Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse skarrel saam met staat vir entstof

Die reuse-administrateur van mediese fondse Discovery Health verwag ook eers ’n entstof teen die koronavirus in die land in die tweede kwartaal, soos wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër aangekondig het.

entstof
Boris Johnson, premier van Brittanje, Woensdag in Wrexham, Wallis, met ’n buisie van die AstraZeneca-Oxford University COVID-19-entstof, wat bekend is as AZD1222. Foto: Reuters

Terwyl die kritiek instroom teen die regering omdat hy nie genoeg doen om entstof vinniger in die land te kry nie, is een van die vrae wat baie mense het hoekom mediese fondse nie entstof self invoer vir hul lede nie.

Mediese fondse skarrel egter saam met die staat om entstowwe vir mense in Suid-Afrika te kry. 

Discovery Health, wat die grootse mediese fonds in die land bestuur, sê hy werk saam met die regering, vennote in die private sektor en die Solidariteitsfonds om ’n entstof “vir alle Suid-Afrikaners en nie net lede van mediese skemas nie, te verseker”.

Dit word nie op sy eie gedoen nie, maar saam met vennote om “billike toegang” tot die entstof vir almal in die land te bewerkstellig.

Ook Momentum, ’n ander groot administrateur van mediese fondse is, is deel van die sakesektor se inisiatief om entstof te kan verskaf.

LEES OOK: Mediese fondse sit op berg kontant weens pandemie

Die rede is waarskynlik dat mediese fondse te klein is om vir hul 9 miljoen lewens te onderhandel vir 'n entstof midde die mededinging wêreldwyd vir 'n entstof. 

Ronald Whelan, kommersiële hoof van Discovery Health, het in Desember aan die nuusmedia gesê hulle hoop om ’n entstof teen die middel van die jaar te kry omdat dit van internasionale vraag en aanbod afhang.

Vandeesweek het hy aan Bloomberg gesê “ ’n realistiese verwagting is iewers in die tweede kwartaal”.

Dit is Suid-Afrika se besending entstowwe as deel van die Covax-program van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarvoor reeds ’n deposito betaal is, wat eers in die tweede kwartaal verwag word.

Alternatiewe is nodig

Die Solidariteitsfonds – wat gestig is om die regering se reaksie op die pandemie te ondersteun en wat finansiering en skenkings van ryk individue en groot maatskappye ontvang, het die aanvanklike betaling van R283 miljoen aan Covax gemaak nadat die ooreenkoms deur Suid-Afrika onderteken is.

Volgens Bloomberg sal dit R2,7 miljard kos vir Suid-Afrika om sy volle toewysing van ses miljoen dosisse van Covax te ontvang – wat genoeg is vir 10% van die bevolking.

Sandra Lindsay is die eerste persoon in Amerika wat die inenting ontvang het. Sy is ’n verpleegster by die Long Island Jewish Medical Center. Dr. Michelle Chester dien die entstof toe. Foto: Reuters

Ramaphosa sê bilaterale gesprekke vind met talle farmaseutiese maatskappye plaas om ’n ooreenkoms te bereik om “bykomende entstowwe te kry wat nodig is om die kudde-immuniteit in die land op te bou”.

Volgens hom word dít in vennootskap met die sakesektor gedoen sodat die nodige finansiering vir die addisionele entstowwe gekry kan word.

Die sambreelorganisasie vir die gasvryheidsbedryf Fedhasa het ook by die regering gepleit om die verkryging van ’n entstof te bespoedig sodat die land nie as ’n internasionale toerismebestemming agtergelaat word nie.

Fedhasa beskou die aankondiging dat die entstof eers in die tweede kwartaal beskikbaar gaan wees, as ’n vertraging.

“Dit gaan Suid-Afrika beduidend benadeel as dit kom by die herstel van vertroue in internasionale toerisme,” sê Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa.

Anderson hoop die Oxford-AstraZeneca-entstof, wat ook in Suid-Afrika getoets word en wat die afgelope week goedgekeur is vir gebruik in Brittanje, sal ’n entstof in Suid-Afrika gouer ’n realiteit maak. Sy sê dit is goedkoper as dié van Pfizer en Moderna en is makliker om koud op te berg.

Die presidensie het Sondag aan Bloomberg gesê Pfizer en BioNTech het aangebied om 50 miljoen dosisse aan gesondheidswerkers in Afrika te verskaf, maar dit is eers van Maart af tot die einde van die jaar.

Moderna het geen voorraad vir Afrika nie, terwyl AstraZeneca ook vanjaar geen voorraad vir die vasteland het nie.

Volgens die presidensie het AstraZeneca die Afrika-Unie verwys na die serum-instituut van Indië, wat die entstof namens hom maak.

Gesprekke vind plaas met Johnson & Johnson wat tans ’n entstof toets in Suid-Afrika en beplan om 300 miljoen dosisse in ’n fabriek van Aspen in die land te vervaardig wanneer dit goedgekeur is.

Johnson & Johnson “het nie verduidelik of Afrika gaan voordeel trek uit die entstowwe wat in Suid-Afrika vervaardig word nie”, sê die presidensie.

“Ons moet nog oor ’n prys onderhandel wat bekostigbaar is.”

Baie duur entstof

Discovery Health Mediese Skema (DHMS) se raad van trustees het reeds die finansiering goedgekeur wat beoog word om vir die entstowwe te betaal.

“Discovery het geld opsygesit vir lede van die skema om die entstof te kry wanneer dit in Suid-Afrika beskikbaar is. Die geld is van die bestaande beskikbare fondse binne die skema.”

Volgens die maatskappy praat hy met verskillende vervaardigers wêreldwyd om ’n beter begrip te kry van wanneer entstowwe goedgekeur en vervaardig gaan word, asook wat dit moontlik gaan kos.

Daar is groot prysverskille tans met die verskillende entstowwe. “Daarom het die mediese skema ’n konserwatiewe benadering gevolg om te verseker dat hy genoeg geld beskikbaar het om alle lede van die skema in te ent wanneer dit in Suid-Afrika beskikbaar is.”

Volgens Discovery Health het nog net DHMS se raad van trustees, van al die mediese fondse wat hy administreer, die finansiering vir die entstof goedgekeur.

“Die raad van trustees van die ander fondse wat deur Discovery Health geadministreer word, oorweeg tans soortgelyke finansiering van inentings vir hul lede.”

Discovery Health sê inenting sal geprioritiseer word op grond van mediese inligting en die nasionale protokolle, en sal waarskynlik begin by gesondheidswerkers, individue met ’n hoë Covid-19-risiko, en dan ander lede.

Die finansiering is nie tans ’n voorgeskrewe minimum voordeel nie, maar die mediese skema sal dit ’n voordeel maak wat aan alle lede van die skema beskikbaar is.

Meer oor:  Pfizer  |  Discovery  |  Mediese Fondse  |  Solidariteitsfonds  |  Entstof  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.