Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese fondse verwag 15% van lede gaan ophou betaal
ngv, mediese fonds,
Mediese fondse verwag lede gaan onder druk wees om hulle te betaal. Foto: Unsplash

Mediese fondse verwag hul lidmaatskap gaan met gemiddeld 15% daal omdat hul lede weens die impak van die koronaviruspandemie nie meer hul premies sal kan bekostig nie.

Dit is een van die bevindinge van ’n peiling wat NMG Actuarial & Specialised Consulting onder mediese fondse gedoen het.

Volgens Rod Leerkamp, hoofkonsultant van NMG, verwag geslote fondse dat hul lidmaatskap met gemiddeld 11% gaan daal, en oop fondse verwag ’n gemiddelde daling van 17%.

Oop mediese fondse verwag gemiddeld ook 9% minder nuwe lede gaan hier aansluit.

Leerkamp sê die verwagting dat hulle lede gaan verloor omdat mense nie meer hul premies sal kan bekostig nie, het daartoe gelei dat feitlik alle oop mediese fondse een of ander vorm van hulp aan hul lede oorweeg ten opsigte van hul bydraes. Net sowat twee derdes van geslote fondse oorweeg hulp aan hul lede.

Volgens hom glo die meeste fondse eise wat met Covid-19 verband hou, gaan ’n wesenlik impak op hul totale eise hê.

Sommige fondse het die afgelope twee weke ’n verdubbeling in die getal Covid-19-gevalle gehad.
Rod Leerkamp

Leerkamp sê met die styging in gevalle begin Covid-19-eise mediese fondse al hoe meer kos.

Hulle het nie vir dié eise begroot nie omdat niemand verlede jaar geweet het ’n pandemie lê voor nie.

“Sommige fondse het die afgelope twee weke ’n verdubbeling in die getal Covid-19-gevalle gehad.”

Die peiling het bevind ’n daling in eise vir nienoodsaaklike mediese dienste het daartoe gelei dat eise tydens die inperking in April en Mei wesenlik laer as die verwagting was.

Mediese fondse verwag eise vir die tydperk April tot Junie gaan tussen 20% en 34% laer as verwag wees.

Hulle verwag nagenoeg die helfte van die eise wat nie gedurende die inperking gerealiseer het nie, is uitgestel en gaan later in 2020 plaasvind.

Die meeste verwag dat eise van vandeesmaand af gaan terugkeer na die normale tendense.

Die styging in eise wat met Covid-19 verband hou, was die grootste bron van kommer van die mediese fondse wat aan die peiling deelgeneem het.

Nog ’n groot bekommernis is die daling in die opbrengs op hul beleggings weens die swak markte en die impak van die pandemie op die ekonomie. Mediese fondse belê elke jaar hul surplusgeld (wat oorgehou word van premies nadat eise en ander bedryfskoste betaal is), omdat ’n sekere bedrag geld in reserwe gehou moet word.

Dié beleggingsportefeuljes het van einde Desember tot einde April met gemiddeld 8% gedaal. Oop fondse het ’n groter daling van 30% aangemeld, wat volgens NMG daarop dui dat hulle ’n aggressiewer beleggingstrategie gevolg het. “Baie van hulle oorweeg dit nou om hul beleggingstrategie te wysig.”

Geslote fondse se persepsie van die regering se reaksie op die pandemie is neutraal, terwyl daar onder oop fondse uiteenlopende persepsies is. Sowat 55% het meer geneig tot die mening dat dit ’n “totale mislukking” is.

Meer oor:  Mediese Fondse  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.