Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
NGV ‘gaan nie lede hê, maar slagoffers’

Die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan nie “lede hê nie, maar slagoffers”, sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake.

Le Roux sê in ’n verklaring dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, “stel openbare gesondheid in gevaar met sy toenemende nasionalisering van die gesondheidsorgbedryf”.

Dit kom nadat Motsoaledi verlede week die Wetsontwerp op NGV en die Wysigingswetsontwerp op Mediese Skemas vir kommentaar uitgereik het.

“Dit stuur af op ’n ramp. Motsoaledi laat slegs nominale ruimte vir die private sektor – in wese nasionaliseer hy die gesondheidsorgbedryf. Die gevolg sal dieselfde wees as met alle ander nasionaliserings: Verlaging van gehalte, rantsoenering van dienste, korrupsie en burokratisering.”

Motsoaledi het Donderdag bevestig dat alle Suid-Afrikaners tot NGV sal moet bydra.

“AfriSake is bekommerd die gedwonge betaling van alle gesondheidsorggeld in een massiewe, burokratiese, staatsbeheerde stelsel gaan net nog ’n belasting wees in ’n land wat reeds onder korrupsie en staatskaping ly.”

Le Roux sê Motsoaledi hou aan fokus op die “goeie bedoelings” van NGV sonder om die “moeiliker vrae” te beantwoord.

“Die moeiliker vrae sluit in die enorme finansieringskoste van die NGV en die nadelige uitwerking wat dit waarskynlik op die marklewering van mediese dienste sal hê.”

Die klein en reeds oorbelaste poel belastingbetalers sal ten volle verantwoordelik wees vir die finansiering van die NGV, en dit is onbegryplik dat die minister eerlik glo so ’n plan kan werk.
Piet le Roux van AfriSake

Motsoaledi het toegegee daar is geen finale besluit oor hoe NGV gefinansier gaan word nie.

In die witskrif oor die NGV wat in 2016 vir kommentaar uitgereik is, was die geprojekteerde koste vir die 2026-boekjaar ongeveer R256 miljard (bereken teen 2010-pryse), oftewel 6,2% van die geprojekteerde bruto binnelandse produk (BBP) vir die 2026-boekjaar, sê Le Roux.

“Die 2010-projeksies was egter gegrond op ’n ekonomiese groeikoers van minstens 3,5% per jaar, wat tans onbereikbaar lyk. Daarom sal die werklike finansieringskoste waarskynlik die projeksie van 6,2% BBP in die 2026-boekjaar ver oorskry.

“As gevolg van Suid-Afrika se byna stagnante ekonomiese groei en laer belastinginkomste is die NGV nou selfs minder bekostigbaar as voorheen.”

Le Roux reken die koste gaan nader aan 12% van die BBP wees.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid.

Le Roux sê ook: “Die minister bly sy kleuterrympie herhaal dat die rykes die armes moet subsidieer, en dat die gesondes die siekes moet subsidieer, en stedelinge die platteland, en hy steur hom glad nie aan die moontlike markverwringing en ontmoediging van so ’n stelsel nie.

“Die klein en reeds oorbelaste poel belastingbetalers sal ten volle verantwoordelik wees vir die finansiering van die NGV, en dit is onbegryplik dat die minister eerlik glo so ’n plan kan werk.”

Le Roux lewer ’n pleidooi dat die openbare gesondheidsorgstelsel eers “dramaties verbeter moet word” voordat die NGV in werking gestel word.

“Dis chaoties as gevolg van rompslomp en onbevoegdheid wat onlangs daartoe gelei het dat mediese poste vakant bly terwyl pas afgestudeerde dokters wag om geplaas te word.

“Die Gautengse departement van gesondheid se hantering van die Life Esidimeni-tragedie wek ook ernstige kommer oor die wysheid daarvan om gesondheidsorg in ’n massiewe, duur staatsburokrasie te sentraliseer.”

Motsoaledi het Donderdag gesê hy is bewus van dié argument en dat swak staatshospitale ’n “groot stok” geword het om NGV mee te slaan. Die minister het gesê openbare gesondheidsorg sal nooit perfek wees nie en hulle kan nie langer wag met die inwerkingstelling van NGV nie.

Le Roux sê Motsoaledi se voorneme is duidelik: “Hy wil die hele gesondheidsorgsektor verander in ’n enorme staatsbeheerde onderneming, maar in teenstelling met Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ander wanbestuurde staatsentiteite sal dit lewens regstreeks op die spel plaas.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.