Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Meer as 13 200 Dinsdag in SA hospitale met Covid-19

Daar was Dinsdag 13 211 Covid-19-pasiënte in hospitale in Suid-Afrika, luidens die daaglikse hospitaalverslag van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).

’n Week gelede was dié syfer 11 817.

Die hoogste getal Dinsdag was in KwaZulu-Natal, naamlik 3 482 teenoor 2 800 ’n week tevore. Dit het van Maandag af met 100 toegeneem.

Netcare sê sy hospitale in KwaZulu-Natal ervaar steeds ’n ongekende toename in die vraag na hospitalisasies.

In Gauteng, die provinsie met die tweede meeste Covid-19-pasiënte in hospitale, was die toename van Maandag tot Dinsdag 106.

Netcare het Woensdag in ’n verklaring gesê daar is ’n verwagte, maar “onrusbarende” toename in hospitaalopnames in Gauteng.

So lyk die verskillende provinsies se syfers Dinsdag (vergeleke met ’n week gelede):

1. Oos-Kaap: 1 741 (1 791)

2. Vrystaat: 299 (261)

3. Gauteng 3 316 (2 549)

4. KwaZulu-Natal: 3 482 (2 800)

5. Limpopo: 291 (264)

6. Mpumalanga: 218 (219)

7. Noordwes: 446 (348)

8. Noord-Kaap: 193 (205)

9. Wes-Kaap: 3 225 (3 380)

Van die gehospitaliseerde pasiënte kry 3 867 (3 755) suurstof. Daar is tans 1 802 Covid-19-pasiënte in waakeenhede (1 572) en 652 op ventilators (639).

Die jongste weeklikse verslag wat Vrydag uitgereik is vir week 52 (die week tot 26 Desember) wys sedert die begin van die pandemie is daar al 133 679 Covid-19-pasiënte in hospitale opgeneem, waarvan 23 223 dood is.

Die totale getal opnames in week 52 – 9 894 – is meer as die vorige hoogtepunt in week 29.

Sedert die tweede vlaag begin het, het die weeklikse opnames en sterftes in sowel die Oos- as die Wes-Kaap reeds dié van die eerste vlaag oortref.

Die Oos-Kaap se weeklikse opnames daal egter reeds vier weke agtereenvolgens, luidens Nios se verslag.

Netcare ondervind dieselfde in sy hospitale, terwyl ’n plato in die Wes-Kaapse syfers waargeneem word.

Die hospitaalgroep wag egter vir ses weke se data om ’n besliste tendens te identifiseer.

Life Healtchare sê met die tweede vlaag word meer pasiënte daagliks opgeneem as met die eerste vlaag.

Die getal pasiënte in die hospitaal op een dag het ook reeds die hoogste getal van die eerste vlaag oorskry.

“Hospitale in al ons streke ervaar wesenlike druk ten opsigte van beskikbare plek in waak- en hoësorgeenhede,” sê dr. Charl van Loggerenberg, hoofbestuurder vir noodmedisyne.

Watter data word ingesluit?

Daar is 625 hospitale wat inligting verskaf – 250 private hospitale en 375 staatshospitale.

Volgens die Nios word alle private en staatshospitale wat Covid-19-pasiënte inneem, by sy data ingesluit

Hy sê die vermoë hang van talle faktore af, nie net gevalle en beddens nie, maar die beskikbaarheid van personeel (verpleërs, spesialiste en ander gesondheidsorgwerkers).

Life Healtchare het ook personeel herontplooi na plekke waar dit nodig is en bykomende toerusting vir suurstof is verkry.

Die mediesefondsadministrateur Medcsheme sê ’n ontleding van sy data vir week 52 dui daarop dat die Oos- en die Wes-Kaap verby hul piek kan wees, maar dat hospitaalopnames in KwaZulu-Natal, Gauteng en Limpopo daagliks met gemiddeld 8% gestyg.

Dit stem ooreen met die Nios se weeklikse verslag.

Dr. Lungi Nyathi, Medscheme se besturende direkteur van mediese versekering en advies, sê sy inligting wys die volgende gebiede wat druk gaan ervaar, is KwaZulu-Natal en Limpopo.

KwaZulu-Natal se opnames is baie na aan die Julie-piek, terwyl Limpopo s’n reeds die vorige piek oorskry het. Gauteng s’n is reeds by 59% van sy vorige piek in weeklikse opnames.

“Gegewe hoe vinnig en aansteeklik albei variante van die koronavirus is, saam met die toename in sosiale interaksie in die vakansie, asook die verwagte bewegings tussen die stede en provinsies namate die vakansiedae tot ’n einde kom, is dit te wagte dat dié provinsies binnekort die piek wat in Julie gesien is, sal verbysteek.”

Provinsies soos Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat is steeds op minder as 60% van die Julie-piek, maar opnames daar styg ook.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.