Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
NGV: Mediclinic meen jy sal mediese fonds kan hou

Mediclinic reken die nuwe Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) maak tóg voorsiening dat mense hul mediese fonds in sy huidige vorm mag behou en mag voortgaan om die private dokters en hospitale van hul keuse te gebruik.

gesondheid, hospitaal, hospitale
NGV gaan algemene praktisyns uit die private sektor kontrakteer, maar hoe gaan hospitaalsorg werk? Foto: Unsplash

Dié dienste sal dan bloot nie deur die NGV-fonds betaal word indien dit oorvleuel met dienste wat die NGV aanbied en deur gekontrakteerde verskaffers voorsien nie.

Mediclinic is ook optimisties dat selfs mense wat kies om net NGV-dienste te gebruik, wel ook minstens deels deur die private sektor behandel sal word omdat dit voorsien word dat die NGV-fonds ook private medici sal kontrakteer.

Die privatehospitaalgroep het Woensdag laat sy interpretasie van die wetsontwerp uiteengesit nadat dit verlede Donderdag uitgereik is.

Mediclinic sê in ’n verklaring dis uit die afgelope week se kommentaar duidelik daar is “verskeie interpretasies en vlakke van sekerheid oor die wetsontwerp en sy implikasies”: “Dit wissel van wetlike en grondwetlike aspekte en die finansiële lewensvatbaarheid van die stelsel, tot belanghebbendes se rolle en verantwoordelikhede.”

Die wetsontwerp sê dat mediese fondse slegs aanvullende dienste sal mag bied wat nié deur die NGV gedek word nie. Baie ontleders reken dit sal mediese fondse verplig om slegs soos gapingsdekking te funksioneer.

Mediclinic, asook die Suid-Afrikaanse Privatepraktyksforum, verskil.

LEES OOK: Dokters: NGV gaan álmal ‘sieker’ maak

Mediclinic sê as al die artikels van die wetsontwerp wat hieroor handel, saam gelees word, lyk dit asof mense wel die reg sal hê om buite die NGV hul eie mediese dienste te kies, wat hulle uit hul eie sak mag betaal óf deur hul eie mediese fonds.

Mediclinic verwys veral na art. 6 van die wetsontwerp. Dit sê mense wat nie die NGV-voorgeskrewe proses van verwysing na spesialisdienste volg nie, dit self mag betaal of ’n mediese fonds mag hê wat dit betaal.

“Dit maak ’n interpretasie moontlik dat individue hulself privaat vir enige dienste mag verseker indien hulle kies om alternatiewe roetes te volg wat nie deur die fonds gedek word nie.”

Hulle sal egter nie kan kies om nié tot die NGV by te dra nie.

Mediclinic sê dis duidelik dat dit NGV-fonds in fase een van die inwerkingstelling van NGV private dokters vir primêre gesondheidsorg gaan kontrakteer. Dis egter glad nie duidelik in watter mate die private sektor vir gevorderde mediese dienste betrek gaan word nie.

Die groep sê hy ondersteun die beginsel dat gesondheidsdienste van sowel die private as staatsektor aangeskaf gaan word. “’n Deursigtige, wetenskaplike raamwerk vir strategiese verkryging sal verantwoordbaarheid verseker en toegang tot gesondheidsorg verbeter.”

NGV gaan in fases oor ’n tydperk van nege jaar in werking gestel word. Die volgende stap is debatte in die parlement oor die wetsontwerp en Mediclinic sê hy sal deurgaans deel bly van gesprekke oor NGV.

Die groep het opnuut herhaal dat hy die “beginsel van universele gesondheidsdekking” ondersteun en konstruktief sal werk om toegang tot mediese dienste, en die bekostigbaarheid daarvan, te verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2381,58 (472)
  • Top 40 48158,37 (4141)
  • All Share 53874,52 (3359)
  • Resource 10 42374,38 (-13158)
  • Financial and Industrial 30 72821,17 (16551)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.