Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
‘Minister laat hom ompraat oor NGV’
Die NGV-witskrif voorsien ekonomiese groei van 3,5% per jaar, terwyl die land in ’n resessie is. Foto: iStock

Die regering het hom byna in geheel afgesmeer aan die waarskuwings dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op ’n ramp afstuur, en ’n “onsamehangende” witskrif deurgedruk.

In die finale witskrif wat Vrydag gepubliseer is, word byna geen van die besware van organisasies soos Section 27 en die Instituut vir Rasseverhoudinge, wat in die finale ronde van konsultasie gelug is, beantwoord nie.

Section 27, ’n nieregeringsorganisasie wat van meet af aan hom beywer het vir ’n universele gesondheidstelsel, het ná die vorige konsepwitskrif in Desember 2015 gesê die gesondheidstelsel is net nie gereed vir die NGV nie.

“Daar is min twyfel dat dit nie moontlik is om die NGV ten volle teen 2025 te implementeer nie.” Die toetsprojekte was ’n mislukking, het hulle gewaarsku.

Die regering se inisiatief om hospitale te monitor, sal beteken dat elke hospitaal net een keer elke 25 jaar besoek word, het Section 27 bygevoeg.

Die witskrif hou voet by stuk dat openbare gesondheidsgeriewe die nodige standaarde sal handhaaf omdat hulle vooraf goedgekeur sal word.

Prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, het Vrydag aan Rapport gesê die toetsprojekte is in 2017 steeds ’n mislukking.

Maar dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het nie die implementeringsdatum verskuif nie en oor die toetsprojekte sê die witskrif net: “Ons het waardevolle lesse geleer oor die integrasie van skoolgesondheidsdienste.”

Van den Heever sê die toetsprojekte was so ’n volslae mislukking dat “Motsoaledi duidelik nie weet wat om eerste te implementeer nie”.

Hy sê dis duidelik dat Motsoaledi onder die druk van Cosatu geswig het en aan die vooraand van die ANC-beleidskonferensie ’n plan ter tafel móés lê.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid. Foto: Jaco Marais

Cosatu was gekant teen onlangse voorstelle dat mediese fondse dalk ’n noemenswaardige rol in die gesondheidstelsel kan speel en het Motsoaledi se olyftak aan die fondse as “verraad” bestempel.

Die finale witskrif verskil byna glad nie van die 2015-konsep nie – ten spyte van ongeveer 100 voorleggings wat byna deur die bank krities was. Die witskrif is só onveranderd dat dit nog hoop op die moontlikheid van ekonomiese groei van 3,5% per jaar, terwyl die ekonomie intussen in ’n resessie verval het.

Die belastingvoorstelle – soos ’n skatting dat die NGV gefinansier kan word deur ’n 2%-salarisaftrekking en bykomende inkomstebelasting van 2% – is herhaal.

Volgens Motsoaledi sal die wiele nou vinnig begin rol:

  • Oor minder as ses maande wil Motsoaledi ’n konsolidering van die huidige 83 mediese skemas sien.
  • Teen April volgende jaar wil die regering reeds van die pryse reguleer wat diensverskaffers soos dokters mag vra.
  • Ook in April moet alle mediese skemas ’n enkele opsie vir hul lede ontwerp. ’n Groot fonds soos Discovery bied tans 23 voordeelopsies vir hul lede.

Gerhard van Emmenis, waarnemende hoof van Bonitas, sê hulle is bekommerd oor dié plan. “Elkeen van ons voordeelopsies neem ’n reeks faktore soos gesondheid, leefstyl, verbruikersvoorkeure en bekostigbaarheid in ag. Ons glo sterk in vryheid van keuse.”

Ook in dié fase moet die mediese skema vir staatsamptenare, (Gems), die fonds vir munisipale werkers en Polmed vir polisielede saamsmelt.

Motsoaledi maak staat op die R20 miljard se “subsidies” wat die staat tans tot dié fondse bydra om latere fases van die projek te finansier. Tog maak die witskrif geensins melding dat dié subsidies deel is van werknemers se salarispakkette en belasbaar is in die hande van staatsamptenare nie.

Dit is onseker hoe Motsoaledi meen dié salariskomponent moet van werknemers ontneem word om in die NGV te stort.

  • In Januarie 2019 wil Motsoaledi alle bybetalings verbied. Diensverskaffers soos hospitale en dokters sal gedwing word om die regering se tarief te hef.
  • In 2019-’20 moet die huidige belastingkrediete wat lede van siekefondse ontvang, geskrap word. Dit beteken ’n onmiddellike verhoging in belasting, maar lede van fondse kan nie noodwendig dan al kies om eerder aan die NGV te behoort nie. Werkloses en weerloses sal eerste in die ry staan om sekere NGV-dienste te bekom wat met die besparing deur belastingkrediete betaal word.

Van den Heever sê Motsoaledi voer ’n drogredenasie dat die middelklas ’n “afslag” kry deur die krediete. Hulle mag nie die openbare gesondheidstelsel kosteloos gebruik nie en die korting moet daarvoor vergoed.

Volgens Tertius Troost, ’n belastingkenner van Mazars, sal dit ’n ekstra belasting van R13 248 per jaar vir ’n gesin van vier beteken (bereken op huidige kortings).

  • Verpligte bydraes tot die NGV moet in 2025 begin.
  • Die heel laaste stap is om private hospitale en spesialiste aan boord te kry.

Graham Anderson, uitvoerende hoof van Profmed en die Vereniging vir Gesondheidsfinansiers, sê mediese fondse sal nie in die onmiddellike toekoms verdwyn nie en die NGV kan nie werk sonder die fondse nie.

“Ons het al mense aangewys om met die regering in gesprek te tree oor die rol van mediese fondse.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.