Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese inflasie: Dis nié jou dokter se skuld nie

Die skerp styging in mediesefondspremies is nie jou dokter of hospitaal se skuld nie – dié diensverskaffers het verlede jaar hul tariewe net met die inflasiekoers verhoog.

Lede van mediese fondse word ouer en ook sieker, wys Discovery Health se syfers.

Die eintlike rede is dalk eerder dat lede van mediese fondse ouer en sieker word én dat duurder tegnologie en medisyne ontwikkel word.

Dié dinge het die vraag na mediese dienste verlede jaar met die meeste tot nog toe laat styg sedert dit gemeet word – met 5,9%.

Saam met die 5,2%-styging in mediese tariewe beteken dit mediese inflasie was 11,1%.

Dis volgens Discovery Health se nuutste indeks van mediese inflasie, ’n maatstaf van hoeveel méér die Discovery Health Medical Scheme (DHMS) aan eise moes uitbetaal.

Die styging in eise het ’n regstreekse impak op lede van mediese fondse omdat nagenoeg 90% van premies gebruik moet word om eise te betaal.

Die mediese inflasie van 11,1% is effens laer as die gemiddelde mediese inflasie oor tien jaar (van 2008 tot 2018), wat 11,3% beloop het.

Dis egter meer as dubbeld die jaar se gemiddelde verbruikersprysinflasiekoers van 5,1%.

Discovery wys daarop dat die koste van mediese dienste verlede jaar met gemiddeld 5,2% gestyg het. Dokters en hospitale het hul tariewe met net 5,1% verhoog – dieselfde as die inflasiekoers – en voorskrifmedisyne het met net 1,3% duurder geword. Die verhoging van 1 persentasiepunt in belasting op toegevoegde waarde in April het ook bygedra om mediese tariewe te laat styg.

Die styging in mediese inflasie is dus nié dokters of hospitale se skuld nie: Die groot rede is die styging in die vraag na dienste.

Die 5,9%-styging in die vraag na dienste verlede jaar was baie meer as die gemiddelde styging van 4,8% van 2008 tot 2018.

Die vraag na dienste word op sy beurt onderverdeel in twee faktore: vraagkant- en aanbodkant-inflasie.

Vraagkant-inflasie, wat 2,9% beloop het, word volgens Discovery Health grootliks veroorsaak omdat mense wat aan mediese fondse behoort, al hoe ouer word.

“Met elke jaar wat lede gemiddeld ouer is, styg eise met nagenoeg 2% tot 3% per jaar omdat ouer individue meer gereeld siek word en meer gesondheidsdienste gebruik.”

Mediese skemas se lede verouder omdat die swak ekonomie beteken minder jong mense kry vaste werk. Baie jong mense mét werk stel ook uit om lid te word van ’n mediese fonds omdat dit so duur is.

Volgens Discovery het net 5 000 mense (hooflede en hul begunstigdes) in die nege maande van Januarie tot September 2018 by oop mediese fondse in die land aangesluit. Dis die netto aansluitings, dus aansluitings minus die mense wat uit fondse bedank het of wat gesterf het.

Om die probleem te vererger, is daar ’n skerp styging in chroniese siektes, insluitend diabetes en hoë bloeddruk, en ernstige siektes soos kanker onder lede van mediese fondse.

Discovery sê een uit vier DHMS-lede is vir een of meer chroniese toestand geregistreer. Dit is 61% méér as in 2008.

Mense met chroniese toestande eis byna vier keer meer as mense sonder chroniese toestande.

DHMS-lede met kanker het sedert 2010 verdubbel.

Aanbodkant-inflasie het verlede jaar 2,4% beloop. Dié styging word aangedryf deur die opening van nuwe hospitale, maar ook deur nuwe, duurder tegnologie en medisyne.

Discovery noem as voorbeeld die koste vir die behandeling van melanoom (velkanker). In die verlede is dit met chemoterapie behandel teen ’n koste van R6 500 per kursus. Deesdae is ’n soort immunoterapie, Yervoy, beskikbaar, maar een kursus daarvan kos R880 000.

“Die bekendstelling van dié soort hoëkostemedisyne het daartoe gelei dat drie keer meer mense per jaar meer as R1 miljoen per jaar van DHMS eis in die afgelope vyf jaar.”

’n Meer omstrede aspek van aanbodkant-inflasie is die skerp styging in die getal private hospitale in die land. In die bietjie meer as twee jaar van Januarie 2016 tot Maart 2018 het 2 200 meer hospitaalbeddens beskikbaar geword; dis dieselfde getal beddens as in die ses jaar van 2010-’15. Dit het DHMS R855 miljoen méér gekos.

Die indeks is bereken op grond van die eise van DHMS se nagenoeg 2,8 miljoen lede, wat 32% van alle lede van mediese fondse in die land verteenwoordig en 56% van alle oop mediese skemas.

mediese inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2484,77 (9054)
  • Top 40 48545,62 (-10133)
  • All Share 54280,79 (-10551)
  • Resource 10 42993,1 (-27592)
  • Financial and Industrial 30 73252,99 (-2724)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.