Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
‘NGV volhoubaar, want dit kom uit belasting’

Daar sal genoeg geld wees vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), want die regering gaan belastinggeld daarvoor gebruik. Só het dr. Olive Shisana, die NGV-adviseur van die president, die afgelope week aan parlementslede gesê. “Dit (die NGV) is volhoubaar omdat dit gefinansier sal word deur belastingbetalers. Maar die belasting gaan heelwat minder wees as die bydraes wat hulle tot hul mediese fondse maak.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid vroeër vanjaar op ’n besoek aan Pelonomi-hospitaal in Mangaung Foto: Kabelo Tlhabanelo

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, amptenare van die departement en NGV-adviseurs het die portefeuljekomitee oor die wetsontwerp toegespreek.

In vraetyd het parlementslede die afvaardiging gepeper met vrae – merendeels oor hoe die regering voornemens is om die NGV te finansier – veral as Suid-Afrika se belastingbasis aanhou krimp.

Belastinginvordering in Suid-Afrika was power die afgelope paar jaar en die Inkomstediens (SAID) sal heel waarskynlik sy inkomsteteiken vir die sesde agtereenvolgende keer mis terwyl die getal belastingbetalers wat persoonlike inkomstebelasting betaal, al hoe kleiner word.

Mkhize het die afgelope week herhaal dat die regering voornemens is om die NGV te finansier deur belastingkrediete op mediese fondse af te skaf, asook deur ’n belasting op betaalstate en ’n bykomende taks op inkomstebelasting te hef.

Sedert die NGV-wetsontwerp op 8 Augustus bekend gemaak is, het dit ’n fel debat ontketen – veral omdat dit miljarde rande per jaar sal kos wat Suid-Afrika se sukkelende ekonomie kwalik kan bekostig. Mkhize en sy adviseurs, onder wie Shisana, het egter voet by stuk gehou dat die NGV allermins die ekonomie sal ruïneer. “Ons het nie groot bedrae geld nodig nie,” het Shisana volgehou. “Onthou, ons gebruik nie ‘nuwe’ geld nie, maar wel die bestaande R287 miljoen (wat op medium termyn bewillig is).”

Oor die ekstra R30 miljard wat die nasionale tesourie beraam het die NGV die staatskas sal kos wanneer dit ten volle in werking gestel is, het Shisana gesê dit sal eers ter sprake kom in 2024-’25 (wanneer die NGV sy finale fase sal betree). “Ons sal nie die land se ekonomie vernietig nie. Die kosteberekeninge is gemaak.”

Dr. Aquina Thulare, tegniese adviseur oor die NGV, het Shisana se optimisme gedeel. Volgens haar sal die NGV nie meer as 3% van sy begroting bestee aan die administrasie daarvan nie.

Volgens Thulare is die model ingevolge waarvan die NGV die enigste aankoper van gesondheidsdienste is, vergeleke met ander modelle waar daar veelvuldige aankopers is, die doeltreffendste vir ’n land soos Suid-Afrika. Wanneer die regering die enigste aankoper is, vorder die regering belasting in, word inkomste saamgevoeg in een poel en dienste namens die hele bevolking aangekoop. In gevalle waar daar veelvuldige aankopers van gesondheidsdienste is, is daar verskeie poele van inkomste met verskillende risikovlakke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.