Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Nuwe plan vir hospitaal-lisensies ‘dringend’

’n Nuwe stelsel om hospitaal-lisensies toe te staan, moet dringend ontwikkel en in werking gestel word.

Só word aanbeveel in die finale verslag van die markondersoek na die private gesondheidsbedryf wat Maandag uitgereik is.

Netcare se Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad. Die markondersoek reken die drie grootste hospitaalgroepe maak mededinging moeilik.

Daar is dus afgesien van die aanvanklike aanbeveling van ’n moratorium op die toestaan van lisensies vir die drie groot hospitaalgroepe – Netcare, Mediclinic en Life Healthcare – en dat hulle gedwing word om van hul hospitale van die hand te sit.

In die finale verslag word aanbeveel dat die Mededingingskommissie strenger sal kyk na samesmeltings en dat ’n nuwe stelsel om lisensies toe te staan, wat op die behoeftes van die bevolking gegrond is, ontwikkel en in werking gestel word.

Oudregter Sandile Ngcobo, hoof van die ondersoekpaneel, sê die aanvanklike aanbeveling sou bitter moeilik gewees het om toe te pas. “Disinvestering is baie kompleks.”

3 hospitaalgroepe oorheers die mark

Die markondersoek het in sy finale verslag bevind dié drie hospitaalgroepe oorheers die mark. Hul gesamentlike markaandeel is meer as 90% op grond van die geregistreerde getal algemene hospitaalbeddens in 2016.

Op grond van drie metodes van berekening is die konsentrasie in die hospitaalmark in Suid-Afrika groter as wat in ander markte as “hoogs gekonsentreerd” beskryf word.

Volgens Ngcobo betwis van die hospitaalgroepe die bevindinge oor markkonsentrasie.

“Hulle neem die siening in dat die geriewe matig gekonsentreerd is. Ons siening is dat dit hoogs gekonsentreerd is.”

Die markondersoekspan is ook nie oortuig van die bedryf se argumente dat snelle “dekonsentrasie” in die mark plaasvind nie.

‘Wou hoor wat rolspelers sê’

Daar is in die voorlopige verslag reeds kommer uitgespreek oor die hoë markkonsentrasie en dat die bestaande lisensiestelsel nie die situasie verlig nie.

Talle opsies is oorweeg, waaronder disinvestering en ’n moratorium op die toestaan van lisensies vir enige verdere beddens aan die drie groot hospitaalgroepe.

Die moratorium sou geld totdat die drie groepe se nasionale markaandeel elk nie meer as 20% is nie.

Dr. Cees van Gent, ’n lid van die ondersoekpaneel, sê hulle het geweet hul voorstelle in die voorlopige verslag sou moeilik wees om toe te pas.

“Ons het dit nogtans gedoen, want ons wou hoor wat die rolspelers sê.”

Die oorweldigende reaksie was dat dit onprakties is. “En dit word deur lang uitgereikte regsgedinge gekenmerk, soos in Brittanje gebeur het.”

Volgens hom was die markondersoekspan ook bekommerd dat dié antwoord dalk nie “proporsioneel tot die probleem” is nie.

Daar is dus aanbeveel dat die Mededingingskommissie strenger oor samesmeltings moet wees.

Tembinkosi Bonakele, kommissaris van mededinging, sê ook ’n aanbeveling van disinvestering “sou uitdagings meebring”.

Verminder konsentrasie so

’n Strenger behoefte-gegronde gesentraliseerde lisensiestelsel wat mededinging en markkonsentrasie in ag neem, is ’n antwoord.

Dit moet “volledig en dringend in werking gestel word”.

Daar word aanbeveel dat die nuwe reguleerder van gesondheidsorgverskaffers verantwoordelik moet wees vir die ontwikkeling van dié sentrale lisensiëringsmodel.

Ngcobo sê die meeste rolspelers steun só ’n sentrale stelsel.

“Daar is konsensus dat ’n dringende hersiening van die stelsel noodsaaklik is.”

Die rol van die provinsiale regerings moet beperk word tot die inwerkingstelling van die voorgeskrewe lisensiëringsmodel.

Omdat die markondersoekspan glo dit gaan lank duur vir die nuwe reguleerder om gevestig te word, is ’n tussentydse voorstel gemaak dat die departement van gesondheid dringend ’n taakspan aanstel wat saam met die private sektor ’n nuwe lisensieraamwerk ontwikkel.

Gegewe hoe dringend dit is, moet die taakspan die raamwerk binne drie maande voltooi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.