Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Netcare gaan staatspasiënte met virus opneem

Die hospitaalgroep Netcare gaan staatspasiënte opneem om die regering te help met die behandeling van mense wat die koronavirus opgedoen het.

hospitaal
Netcare se Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad. Foto: Nellie Brand-Jonker

Die groep sê in ’n verklaring sy aktuariële voorspellingsmodelle toon die land se gesondheidsorgstelsel, wat reeds onder druk is, gaan sukkel om die dreigende en beduidende toename van pasiënte te hanteer wat hospitalisasie en intensiewe sorg gaan benodig.

Netcare het in die verklaring aangekondig hy gaan R150 miljoen bestee om sy hoësorg- en waakeenhede in die lig van Covid-19 in die land op te knap.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof, sê die geld gaan aangewend word om onder meer nog ventilators aan te koop en vir robotte wat met ultravioletlig ontsmetting doen.

Volgens hom sal die geld ook aangewend word om Netcare se voorraad van beskermende toerusting vir personeel en mediese praktisyns aan te vul.

Friedland meen die situasie in Suid-Afrika is uiters kommerwekkend weens die hoë bevolkingsdigtheid in sekere gebiede, en weens ’n wesenlike gedeelte van die bevolking wie se immuunstelsels reeds kwesbaar is weens die voorkoms van siektes soos vigs en tuberkulose.

Hy waarsku ook dat die situasie kan vererger wanneer dit winter word, omdat nagenoeg 19% van die bevolking dan griep kry.

Netcare ondersteun die 21-dae-inperking om die sprong in die getal gevalle te laat afplat. Volgens hom toon hul modelle – afhangende van hoe doeltreffend die inperking is – dat die tydsduur van die inperking waarskynlik aangepas sal moet word.

Netcare het ook nienoodsaaklike operasies gestaak en het aan nasionale en provinsiale gesondheidsdepartemente voorgestel dat hy staatspasiënte sal help behandel.

“Gegewe die buitengewone omstandighede sal Netcare die dienste aan die pasiënte bied op ’n niewinsgewende grondslag, net om sy koste te dek.

“Gegewe ons beperkte kapasiteit sal enige verwysings van die staat per geval en met vooraf magtiging hanteer word.”

Dit is nie seker wat Netcare hiermee bedoel nie en of dit beteken hy sal nie verwysings van die staat kan inneem nie.

Netwerk24 probeer ook by Netcare uitvind wat dit vir die lede van mediese fondse sal beteken as private hospitale staatspasiënte inneem.

Voorsorg

Volgens Friedland skakel Netcare voortdurend met oorsese hospitale en mediese praktisyns, veral in China, Italië en Frankryk, om “die pynlike lesse wat daar geleer is in Suid-Afrika toe te pas”.

Hy sê hulle tref streng voorsorgmaatreëls om te verseker dat gesondheidspersoneel en dokters beskerm word tydens die pandemie.

“Ons het gepaste maatstawwe ingestel, insluitende relevante opleiding, asook dat pasiënte vooraf getoets word voordat hulle hospitaal toe kom. Potensieel positiewe pasiënte sal ook geïsoleer word om die verspreiding van die virus in ons hospitale te keer.”

Meer oor:  Netcare  |  Covid-19  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.