Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Motsoaledi swyg oor proses met NGV-wet

Wag en wees geduldig, was dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, se antwoord op ’n vraag oor hoe ver die wetsontwerp oor nasionale gesondheidsversekering (NGV) van klaar is voordat dit in die parlement ter tafel gelê word.

Hy het ook te kenne gegee die oponthoud met die markondersoek na die private gesondheidsbedryf hou tans die wysigingswetsontwerp oor die Wet op Mediese Fondse terug.

aaron motsoaledi
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid.

Motsoaledi het Dinsdag op ’n mediakonferensie waar ’n verslag oor die beraadslaging op ’n spitsberaad oor die krisis in die gesondheidsorgsektor uitgereik is, nie die vraag beantwoord oor of die kabinet die NGV-wetsontwerp al goedgekeur het nie.

“Die benadering was nog altyd wanneer alles klaar is, gaan dit parlement toe en dan word ’n aankondiging gemaak. Dis hoe dit met alle wetsontwerpe is. Ek verstaan nie hoekom dit nou anders moet wees nie,” het Motsoaledi gesê.

Popo Maja, sy woordvoerder, het in Desember bevestig dat die wetsontwerp aan die kabinet voorgelê is, en gesê “die beraadslaging oor die wetsontwerp sal einde Januarie gefinaliseer wees”.

Dit is ’n brandende vraag in die bedryf omdat die wetsontwerp einde verlede jaar in omstredenheid gedompel is oor die proses wat gevolg is om dit te hersien voordat dit aan die kabinet voorgelê word.

Dit het geblyk daar is aan die wetsontwerp gekarring nadat die kommentaartydperk van drie maande oor die eerste weergawe wat deur die kabinet goedgekeur is verlede jaar verstryk het en dit in Junie in die Staatskoerant gepubliseer is.

Dit het daarna glo weer omstrede voorstelle ingesluit wat reeds voorheen op versoek van die nasionale tesourie uitgehaal is.

Die kommer oor die proses het ontstaan nadat ’n brief van Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal van die nasionale tesourie, aan dr. Olive Shisana, die NGV-adviseur van die president, daaroor uitgelek het. Die brief het verdoemende kommentaar van Momoniat bevat oor die beweerde veranderinge wat Shisana aan die wetsontwerp aangebring het wat op pad na die kabinet was.

Dit het ingesluit dat mediese fondse net ’n aanvullende rol tot die NGV-fonds sal speel. Momoniat het dit “hoogs voortydige hervorming” genoem en dat dit as ’n bedreiging deur mediesefondslede en belastingbetalers beskou sal word.

Shisana het die uitreiking van die verslag oor die spitsberaad Dinsdag in Tuynhuys, Kaapstad, georganiseer, maar wou nie ná die tyd kommentaar lewer oor die NGV-wetsontwerp nie.

Pres. Cyril Ramaphosa sou die verslag oor die gesondheidsberaad uitgereik het, maar het nie Dinsdag die geleentheid in Tuynhuys bygewoon nie omdat hy eers die oggend van Addis Abeba, waar die Afrika-Unie se spitsberaad gehou is, teruggekeer het.

Motsoaledi het sy toespraak voorgelees wat onder meer daarna verwys het dat die NGV-wetsontwerp “binnekort in die parlement voorgelê sal word”.

Hy het ook nie die vraag beantwoord oor wat die rol van mediese fondse sal wees wanneer die NGV in werking tree nie.

Hy het gesê die rol van mediese fondse in die NGV is alles in die “wetsontwerpe”. Dit is met verwysing na die wetsontwerp oor die wysigings aan die Wet op Mediese Fondse wat verlede jaar saam met die NGV-wetsontwerp uitgereik is.

Volgens hom is die wysingswetsontwerp oor mediese fondse “hangende” omdat daar gewag word vir die finale verslag van die markondersoek oor die private gesondheidsbedryf. Hy het gesê dit is omdat baie van die voorstelle daarin ook in die wetsontwerp vervat sal word. “Dit is jammer dat die markondersoek vertraag is, want al hul voorstelle, soos ons dit in die aanvanklike verslag gesien het, sal in die wetsontwerp ingesluit word.”

Netwerk24 het onlangs berig die paneel wat die markondersoek lei, se werk is opgeskort tot in die nuwe boekjaar omdat die geld opgeraak het om hulle te betaal.

Die finale verslag oor die markondersoek was veronderstel om einde Maart uitgereik te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.