaasgevind.

Volgens dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die portefeuljekomitee, is daar ná die openbare sittings versoeke van meer as 130 organisasies gekry om mondelingse voorleggings oor die wetsontwerp te doen.

Die Suid-Afrikaanse Apteekraad (SAPC) en die Nasionale Raad op Verpleegkunde (SANC) het ook voorleggings gemaak.

Hulle albei ondersteun die NGV en die wetsontwerp, maar het ook talle voorstelle vir wysigings gemaak.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.