Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
'Minstens ’n derde van dokters is reeds landuit'
Suid-Afrikaanse dokters soek toenemend groener weivelde elders.

Minstens ’n derde van dokters wat in Suid-Afrika geregistreer is, het reeds die land verlaat volgens die departement van gesondheid.

Boonop wys die departement se beplanningsdokument vir mensehulpbronne tot 2017 wat Rapport onder oë gehad het dat hulle planne moes beraam om dokters te probeer behou.

Die dokument, “Human Resources for Health” (HRH), sê die laaste betroubare syfers wat hulle kon kry, was van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso), wat in 2003 reeds gewys het 9 000 dokters werk in die buiteland. Dit was in daardie stadium ’n derde van alle dokters wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) geregistreer was.

Die dokument waarsku oor die onrusbarende feit dat Suid-Afrika se openbare gesondheidstelsel nie afgestudeerde medici behoorlik kan opneem nie. Luidens die dokument kies ’n geskatte 25% van die land se potensiële mediese arbeidsmag daarom om eerder oorsee te werk of van beroep te verander, terwyl die mediese arbeidsmag met ’n bykomende sowat 6% per jaar verklein weens natuurlike personeelafname soos aftrede, dood of beroepsverandering.

Rolspelers in die bedryf het die afgelope week alarm gemaak dat dié situasie kan vererger indien die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in sy huidige vorm geïmplementeer word.

Luidens die dokument kies ’n geskatte 25% van die land se potensiële mediese arbeidsmag daarom om eerder oorsee te werk of van beroep te verander.

Dr. Mark Sonderup, ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), sê die NGV is olie op die vuur.

“Die kern van die saak is dat dokters wel die land verlaat – en enigeen wat in die beroep staan, weet dit. Die voorgestelde implementering van die NGV, help nie juis nie,” sê hy.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs (Sasa) het ook die afgelope week gewaarsku dat dié spesialiste groener weivelde kan soek. In ’n opname onder sy lede in die private en openbare sektor is bevind dat meer as 480 van die huidige getal van 1 379 spesialiste emigrasie oorweeg.

Dr. Lance Lasersohn, adjunkpresident van die Sasa-raad, sê die wêreldmaatstaf vir narkotiseurs is ’n minimum van vyf spesialiste per 100 000 van die bevolking, maar in Suid-Afrika is dit tans 2,51, en in die openbare sektor is dit net 0,9 spesialis-narkotiseurs.

Sasa sê hy het in die afgelope twee maande tien lede verloor wat na Kanada geëmigreer het.

Volgens Lasersohn dra die retoriek van die dag by tot mediese personeellede se besluit om die land te verlaat.

Henru Krüger, bedryfshoof en regskenner by die Alliance of South African Independent Practitioners Associations (Asaipa), sê ná die publikasie van die NGV-wetsontwerp verlede Donderdag, het dié organisasie ’n rits navrae gehad van dokters wat wonder oor hul toekoms onder die voorgestelde NGV.

Hy het ook pas ’n uitnodiging uit Ierland ontvang om Suid-Afrikaanse dokters daar te help plaas.

Volgens hom is ’n bykomende probleem dat die gemiddelde ouderdom van Suid-Afrikaanse dokters toeneem, namate jonges oorsee gaan. Die gemiddelde ouderdom vir plaaslike dokters is nou 57 jaar, sê hy.

Luidens ’n studie wat in 2009 in die akademiese joernaal South African Family Practice gepubliseer is, het 86,2% van die respondente wat geëmigreer het finansiële voordele as hoofrede aangevoer.

’n Mediese dokter wat tans konsultasiewerk in die mediese finansieringsbedryf doen, sê aan Rapport hy het kontak met verskeie dokters in die buiteland en die situasie het die afgelope dekade drasties verander. Dit is volgens hom glad nie meer so maklik en lonend om te emigreer nie.

Dié dokter sê 15 jaar gelede kon ’n Suid-Afrikaanse dokter met sy verdienste in ’n land soos Kanada of Nieu-Seeland maklik dieselfde lewenspeil as hier handhaaf, maar dit raak nou moeiliker.

Luidens die 2017-statistieke van Oeso verskil die vergoeding vir mediese spesialiste drasties van land tot land. In Italië het spesialiste in 2017 $71 715 verdien, spesialiste in Nieu-Seeland $194 590 en in Engeland $115 109.

In Suid-Afrika is dit moeilik om vas te stel hoeveel dokters verdien, sê dr. Johann Serfontein van die mediese konsultantegroep HealthMan. Hy sê Sama het onlangs ’n studie gedoen oor praktykkostes, maar dit is nog nie bekend gemaak nie.

Die webblad businesstech.co.za haal Salary Explorer aan dat ’n neurochirurg in Suid-Afrika in die omgewing van R1,4 miljoen per jaar verdien.

Meer oor:  Dokters  |  Mediese Sorg  |  Gesondheidsorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.