Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
NGV gaan nie meer kos as medies tans, paai staat

Die enorme mediese fonds wat die staat wil skep, is veronderstel om jou minder te kos as wat jy tans aan mediese uitgawes betaal, het die staat Donderdag gepaai by die bekendstelling van die hersiene wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Die kritiek op die NGV verloor uit die oog dat daar tans sowat R460 miljard op gesondheidsorg in die land deur sowel die staat as die private sektor bestee word, sê die departement van gesondheid.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, die adjunkminister, en dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal van NGV, moes bontstaan om vrae oor die koste van NGV te beantwoord omdat die wetsontwerp toon ’n bykomende belasting gaan dalk gehef word om dit te finansier.

Die NGV-wetsontwerp, wat Donderdag ook in die parlement ter tafel gelê is, maak voorsiening vir die oprigting van die NGV-fonds en bepaal hoe dit bedryf gaan word. Dié wetsontwerp stippel baie duideliker uit watter inkomstebronne vir NGV gebruik gaan word as die vorige weergawe van die wetsontwerp.

Die probleem is dat niemand nog weet wat dit gaan kos nie omdat daar gewag word op ’n verslag van die tesourie met die hersiene kosteberaming oor die NGV.

Die moontlikheid van hoër belasting is voorheen in die witskrif oor die NGV genoem, maar dit was nie in die 2018-wetsontwerp nie.

Die wetsontwerp lui nou dat die fonds geregtig sal wees op geld wat jaarliks deur die parlement bewillig word en dat die geld afkomstig sal wees van die volgende bronne:

1. Algemene belastinginkomste, insluitend die verskuiwing van geld wat nou aan provinsies en die nasionale departement van gesondheid toegewys word.

2. Die belastingkrediete wat mediesefondslede tans ontvang, wat sal wegval. Op die oomblik kry die hooflid en eerste bykomende lid kry ’n belastingkorting van R310 elk en bykomende afhanklikes R209 elk.

3. ’n Betaalstaatbelasting, dus ’n heffing wat werkgewers en personeel sal moet betaal.

4. Bykomende persoonlike belasting, wat bekend gestel sal word deur die minister van finansies.

In die verduideliking oor die doelstellings van die wetsontwerp word gesê in die finale fase van inwerkingtreding van die NGV “sal daar in ’n gunstige ekonomiese omgewing begin word met die evaluering van nuwe belastingsopsies vir die fonds, insluitend die bykomende persoonlike-inkomstebelasting of ’n klein betaalstaatbelasting”.

Mkhize het gemaan dat mense eers moet wag vir die hersiene kosteraming van die tesourie voordat hulle op hol gaan oor belasting en wat dit gaan kos.

Jy gaan dalk opeindig met die helfte van wat jy nou betaal omdat jou bydrae saam met die geld afkomstig van die fiskus gegooi word.
Dr. Joe Paahla, adjunkminister van gesondheid

Die tesourie het in 2017 in die witskrif oor NGV ’n kosteraming gedoen en daar word in spanning gewag op sy nuwe verslag oor die hersiene kosteraming.

In 2017 is daar geraam dat die begroting vir gesondheid teen 2026 nagenoeg R256 miljard sal beloop en ’n tekort aan finansiering van sowat R27,6 miljard gaan vir die NGV bestaan. Dit is hoe die tekort gefinansier moet word, waarvoor verskillende opsies en die impak daarvan ondersoek moet word.

Mkhize sê die idee met die NGV is dat die totale besteding op gesondheidsorg in die land saamgegooi word om vir almal dieselfde gesondheidsdienste te koop sodat die ongelykheid in besteding en hulpbronne aangepak kan word.

Dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal van die departement van gesondheid.

Mediese fondse dek net sowat 8 miljoen mense of 16% van die bevolking, maar beloop omtrent die helfte van die besteding aan gesondheidsorg. Die staat moet 85% van die bevolking met die ander helfte van die geld dek.

Phaahla het gesê dit is duidelik dat die vrae oor waar die geld vandaan gaan kom, vorentoe weer opgehaal gaan word.

“Ek wil dit beklemtoon dat dít wat in die vooruitsig gestel word nie noodwendig behels om na nuwe geld te kyk nie.”

Phaahla sê die kritiek op die NGV verloor uit die oog dat daar tans sowat R460 miljard op gesondheidsorg in die land deur sowel die staat as die private sektor bestee word. Hy sê die NGV is bedoel om die geld doeltreffender aan te wend.

“Ons praat van die herverspreiding van bestaande bronne om gelykheid te kry. Die wetsontwerp praat van belastinginkomste wat daarvoor gebruik gaan word en ’n betaalstaatbelasting, maar die meeste van die geld bestaan reeds.”

Phaahla sê hoewel die meeste mense wat werk, dalk nie hul bydrae tot ’n mediese skema as ’n betaalstaatbelasting beskou nie omdat dit na die skema gaan, is dít waarop dit neerkom.

Volgens hom word met die NGV in vooruitsig gestel dat dié gedeelte van mense se inkomste wat tans aan medies bestee word, moet verminder.

“Jy gaan dalk opeindig met die helfte van wat jy nou betaal omdat jou bydrae saam met die geld afkomstig van die fiskus gegooi word. Wat in die vooruitsig gestel word, is dat dit nie vir individue méér kos nie.”

Die wetsontwerp maak dit duidelik dat die rol wat vir mediese skemas beoog word, is om net aanvullende dienste te bied. Jy sal die keuse hê om aan ’n mediese skema te behoort, maar dieselfde voordele as die NGV sal nie gedek mag word nie.

Pillay sê in die aanvanklike fases gaan die regering nie die belasting verhoog om die NGV te finansier nie deur die geld wat tans beskikbaar is, doeltreffender te gebruik.

“Dit is eers in die finale fase, soos die tesourie in die witskrif aangedui het, dat ’n vorm van belasting bekend gestel gaan word.”

Hy sê die raming in die witskrif het ten doel dat die betaalstaatbelasting minder gaan wees as wat mense nou vir medies opdok.

“Daar is duidelik ’n geleentheid vir mense op mediese skemas om baie minder te betaal vir die NGV relatief tot wat hul tans betaal.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2260,51 (7457)
  • Top 40 50341,63 (26385)
  • All Share 56406,88 (28305)
  • Resource 10 44220,72 (46209)
  • Financial and Industrial 30 76382,91 (30380)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.