Die administrateur van die mediese fonds Medscheme het weer die kontrak gekry om die Government Employees Medical Scheme (Gems) se gesondheidsorgbestuur vir die volgende vyf jaar te doen.
Medscheme is deel van die genoteerde AfroCentric.
Gems het verlede jaar R817,9 miljoen aan geakkrediteerde sorgbestuurders bestee waarvan die kontrak vir gesondheidsorgbestuur net een was.
Volgens AfroCentric sluit die nuwe kontrak bykomende dienste in wat nie voorheen deel van die hoof-gesondheidsorgbestuurskontrak was nie, naamlik MIV-, kraam- en medisynebestuur.
Die totale jaarlikse inkomste wat Medscheme vir al die dienste gaan ontvang, beloop R630 miljoen.
Sewe sorgbestuurooreenkomste word in sy 2019-jaarstate aangedui waarvan Medscheme die gesondheidsorgbestuursdienste gedoen het.
Chroniese medisyne, tandheelkunde, nooddienste en MIV-, kraam- en medisynevoordeelbestuur was in dié tyd aan ander ondernemings toegeken.
“Medscheme was weer die voorkeurkeuse vir hierdie deel van Gems se dienste wat uitgekontrakteer word, wat aandui ons kliënt ervaar die waarde wat ons bied,” sê AfroCentric.
Die kontrak het op 1 Januarie begin.