Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
‘NGV se prys is R30 mjd.’

Die regering kon in die afgelope jaar 25% van sy geld om die nasionale gesondheidsversekering (NGV) op dreef te kry, nié bestee nie omdat hy bloot nie kon nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Tog het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Vrydag gesê sy departement is nou gereed om volstoom voort te gaan met die NGV-implementering en skat hulle sal in die toekoms ’n bykomende R30 miljard per jaar hieraan bestee.

Die tesourie het die afgelope twee weke egter verdoemende syfers oor Mkhize se departement aan LP’s oorgedra. Sowat R600 miljoen wat bestem was om die aanvoorwerk vir die NGV te doen – soos om staatshospitale op te knap – was teen die vierde kwartaal van 2018 nié bestee nie. Dis minstens 25% van die begroting.

Die R30 miljard per jaar was die eerste keer wat die regering ’n prysskatting aan die NGV gekoppel het. Mkhize se voorganger, dr. Aaron Motsoaledi, het bloot gesê dis die tesourie se werk en nie syne nie om die somme te maak.

Dié beraming is, volgens Mkhize, gegrond op uitgawes soos die verspreiding van chroniese medisyne en antiretrovirale middels, besoeke aan voorgeboorteklinieke en tariewe vir dokters wat ’n vasgestelde maandelikse bedrag betaal sal word om ’n sekere aantal pasiënte in ’n gebied te versorg.

’n Nasionale besteding van R30 miljard is egter ’n vulletjie teenoor wat gesondheidsorg tans in die land beloop.

Luidens die Raad op Mediese Skemas se jongste jaarverslag het mediese fondse in 2017 ’n totaal van R160,5 miljard aan private mediese sorg bestee. Net sowat 8 miljoen mense in die land het mediesefondsdekking.

Onmiddellike planne

Enigiemand wat hoop die NGV sal vinnig in werking tree, sou teleurgesteld wees in Mkhize se aankondiging. Onmiddellike planne sluit in:

  • 30 bestuurders is aangestel wat in die volgende vier weke op studietoere sal gaan na Japan, Brittanje en Frank­ryk en ander Europese lande om te gaan leer oor ’n universele gesondheidsorgstelsel.
  • Mkhize sê die NGV-fonds self sal onmiddellik R57 miljoen kry. Die bedrag sal dan aangroei tot R145 miljoen. Op mediumtermyn sal dit R287 miljoen wees. Hy het benadruk dat dit nie “nuwe geld” is nie, maar geld wat reeds “in die stelsel is”. Dit is egter nie naastenby genoeg om ’n volskaalse NGV-fonds wat die enigste aankoper van mediese dienste is – soos die uiteindelike NGV-plan beoog – binnekort in werking te stel nie.

Die onregstreekse toelae vir die NGV is aansienlik meer, maar kenners wys daarop dat dié projekte – soos om X-straaldienste aan te skaf en skoolklinieke te beman – net funksies is wat die openbare gesondheidstelsel in elk geval moet verrig.

Om die sukkelende openbare gesondheidsektor reg te kry vir enige soort NGV-diens waaraan burgers uitgelewer kan word, sal die departement probeer om vanjaar nog duisende poste vir dokters, verpleërs en gemeenskapswerkers te vul.

“Ons kyk ook daarna om al die inwonende mediese personeel wat kwalifiseer in diens te neem – insluitend die verwagte 700 gegradueerdes wat tans in Kuba opgelei word,” het Mkhize gesê.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer van gemeenskapsake by AfriForum, het aan Rapport gesê die gebrek aan duidelike syfers en teikens is waarskynlik doelbewus omdat die geld bloot nie beskikbaar is nie.

Die NGV is nie eens naastenby gereed nie en niemand weet werklik wat dit gaan kos, of wat dit al reeds gekos het nie.
Dr. Eugene Brink van AfriForum

“Die NGV is nie eens naastenby gereed nie en niemand weet werklik wat dit gaan kos, of wat dit al reeds gekos het nie.”

Hy sê as die regering nie nou eens die gewone funksies wat van ’n gesondheidsdepartement verwag word kan uitvoer nie, sal hulle ook nie ’n groter, meer komplekse stelsel soos die NGV kan bedryf nie.

“Dit is hoekom Suid-Afrika, ten spyte van die hoë besteding aan gesondheidsorg, steeds agtergeblewe is met betrekking tot uitkomste soos lewensverwagting.”

Hy sê al hoe meer mediese personeel sal die gesondheidsorgbedryf verlaat uit vrees dat hulle gedwing sal word om vir die staat te werk wanneer die NGV ingestel word. “Dit versnel reeds die emigrasie van medici – daar sal dus al hoe minder personeel wees om iets soos die NGV aan die gang te hou.”

Mislukte toetsprojekte

Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het ná Mkhize se toespraak gesê dis duidelik dat die regering geen lesse uit sy vorige mislukte projekte geleer het nie.

Baie mense vra wat die NGV gaan kos, maar ons is gemoeid daarmee om lewens te red. Daar is genoeg hulpbronne om om te sien na diegene wat dit die nodigste het.
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid

“Die NGV se aanvoorprojekte was tot dusver ’n klaaglike mislukking,” het sy gesê.

Rapport het vroeër berig dat van die aanvoorprojekte katastrofies behartig is deur staatsinstansies en dat die regering by die private sektor moes gaan aanklop om hulp te kry met bestaande pligte wat deur die staat behartig moes word.

Mkhize het Vrydag voet by stuk gehou dat die NGV ten alle koste verwesenlik sal word en dat menslike lewens nie deur middel van geld gemeet kan word nie.

“Baie mense vra wat die NGV gaan kos, maar ons is gemoeid daarmee om lewens te red. Daar is genoeg hulpbronne om om te sien na diegene wat dit die nodigste het.

“Dit is wat maatskaplike samehorigheid is – diegene wat gesond is, het dit (gesondheidsorg) nie onmiddellik nodig nie. Diegene wat jonk is, het dit nie onmiddellik nodig nie.”

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal verantwoordelik vir die NGV, het by navraag gesê die departement het reeds “verskeie maatreëls” in plek om aandag te gee aan die onderbesteding van die NGV-toelae.

Hy het egter nie nadere besonderhede verstrek nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2085,82 (-20024)
  • Top 40 51145,55 (37671)
  • All Share 57123,78 (34185)
  • Resource 10 44133,06 (45362)
  • Financial and Industrial 30 78010,93 (42741)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.