Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse skop vas teen nóg regulering

Die Omsigtigheidsowerheid wil in die toekoms ook toesig hou oor pensioenfondse, mediese fondse en effektetrusts.

Kuben Naidoo, uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid. Hy is ook een van die adjunkpresidente van die Reserwebank.

Kuben Naidoo, uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid (in Engels bekend as die Prudential Authority of PA), het Donderdag met die bekendstelling van die PA-jaarverslag gesê wetgewing maak op medium- tot lang termyn voorsiening dat pensioenfondse, effektetrusts en onderlinge hulpverenigings na die PA oorgedra kan word.

Die finansiële sektor word sedert verlede jaar in twee strome gereguleer: Die PA kyk na die finansiële gesondheid van instellings en die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) reguleer die gedrag van rolspelers in die mark.

Unathi Kamlana, verantwoordelik vir beleidsformulering by die PA, het benadruk dat die PA nie noodwendig besorg is oor die finansiële gesondheid van pensioenfondse nie.

Die PA se toesigrol kan ook tot mediese fondse uitgebrei word, het Kamlana gesê. So ’n stap kan egter omstrede wees.

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het onlangs sy “teleurstelling, irritasie en besorgdheid” uitgespreek oor pogings om aspekte van die mediesefondsbedryf wat hy tans reguleer, ook onder die FSCA se gesag te plaas.

Die RMS het heftig beswaar gemaak teen die voorgestelde wetsontwerp wat die gedrag op finansiële instellings (Cofi) gaan reguleer. Hulle sê in hul voorleggings mediese fondse is ’n unieke produk wat nie met ander versekeringsprodukte vergelyk kan word nie en mediesefondsmakelaars moet ook eerder onder die RMS se gesag bly.

Die RMS hou ook toesig oor die finansiële gesondheid van die land se mediese fondse en reserwes – iets waarmee hy dalk meen die PA sal inmeng.

Die RMS sê oor die Cofi-wetsontwerp dit sal sy gesag as onafhanklike reguleerder van mediese fondse ondermyn.

Kommentaar oor die voorgestelde wetsontwerp het op 1 April geëindig.

Die PA hou nou toesig oor onder meer 234 banke, onderlinge banke, versekeraars, herversekeraars en koöperatiewe finansiële instellings.

Die owerheid hou ook toesig oor die finansiële gesondheid van markinfrastruktuur soos aandelebeurse en verrekeningshuise.

Die PA het op 1 April verlede jaar tot stand gekom.

Sy jaarverslag toon:

  • In die jaar tot einde Maart 2019 het die banksektor (geregistreerde banke en plaaslike takke van internasionale banke) se bates met 8,7% gestyg tot R5 654 miljard (2018: R5 201 miljard). Die styging word toegeskryf aan ’n styging in bruto lenings en voorskotte toegestaan.
  • Banke se likiditeitsvoorsienings-ratio (die deel hoogs likiede bates wat ’n instelling hou om te verseker hy kan sy deurlopende verpligtinge op kort termyn nakom) is bo die minimum vereiste van 100% op 142,4%.
  • Volgens Kuben oorheers die vyf groot banke steeds die banksektor en hou saam 90,5% van die totale bates. Plaaslike takke van internasionale banke maak 5,6% uit en ander banke 3,8%.
  • Die PA het in die 2018-’19-boekjaar 27 lisensieaansoeke van finansiële instellings ontvang. Daarvan is een onttrek, sewe goedgekeur, drie afgekeur en 16 is nog nie afgehandel nie. Verskeie nuwe digitale banke soos TymeBank en Discovery Bank het onlangs begin.

Suzette Vogelsang, ’n lid van die PA se bestuurskomitee, het gesê hulle is nog besig met die verwerking van Bank Zero se aansoek vir ’n lisensie.

Volgens Naidoo sal nuwe tegnologie en sakemodelle van onder meer digitale banke mededinging en inklusiwiteit in die banksektor aanhelp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.