Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Mediese koste: Só gaan pryse beheer word

Een van die grootste aanbevelinge van die markondersoek oor koste in die private gesondheidsorgbedryf is ’n nuwe liggaam waar pryse vir die dienste wat praktisyns lewer, onderhandel en vasgestel gaan word.

Die markondersoek oor koste in die private gesondheidsorgbedryf se finale verslag van 260 bladsye, wat die bevindinge en aanbevelinge insluit, is Maandag ná die jare lange ondersoek uitgereik.

Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Oudregter Sandile Ngcobo, hoof van die ondersoekpaneel, het gesê een van die kwessies wat talle male onder hul aandag gebring is, is die onsekerheid oor pryse in die bedryf en dat dit een rede is vir die verhoging van koste in die private gesondheidsorgbedryf.

Dit is as gevolg van ’n besluit van die mededingingskommissie van 2004 om kollektiewe bedinging te stop. Tot 2003 het onderhandelinge tussen mediese fondse en praktisyns sentraal tussen die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) en die Raad op Gesondheidsfinansiers (BHF) plaasgevind.

Huidiglik besluit mediese fondse eensydig watter mediesefondstarief hulle bereid is om te betaal en praktisyns aanvaar dit in ruil daarvoor om regstreeks betaal te word of hulle vra ’n hoër prys, en die pasiënt moet vir die verskil opdok. “Ons het bepaal dat hierdie benadering tot die bepaling van praktisyns se tariewe negatief is vir die mark. Dit veroorsaak onsekerheid onder verbruikers en potensiële bybetalings.”

Die vakuum in tariefbepaling tesame met ander probleme in die mark (soos die betaling van voorgeskrewe minimum voordele teen koste) dra by tot mediese skemas se uitgawes op spesialiste wat oor tyd verhoog het. “Die koste word aangeskuif na die verbruiker deur middel van hoër premies, minder dekking en bybetalings.”

Ngcobo het gesê die markondersoek wil nou die “prysvakuum” wat ontstaan het, uit die weg ruim met die aanbeveling dat ’n forum vir multilaterale onderhandeling geskep word onder die vaandel van ’n nuwe reguleerder van gesondheidsverskaffers. (Lees die berig op Netwerk24 oor die nuwe reguleerder van verskaffers.)

Ngcobo het gesê die verskil met die vorige kollektiewe onderhandelinge is dat die forum onder die nuwe reguleerder sal dien sodat die mededingingswet nie oortree word nie.

Tembinkosi Bonakele, kommissaris van mededinging, het gesê hy hoop die “mededingingskommissie het nou sy skuld terugbetaal met die 2004-besluit”.

“Ons het gesê kollektiewe bedinging is ’n probleem in terme van die mededingingswet. Maar wette het nie altyd ’n billike nagevolg nie. Die nagevolg word wyd erken as problematies. Ek hoop die verslag sal dit nou finaal oplos.”

Ons het gesê kollektiewe bedinging is ’n probleem in terme van die mededingingswet.
Tembinkosi Bonakele

Die multilaterale onderhandelingsforum sal die maksimum pryse vir voorgeskrewe minimum voordele bepaal en verwysingspryse sal vir die res van die gesondheidsdienste bepaal word.

Die finale aanbeveling oor die multilaterale onderhandeling verskil van verlede jaar se aanvanklike verslag dat rolspelers inligting aan die nuwe reguleerder sal verskaf, wat dan op grond daarvan sal bepaal wat die tariewe is.

Die ander verskil van die voorlopige verslag is dat die verwysing na praktisyns ook nou patoloë en radioloë insluit.

Nog ’n groot verskil is dat hospitale se pryse ook uitgesluit gaan word van dié onderhandelinge.

“Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat daar minder van ’n vakuum is ten opsigte van die onderhandeling tussen mediese fondse en hospitale en beveel aan dat die huidige bilaterale onderhandelinge tussen hulle (oor pryse) voortgaan.”

Praktisyns sal ook die multilaterale onderhandelde verwysingspryse en die bindende pryse vir voorgeskrewe minimum voordele kan omseil deur bilaterale onderhandelinge met mediese fondse solank die onderhandelinge “waarde-gebaseerde kontrakte tot gevolg het wat duidelik tot voordeel van mediese fondse se lede is”.

Hoewel hospitale uitgesluit word en bilaterale onderhandelinge mag doen, sal hul kontrakte en die van praktisyns wat só onderhandel is aan die Raad op Mediese Skemas (RMS) en die nuwe reguleerder van gesondheidsorgverskaffers voorgelê word vir goedkeuring om “groter deursigtigheid te bewerkstellig” en om die mark te druk in die rigting van alternatiewe vergoedingsmodelle.

“Die regulatoriese liggame sal die verantwoordelikheid hê om seker te maak dat al hierdie kontrakte ná drie jaar uitsluitlik op alternatiewe vergoedingsmodelle gegrond is.”

Dit is deel van die aanbevelings om meer mededingende kontraktering mee te bring en weg te beweeg van vergoeding op ’n betaling-vir-diens-gelewer-grondslag en om innoverende alternatiewe vergoedingsmodelle aan te moedig.

“Ons sien bilaterale onderhandeling as noodsaaklik vir kontraktering wat op waarde vir geld gegrond is.”

Goed vir verbruiker

Belangrik vir verbruikers is dat die nuwe reguleerder ’n opdrag vir die onderhandelinge kan stel wat kan insluit dat dit die welstand van verbruikers ten doel moet hê.

Die opdrag sal die voorwaardes stel waarteen die onderhandeling beoordeel sal word. Die voorwaardes mag insluit die maksimum gemiddelde tariefverhoging; die maksimum aanvaarbare verhoging in besteding of selfs besteding per spesialiteit.

Sodra die rolspelers ’n ooreenkoms bereik het, sal die uitslag deur die nuwe reguleerder gepubliseer word.

Diensverskaffers sal dit ook in hul spreekkamers moet publiseer op ’n manier wat verbruikers kan verstaan.

Ten opsigte van hospitale wat uitgesluit word, besef die markondersoek daar is nadele omdat die reguleerder nie oor die onderhandelinge toesig gaan hou nie en die burgerlike samelewing nie sal kan deelneem nie en insette tot voordeel van die verbruiker nie gelewer gaan word nie.

“Maar ons glo die koste en onbedoelde gevolge van onderhandeling sal swaarder weeg as die potensiële voordele vir kleiner hospitale en kleiner mediese fondse.”

Ter wille van deursigtigheid beveel die markondersoek aan dat hospitale ’n omvattende pryslys op hul webtuistes publiseer en by die persele vir pasiënte wat nie versekering het nie sodat hulle weet wat die basiese tarief is.

Die markondersoek glo ook die nadele van hospitale wat by die multilaterale onderhandeling uitgesluit word, word met sy ander aanbevelings uit die weg geruim.

Tussentydse reëling

Omdat die markondersoek besef dit gaan lank neem vir die multilaterale onderhandelingsforum en nuwe reguleerder om opgerig te word, word aanbeveel dat die minister van gesondheid regulasies vir die publisering van “riglyn-tariewe” opstel.

Die minister moet ’n regulasie afvaardig vir die RMS om ’n “onderhandelingsomgewing vir mediese fondse en praktisyns” te bestuur.

“Die RMS moet in konsultasie met mededingingsowerhede en rolspelers se verteenwoordigers die opdrag stel vir die gewenste uitslag van die onderhandeling.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.