Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
A tot Z van die NGV-wet
Verwag ’n omwenteling in gesondheidsorg soos wat Nasionale Gesondheidsversekering in werking gestel word.

Kragtens die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering sal mediese fondse nog bestaan vir aanvullende dienste wat nie deur Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gedek word nie.

Belanghebbendes het nou drie maande om kommentaar te lewer.

Van die belangrikste kwessies vir verbruikers wat die wet uiteensit, volg hier onder.

Wie kan lid van die fonds wees?

Benewens alle Suid-Afrikaanse burgers (insluitende gevangenes) sal mense met permanente verblyfreg ook lid van die fonds kan wees.

Vlugtelinge en asielsoekers wat nie vlugtelingstatus het nie sal die NGV se nooddienste en dienste vir aanmeldbare toestande kan benut. Hulle sal ook toegang kry tot pediatriese dienste en dienste vir swanger vroue op primêre gesondheidsvlak.

’n Tydelike inwoner sal verpligte reisversekering moet uitneem om toegang tot noodbehandeling en ander dienste te kry ingevolge die versekeringskontrak.

Registrasie

n Pasiënt kan net deur ’n geakkrediteerde en gesertifiseerde diensverskaffer behandel word as hy as lid van die NGV-fonds geregistreer is.

’n Lid moet ook sy afhanklikes registreer. ’n Persoon tussen 12 en 18 jaar kan aansoek doen om te registreer as hy nie reeds as ’n afhanklike geregistreer is nie.

’n Geakkrediteerde instelling sal die nommers uitreik en moet ’n register van begunstigdes en hul afhanklikes byhou.

Die wetsontwerp lys talle regte van die lede van die fonds, soos om “gehalte gesondheidsdienste gratis by gesertifiseerde en geakkrediteerde gesondheidsdiensverskaffers te kry. Dit sluit ook in om toegang tot die dienste (soos operasies) te kry binne ’n redelike tyd”.

Die regte sluit in om “aanvullende gesondheidsvoordele te koop wat nie deur die fonds gedek word nie op ’n vrywillige basis van ’n mediese fonds” of enige ander gesondheidsversekering, of dit self te betaal.

Betaling

’n Gebruiker sal ’n spesifieke verwysingsroete moet volg, anders gaan die fonds nie vir die dienste opdok nie.

Daar is ook sekere omstandighede waaronder nie betaal gaan word nie, soos onder meer as ’n dokter redelikerwys kan toon daar was geen mediese rede vir die diens nie.

Voordele

Lede sal by ’n dokter (of ’n verskaffer van primêre gesondheidsorg) van sy keuse geregistreer moet wees wat eers besoek moet word om die voordele van die fonds te benut.

’n Lid sal nie ’n spesialis of hospitaal mag besoek sonder ’n verwysing van dié dokter nie, behalwe in ’n noodgeval.

Die advieskomitee oor voordele sal saam met die minister en die NGV-raad bepaal watter dienste of voordele aangebied gaan word.

Die komitee sal onder meer die finansies van die NGV-fonds in ag moet neem wanneer bepaal word watter voordele aangebied word.

Dekking

Vir die verbruiker beteken dit hy gaan gesondheidsdienste ontvang van ’n gesertifiseerde en geakkrediteerde diensverskaffer teen geen koste by die punt van verskaffing nie.


Inligtingstelsel

Die NGV-fonds moet help met die ontwikkeling en instandhouding van ’n nasionale bewaarplek en datastelsel vir gesondheidsinligting.

Verskaffers sal vir die doeleindes van betaling inligting moet verskaf wat insluit: ID-nommers; visumbesonderhede; aankope-kodes volgens ’n voorgeskrewe kodestelsel; besonderhede van die behandeling; diagnostiese toetse wat aangevra is; hoe lank ’n persoon in die hospitaal gebly het; en waarheen ’n persoon verwys is.

Die fonds kan dié inligting gebruik om sy prestasie te monitor en sy werksaamhede te verfyn.

Daar sal bepalings en voorwaardes wees ten opsigte van die openbaarmaking van dié inligting.

Klagtes

Die wetsontwerp sit uiteen hoe klagtes gehanteer sal word. Appèl sal by ’n appèltribunaal aangeteken kan word teen ’n besluit van die fonds.

Die magte van die tribunaal is dieselfde as dié van die hooggeregshof en mense sal gedagvaar kan word om te getuig.

Oortredings

Die wetsontwerp maak voorsiening vir boetes as iemand byvoorbeeld vals inligting aan die fonds gee of die geld gebruik vir ’n doel waarvoor dit nie bedoel is nie.

’n Boete van tot R100 000 en tronkstraf van vyf jaar of albei kan opgelê word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.