Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse sit op berg kontant weens pandemie

Mediese fondse het einde Junie op ’n berg kontant gesit wat in reserwe gehou word nadat die staat van inperking en vrese oor die koronavirus mense van dokters en hospitale weggehou het.

Hospitale was net halfvol die afgelope maande omdat Covid-19-gevalle nie opgemaak het vir hoeveel minder opnames daar was na operasies gestop is nie. Foto: Pixabay

’n Verslag oor die finansiële stand van die mediesefondsbedryf wat deur die Raad op Mediese Skemas (RMS) uitgereik is, gee vir die eerste keer insig oor wat in die bedryf gebeur het sedert die koronaviruspandemie begin het.

Dit toon mediese fondse het einde Junie R87,1 miljard se reserwes gehou, sowat 19% meer as die R73,2 miljard einde verlede jaar. Dit is amper 16% meer as waarvoor begroot is.

Minder eise as verwag

Luidens die verslag was mediese fondse se besteding aan gesondheidsorg in die eerste ses maande van die jaar 15% minder as begroot vanweë ’n skerp daling in eise.

Die werklike besteding aan gesondheidsorg het in dié tydperk met bykans 8% tot R78,9 miljard gedaal vergeleke met die ooreenstemmende ses maande verlede jaar.

Hospitaalgroepe het berig dat hul hospitale halfleeg was het omdat operasies uitgestel is. Ander faktore, soos minder motorongelukke tydens die streng vlakke van inperking, het ook daartoe bygedra.

In hoe ’n mate rem aangeslaan is met eise, kan ook gesien word in die persentasie van premies wat aan gesondheidsorg bestee word.

Mediese fondse

Dié syfer boer normaalweg bo 90% omdat mediese fondse se bydraes juis daar is om aan gesondheidsorg bestee te word. Dit het in die tydperk skerp geval tot 78,9%. (Sien die meegaande grafiek.)

Dit was beduidend minder as die 92,4% waarvoor begroot is en verlede jaar se 91,8% einde Junie.

Omdat eise soveel minder as verwag was, het dit die bedryf einde Junie, nadat ander bedryfsuitgawes betaal is, met ’n bedryfsurplus van R12,6 miljard gelaat.

Dit is vergeleke met ’n bedryfstekort van R1,4 miljard waarvoor begroot is en die oorskot van R1 miljard einde 2019.

Ingesluit beleggingsinkomste, het mediese fondse ’n surplus van R13 miljard gehad. Dit is 880% meer as die R1,3 miljard waarvoor begroot is.

Einde verlede jaar het mediese fondse met ’n surplus van R7 miljard gesit.

LEES OOK: Mediese skemas oorskat eise in 2017 met miljarde

Dit beteken R13 miljard van lede se bydraes gaan tot die reserwes van mediese fondse bygedra word.

Solvensievlakke ver bo vereiste vlak

Die verslag beantwoord die vraag hoe skerp die solvensievlakke van mediese fondse gestyg het nadat eise tot stilstand geruk is.

Mediese fondse

Kragtens wetgewing moet mediese fondse 25% van hul jaarlikse bydraes in reserwe hou. Hul begrotings word so opgestel dat die reserwes jaarliks aangevul kan word indien nodig.

Die reserwes word gehou vir ongewone gebeure wat tot hoë eise kan lei sodat mediese fondse nie sonder geld sit om hospitale en dokters te betaal nie.

’n Mens sou verwag dat ’n pandemie presies so ’n ongewone gebeurtenis is, maar dit is nie wat gebeur het nie.

Die solvensieverhouding (reserwes as persentasie van jaarlikse bydraes) het einde Junie tot 39,5% opgeskiet van 33,4% in die ooreenstemmende tyd ’n jaar gelede. Dit is die hoogste vlak sedert 2000.

Dié van geslote mediese fondse het einde Junie 47% beloop teenoor 40% ’n jaar gelede. Geslote mediese fondse het in 2008 ’n solvensieverhouding van 49,7% gehad.

Oop mediese fondse s’n het 33,7% beloop vergeleke met 28,5% ’n jaar gelede. Dit is die hoogste vlak sedert 2000.

Ledetalle daal

Daar word verwag dat die ekonomiese probleme wat die pandemie en verwante inperkings veroorsaak het, verdere werkverliese gaan veroorsaak en dat mediese fondse van hul lede gaan begin verloor.

Die lidmaatskap van die bedryf stagneer al vir ’n paar jaar omdat daar net soveel mense in Suid-Afrika is wat in die formele arbeidsektor werk en premies vir die meeste Suid-Afrikaners onbekostigbaar is.

Van einde Desember tot einde Junie het die totale getal hooflede en afhanklikes met 0,3% of 27 435 tot 8,92 miljoen gedaal. Hiervan het die getal hooflede met 13 000 gedaal.

Meer oor:  Raad Op Mediese Skemas  |  Rms  |  Solvensieverhouding  |  Mediese Fondse  |  Reserwes  |  Pandemie  |  Eise  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.