Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Netcare: ‘Onrusbarende toename in Gauteng’

Die hospitaalgroep Netcare ondervind reeds “ ’n onrusbarende toename in hospitalisasies in Gauteng”.

hospitaal
Netcare se Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad. Foto: Nellie Brand-Jonker

Die groep het Woensdag ’n verklaring uitgereik om die jongste inligting oor die stand van sake by sy hospitale bekend te maak.

Volgens dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof, is alle personeellede van verlof teruggeroep.

Oos- en Wes-Kaap

Netcare sê die hospitalisasies in die Oos-Kaap daal reeds vir die vierde week agtereenvolgens terwyl syfers in sy hospitale in die Wes-Kaap begin om ’n plato te toon.

Netcare verwag die Oos-Kaap gaan vir die res van die maand herstel tot die vlakke van Covid-19 wat voor die tweede vlaag  beleef is.

Friedland sê die nuwe inperking en verbod op drankverkope het gelukkig gevalle van geweld en ongelukke verminder, wat die las op Netcare se ongeluk- en noodafdeling verminder het.

Limpopo

Limpopo ervaar tans ’n “ongekende vraag na hospitalisasies”. Netcare se Pholoso-hospitaal in Polokwane is meer as 100% vol.

As deel van sy rampbestuursbeplanning is ’n tydelike eenheid in gebruik geneem wat tot 80 pasiënte kan huisves. Dit sal die druk op die noodeenheid in die hospitaal verlig en sal die stabilisering van pasiënte voor hospitalisasie moontlik maak.

Die provinsiale LUR vir gesondheid het die eenheid goedgekeur en sy deure open op 7 Januarie.

Die eenheid het suurstof- en ablusiegeriewe en veilige gebiede waar dokters en verpleegsters persoonlike beskermende toerusting kan aan- en uittrek.

’n Bykomende 60 personeellede is ontplooi om in die hospitaal te help.

KwaZulu-Natal

Netcare se hospitale in KwaZulu-Natal ervaar steeds ’n ongekende vraag na beddens.

Friedland sê dit gaan na verwagting deur die loop van die maand voortduur.

Gauteng

“In Gauteng ondervind ons, soos verwag, reeds ’n onrusbarende toename in opnames en dit sal na verwagting die volgende twee weke vinnig vererger,” waarsku hy.

Hy sê die hospitaalgroep se ervaring met die eerste vlaag van die virus het hom goed toegerus om sy vermoë tydens die oplewing in Gauteng te verhoog, asook in Limpopo en KwaZulu-Natal.

Die groep het 10 411 hospitaalbeddens, insluitend 425 in Lesotho. Dit sluit in 5 699 in 29 hospitale in Gauteng en 1 956 in tien hospitale in KwaZulu-Natal.

Die groep het meer as 1 716 akutesorgbeddens (hoësorg- en waakeenheidbeddens), waarvan 1 055 in Gauteng is en 261 in KwaZulu-Natal.

“Ons skakel tans ook gewone beddens om in beddens vir Covid-19-gevalle vir die verwagte toename in gevalle in Gauteng.”

Volgens Friedland word mediesebesluitnemingseenhede ook in hospitale geskep om die las op noodafdelings te verlig en lang wagtye te verminder.

“Die eenhede sal deur die dokters van ons noodafdelings bestuur word om die druk op beddens in die hospitale te verlig.”

Personeel

Friedland sê na verwagting gaan Netcare se personeeltal einde vandeesweek voltallig wees nadat alle verlof opgeskort is.

Die maatskappy het ook dokters en mediese personeel gewerf om hospitale by te staan.

’n Aantal werklose maatskaplike werkers is in diens geneem om met die skakeling met pasiënte te help en om gesinne te ondersteun sodat die mediese personeel slegs op hul mediese pligte kan fokus.

Die hospitaalgroep het ook geadverteer vir studente om deeltyds te help.

“Ons het meer as 3 500 aansoeke ontvang en is tans besig om die aansoeke te verwerk sodat die studente in niemediese rolle in verskillende hospitale ontplooi kan word.”

Medisyne

Netcare het voldoende voorraad van die toepaslike medisyne en verbruiksprodukte wat in hospitaalsorg benodig word.

Die hospitaalgroep het ook voldoende persoonlike beskermende kleredrag vir die tweede vlaag.

Toerusting

Die hospitaalgroep het ’n bykomende 1 100 suurstoftoestelle gekoop wat vandeesweek in die land aankom.

Die masjiene kan tot 4 liter suurstof per minuut produseer.

Die groep het nou 1 400 daarvan.

“Dit sal die las op die suurstofvoorraad in ons hospitale verlig.”

’n Bykomende 100 toestelle wat suurstof deur die neus toedien, gaan middel Januarie gekry word. Netcare sal dan 626 van dié toestelle hê.

Die groep het 1 105 ventileerders.

Ten opsigte van suurstofvoorraad het Netcare reeds die bergingsgeriewe by die meeste van sy hospitale opgegradeer. Hy gaan ook by nog 17 hospitale in Gauteng verdere opgraderings aanbring.

Meer oor:  Netcare  |  Pandemie  |  Hospitale  |  Suurstof  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.