Mense wat asem ophou oor die uitslag van die markondersoek oor die koste van private gesondheidsorg, hoef nie lank te wag om te hoor wat die nuwe datum vir die finalisering van die verslag is nie.
Dit is waarskynlik min troos vir verbruikers wat op 24 Januarie moes hoor dat die werk van die markondersoek weens ’n geldnood tot einde Maart opgeskort is.
Lees ook: Ondersoek oor medies staak werk oor geldnood
Die finale verslag was veronderstel om einde Maart uitgereik te word.

Private gesondheidsorg word jaarliks met meer as die inflasiekoers duurder, wat mediese fondse en reguleerders diep bekommer. Foto: Unsplash
Dié aankondiging is deur die Mededingingskommissie gemaak onder wie se vaandel die ondersoek uitgevoer word. In die kennisgewing is gesê die publikasie van die finale verslag van die markondersoek is weens begrotingsbeperkings vertraag.
In ’n nuwe kennisgewing wat Maandag uitgereik is, beloof die ondersoekpaneel, onder leiding van oudregter Sandile Ngcobo, datt hy sy werk sál voltooi en die finale verslag en aanbevelings sal publiseer.
Seminare wat in Februarie sou plaasvind met die bedryf om sekere aangeleenthede verder te ondersoek, word uitgestel.
“Hierdie seminare sal geprioritiseer word en sal plaasvind wanneer die ondersoekspan in die eerste kwartaal van die nuwe boekjaar sy werk voortsit.
“Die belangegroepe wat reeds hul aanbiedings voorberei het, is welkom om dit in te dien. Die ander moet voor einde Maart hul aanbiedings indien.”
Die ondersoekpaneel beloof ook om die nuwe datum vir die finale verslag en die aanbevelinge in die Staatskoerant te publiseer en dat ’n aangepaste rooster voor einde Februarie uitgereik sal word.
Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het begin Januarie gesê die ondersoek het die afgelope vier jaar byna R200 miljoen gekos.
Netwerk24 het bereken dit beteken dat dit oor die sowat 1 250 werkdae sedert die begin van Januarie 2014 tot nou, nagenoeg R160 000 per dag gekos om die ondersoek te doen.
Die totale bydraes van lede in 2017 tot mediese skemas het R179,8 miljard beloop nadat die bydraes van 2016 af met R16,1 miljard of 9,9% gestyg het.
Dit beteken die koste van die ondersoek oor die vier jaar het minder as 0,1% van die jaarlikse bydraes beloop.
Die gesondheidsaktiviste Section 27 het voorheen oor die onderbreking van die werk van die ondersoekspan gesê “dit lyk of die politieke wil ontbreek” om die ondersoek af te handel. “As die markondersoek vir die regering ’n prioriteit was, sou die geld gevind kon word...”
Mapato Ramokgopa, nuwe direkteur van die markondersoek, het by navraag gesê dit is net die eksterne konsultante en die ondersoekpaneel wie se werk gestaak is omdat hulle nie nou betaal word nie. Die tegniese span wat personeel van die Mededingingskommissie is wat vir die markondersoek werk, gaan in die tussentyd voort met hul werk.