Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
NGV ‘gaan nie land bankrot maak nie’
Die vroegtydige opsporing van siektes en gereelde oogtoetse sal tel onder die voorkomende behandeling wat die Nasionale Gesondheidsversekering wil dek.

Dit is misleidend om te sê dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) die land bankrot gaan maak, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gesê.

Hy het die jaarlikse konferensie van die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) Maandag in Kaapstad toegespreek.

Dit was die eerste keer dat hy die bedryf op ’n konferensie toespreek sedert die wetsontwerp oor die NGV in die eerste week in Augustus bekend gestel is.

Mkhize het van die omstredenheid van die wetsontwerp uit die weg probeer ruim en gesê sedert dit uitgereik is, het ’n lewendige debat begin.

“Dis te verwagte – maar steeds teleurstellend – dat sekere partye ’n veldtog voer om vals inligting te versprei om mense te laat glo dat die NGV ’n monster is wat alles gaan vernietig. Niks kan verder van die waarheid af wees nie.”

Hy het gesê die NGV sal ingefaseer word en die dienste wat aangebied gaan word, sal dít wees wat die land kan bekostig.

Volgens hom word tans nog met die tesourie oor die finansiële implikasies van die NGV gekonsulteer.

Hy het ontken dat die gesprekke tussen die tesourie en die departement oor die finansiering van die NGV “in ’n krisis is”.

Die nasionale begroting maak reeds voorsiening vir die koste van die NGV in die komende vyf jaar. Daar word geraam dat ’n addisionele R30 miljard teen 2026 nodig gaan wees, buiten waarvoor die nasionale begroting voorsiening maak.

“Dit is misleidend om te sê dat die NGV die land bankrot gaan maak. Die NGV-fonds gaan deur gekwalifiseerde en bevoegde mense geadministreer word, wat versigtig gekeur en op gepaste wyse opgelei word om ’n doeltreffende onderneming te bestuur.”

Mkhize het ook beswaar gemaak teen gerugte dat die NGV tot nasionalisering gaan lei.

“Daar is diegene wat die publiek mislei deur te sê dat die NGV tot die nasionalisering van private gesondheidsgeriewe sal lei. Ons het geen benul waar hierdie vreemde opvattings vandaan kom nie. Dis onwaar.

“Alle private praktyke, apteke en hospitale gaan in die hande van hul private eienaars bly.”

Volgens hom sal dit egter moontlik wees dat ooreenkomste aangegaan word met die private geriewe om – bykomend tot die dienste wat die openbare sektor lewer – spesifieke dienste onder die NGV te lewer.

Sodra die NGV ten volle in werking gestel is, gaan mediese fondse glo ’n aanvullende rol hê.

“Dit gaan net dienste wees wat nie deur die fonds betaal word nie. Mediese fondse se rol en dienste gaan in ooreenstemming met die ontwikkeling en fase van die NGV hersien word. Sodra die wetsontwerp aanvaar word, sal meer intensiewe gesprekke begin (hieroor).”

Mkhize meen nie dat die NGV noodwendig geleenthede vir die private sektor gaan beperk nie. Die plan om van die staat se infrastruktuur in die komende sewe jaar te herbou, sal moontlik geleenthede vir “reuse-belegging” vir die private sektor bring.

“Daar sal gebiede vir groei en geleenthede vir aanpassing wees. Soos ons met die inwerkingstelling in fases vorentoe beweeg, gaan daar vir almal ruimte wees om aan te pas.”

Mkhize ontken dat die NGV-wetsontwerp provinsies se magte in die verskaffing van gesondheidsdienste gaan belemmer.

Hy het kennis geneem daarvan dat die grondwetlikheid van die wetsontwerp reeds in dié verband betwis word.

“Die nasionale departement en provinsiale departemente is in gesprek oor die inwerkingstelling van die wetsontwerp en hoe hul verantwoordelikhede onder die wetsontwerp verdeel gaan word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.