Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Medisyne peperduur oor ‘maklike’ patente
Die gebruik van generiese medisyne pleks van die oorspronklike is nou 59,9%.

Suid-Afrika staan veel makliker patente én sekondêre patente vir nuwe medisyne toe as ander lande, wat veroorsaak dat medisyne hier baie duur en dikwels onbekostigbaar is vir mense wat dit nodig het, sê belangegroepe.

Patente op nuwe medikasie geld 20 jaar, maar sekondêre patente vir klein veranderings aan dosisse of gebruiksaanwysings van middels, kan dié tydperk tot 36 jaar verleng, sê Fix the Patent Laws (FTPL), ’n koalisie van 40 pasiëntgroepe wat hom beywer vir hervormings aan patentwetgewing om medikasie in Suid-Afrika meer bekostigbaar te maak.

Terwyl die patente daar is kan generiese alternatiewe wat in sommige gevalle tot 23 keer goedkoper is, nie die land binnekom nie. Dit benadeel pasiënte – veral in ’n land waar sowat 80% van die bevolking op openbare gesondheidsorg aangewese is, skryf Catherine Tomlinson van FTPL in die Junie-uitgawe van die South African Medical Journal.

Tomlinson verwys na navorsing dat Suid-Afrika tussen 2000 en 2002 93% van patente waarvoor aansoek gedoen is, toegestaan het vergeleke met 61% in Amerika, 51% in Europa en 29% in Japan vir soortgelyke aansoeke.

In die artikel bepleit sy en haar mede-outeurs vinniger hervormings aan patentreg tot voordeel van baie siek mense.

Hulle het vier gevallestudies van middels gedoen wat patentbeskerming in Suid-Afrika het terwyl veel goedkoper generiese weergawes elders gebruik word vir toestande soos veelvuldige miëloom (’n vorm van bloedkanker wat wyd voorkom), hepatitis B en longkanker.

  • Lenalidomide, wat in die behandeling van veelvuldige miëloom gebruik word, het 32 sekondêre patente in Suid-Afrika wat almal in minstens een ander land onttrek of verwerp is. In Suid-Afrika kos Celgene se gepatenteerde lenalidomide R729 379 per jaar, terwyl die generiese middel in Indië R31 072 per jaar sal kos. Lenalidomide is ook nie in Suid-Afrika se staatshospitale beskikbaar nie.
  • Entecavir, vir die behandeling van hepatitis B, het ’n sekondêre patent wat die middel nog tien jaar beskerming gee nadat die oorspronklike patent verstryk. In Suid-Afrika sal ’n jaar se behandeling tussen R33 354 en R66 695 kos, teenoor hoogstens R8 759 vir die generiese middel in Indië.
  • Die jaar lange behandeling vir ’n soort longkanker met die gepatenteerde erlotinib kos R317 313 in Suid-Afrika, teenoor R24 042 per jaar vir die generiese middel in Indië.

Tomlinson verwelkom in die artikel die kabinet se goedkeuring verlede jaar van fase 1 van die beleid op intellektuele eiendom, maar FTPL is steeds besorg oor die gebrek aan belangrike tegniese besonderhede, soos duidelike kriteria vir patenteerbare produkte. FTPL vra ook dat daar ruimte gegee word vir ondersoek van en teenkanting teen patente en vir verpligte lisensiëring.

Die burgerregte-organisasies Section27 en die Institute for Economic Justice het die afgelope week in ’n ope brief aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en Tito Mboweni, minister van finansies, ook vir die hervormings gevra.

As lid van die Wêreldhandelsorganisasie is Suid-Afrika kragtens die ooreenkoms oor handelsverwante aspekte van intellektuele eiendomsregte (Trips) verplig om vir 20 jaar patentbeskerming aan nuwe ontwikkelings te gee, maar uitsonderings is geregverdig wanneer dit kom by nasionale gesondheid – soos dat verpligte lisensies vir sekere medikasie gegee kan word sonder die toestemming van die patenthouer.

Suid-Afrika het nog nooit die opsie van verpligte lisensies gebruik vir medikasie nie, skryf Tomlinson.

Mandi Krebs, ’n senior assosiaat by die regsfirma Hogan Lovells, en haar kollega Abrianne Marais, sê om medisyne meer bekostigbaar te maak, oorweeg die regering ’n stelsel om die prys van sekere medikasie en geskeduleerde middels in pas te bring met internasionale norme.

Konsepregulasies oor so ’n metodologie is reeds in 2014 vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer, maar nou lyk dit of die proses stilstaan, sê sy.

Die regering wil feitegegronde vergelykings van standaardbehandelings gebruik om vir beter medisynepryse te kan onderhandel en dus te verseker dat Suid-Afrikaners nie méér betaal vir medikasie wat hul eweknieë in ander lande goedkoper kry nie.

Dr. Varsha Bangalee van die Universiteit van KwaZulu-Natal sê die voorgestelde lande vir vergelyking is Australië, Kanada, Nieu-Seeland en Spanje omdat elk van die lande ’n reguleerder het wat die gehalte van medikasie lisensieer en verseker dat hulle toeganklike gestruktureerde prysinligting het wat ware pryse weerspieël en wat gereeld bygewerk word.

Marais sê een van die voorstelle om plaaslike pryse in pas te bring met internasionale pryse is dat die laagste prys in ’n uitgesoekte mandjie van lande as die uiteindelike norm gebruik word. Dit sal daartoe lei dat pasiënte minder vir medisyne betaal.

Meer oor:  Gesondheid  |  Patente  |  Mediese Koste  |  Medisyne  |  Gesondheidsorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2108,36 (4736)
  • Top 40 52107,18 (37382)
  • All Share 58248,73 (37621)
  • Resource 10 46948,1 (58001)
  • Financial and Industrial 30 77928,13 (37579)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.