Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Minstens 1 Bonitas-opsie raak nie duurder nie
Lee Callakoppen, uitvoerende hoof van Bonitas.

Die groot mediese fonds Bonitas se premies styg volgende jaar met ’n gemiddeld van 4,6%, maar daar is ten minste een opsie waarop geen styging van toepassing is nie.

Dit volg nadat die Raad op Mediese Skemas (RMS) vir die eerste keer aanbeveel het dat mediese skemas geen premieverhogings instel nie, of dat as premies verhoog word, dit tot 3,9% beperk word.

Dit is ook die eerste keer dat Bonitas so ’n klein gemiddelde verhoging aankondig.

Bonitas het einde Desember byna 723 000 lewens gedek en het totale bydraes van R17,3 miljard bestuur.

Lee Callakoppen, uitvoerende hoof, sê dit is ongekend dat geen verhoging vir ’n opsie ingestel word nie. Dit is die BonFit Select-opsie wat geen verhoging kry nie.

Die grootste verhoging is egter 7,1% vir BonComprehensive en 7% vir BonComplete.

BonComprehensive jaag in 2021 die hooflid R7 715 per maand uit die sak, R7 276 vir ’n volwasse afhanklike en R1 570 vir ’n kind.

BonFit Select sal R2 152 vir die hooflid kos, R1 668 vir ’n volwasse afhanklike en R645 vir ’n kind.

Volgens hom gaan die meeste lede, meer as 90%, ’n verhoging van 3,9% sien.

Callakoppen meen die pryse en Bonitas se omvattende voordele vergeleke met die res van die mark, sal goed ontvang word.

“Die riglyne van die RMS het duidelik beklemtoon mediese fondse moet premieverhogings so ver moontlik beperk.

“Ons het die somme gedoen en baie hard gewerk om ’n balans te vind tussen volhoubaarheid en bekostigbaarheid.”

Hy sê dit was nie ’n maklike taak nie, veral nie weens die swak ekonomiese toestand nie.

“Ons het verantwoordelik gebly en ’n langtermynsiening ingeneem om te verseker dat ons lede nie in die komende jare die prys moet betaal weens ’n lae verhoging vir 2021 nie.”

In 2020 het Bonitas se premies met ’n geweegde gemiddelde van 9,9% gestyg en in 2019 met 8,9%.

Een van die redes vir hoekom mediese fondse nou sulke lae premieverhogings kan bekostig, is omdat hulle baie minder eise gehad het as in 2019 weens die inperking wat operasies in hospitale tot stilstand gebring het en mense wat minder siek geraak het omdat hulle nie kontak met mekaar gehad het nie.

Mediese fondse is verplig om 25% van hul jaarlikse bydraes in reserwe te hou (die solvensieverhouding) en moet só begroot dat genoeg oorgehou word om die reserwes aan te vul indien dit nie genoeg is nie.

Die minder eise gaan waarskynlik die meeste mediese fondse met groot surplusse vir die jaar laat.

Bonitas het verlede jaar einde Desember nadat eise betaal is, R1,2 miljard oorgehou.

Bonitas het verlede jaar einde Desember nadat eise betaal is, R1,2 miljard oorgehou. Nadat sy koste vir makelaars en administrasie betaal is, het hy ’n verlies van R249,4 miljoen getoon. Sy beleggingsinkomste het gehelp om ’n surplus vir die jaar van R186 miljoen te toon.

Sy solvensieverhouding het van 25,2% tot 24,9% verlaag, ook omdat baie nuwe lede goedkoper opsies verkies het, luidens sy jaarstate.

Die premies van sewe van Bonitas se opsies is tussen R1 500 en R3 000 per maand, waar die mediesefondsbedryf tans groei ondervind, volgens Callakoppen.

Bonitas het die afgelope jare vier opsies bekend gestel wat netwerke van verskaffers kontrakteer wat lede moet gebruik.

Lede betaal dan nagenoeg 15% minder vir dieselfde voordele. Dié opsies dek 74 000 lewens en die hooflede is sowat tien jaar jonger as die gemiddelde Bonitas-lid.

Hy sê mediesefondslede se gedrag het wesenlik verander en daar is ’n vraag na innovering, toeganklikheid en tegnologie.

“Dit het die voordeel om ’n jonger teikenmark te lok en volhoubaarheid te verseker.”

Hoe ouer ’n mediese fonds se gemiddelde ouderdom van sy lede raak, hoe meer neem sy eise toe. Die gemiddelde ouderdom van Bonitas se lede is 35.

Twee nuwe opsies is bekend gestel wat op dié mark gerig is.

Callakoppen sê die opsies BonStart en BonStart Plus sal op tegnologie en innovering berus en is ontwerp vir ekonomies aktiewe enkellopendes of paartjies wat in groot stede woon. Dit kos tussen R1 452 en R1 731 per maand vir die hooflid.

Meer oor:  Bonitas  |  Mediese Fonds  |  Gesondheidsorg  |  Premies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.