Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Ondersoeke na probleme by Discovery, Gems klaar

Die ondersoek na beweerde ongerymdhede by die Discovery Health Medical Scheme (DHMS) en die mediese fonds vir staatsamptenare (Gems) is afgehandel.

discovery
Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health. Foto: Leánne Stander

Dit blyk uit die Raad op Mediese Skemas (RMS) se jongste jaarverslag vir die boekjaar tot einde Maart, wat Vrydag uitgereik is.

Netwerk24 het voorheen berig dit hou verband met bewerings dat die twee mediese fondse nie wetsvoorskrifte gevolg het met die betaling van verpligte minimum voordele (VMV) nie.

DHMS en Gems is onderskeidelik die grootste en naasgrootste mediese fondse in die land.

Mediese fondse is verplig om elke VMV-eis ten volle te betaal. Hulle mag aangewese diensverskaffers hê wat lede moet gebruik om ’n bybetaling te vermy.

LEES OOK: Hieroor gaan ondersoek na Gems, Discovery

Luidens die jongste jaarverslag is die ondersoek na DHMS afgehandel. Die “finale inspeksieverslag word bekyk met die voorneme om waar nodig direktiewe uit te reik”.

Direktiewe is ’n opdrag aan ’n mediese fonds om nie-nakoming reg te stel.

Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health, het Dinsdag by navraag bevestig beide die administrateur en die mediese skema het die konsepverslae oor die inspeksie al in die derde kwartaal van 2018 ontvang en het daarna hul kommentaar aan die RMS verskaf.

“Omdat die proses nog nie gefinaliseer is nie, is ons nie in ’n posisie om kommentaar te lewer oor die bevindinge of ons reaksie nie.”

Dr. Sipho Kabane, die registrateur van mediese fondse, wou nie uitwei oor die bevindinge van die ondersoek nie omdat dit vertroulik is.

Die RMS sê Gems se reaksie op die konsepverslag is ook ontvang en word bekyk.

In verlede jaar se jaarverslag is ook verwys na inspeksies oor beweerde ongerymdhede by Bonitas en Resolution Health.

In die jongste jaarverslag word glad nie weer na die inspeksie by Resolution Health verwys nie.

Oor Bonitas word gesê die fonds se reaksie op die konsep-inspeksieverslag is in die eerste kwartaal van die volgende verslagtyd verwag (dus teen einde Junie vanjaar).

Die status van die ondersoeke was onseker in die afgelope boekjaar omdat Stephen Mmatli, die RMS se gewese hoof van ondersoeke, vroeg in die boekjaar geskors is hangende ’n ondersoek na bewerings van korrupsie. Die inspeksies is onder sy toesig begin en uitgevoer.

LEES OOK: Amptenaar geskors wat mediese fondse ondersoek

Hy het onlangs bedank kort voor sy dissiplinêre verhoor kon begin.

Hy het vroeg in Oktober gesê hy het bedank omdat die RMS nie voor die verhoor inligting aan hom wou verskaf oor die aantygings teen hom nie en omdat hy glo die proses wat gevolg is, is onbillik. “Ek ontken die aantygings van korrupsie en dat ek die raad mislei het. Ek was nooit voorsien van besonderhede oor gereguleerde entiteite waarmee ek na bewering ’n korrupte verhouding gehad het nie.”

Onreëlmatige besteding

Die inspeksies het wel die RMS in die warm water weens “onreëlmatige besteding”.

Kabane sê die afgelope boekjaar se onreëlmatige besteding van R16,1 miljoen was weens dieselfde redes as wat in die vorige boekjaar gegee is, naamlik ’n probleem van die ouditeur-generaal (OG) in RMS se verkrygingsproses gevind het.

Volgens Kabane word die inspeksies uitgekontrakteer aan ’n poel van verskaffers. Wanneer nodig, word iemand uit dié poel aangestel om die inspeksies te doen.

Die OG meen die poel is nie volgens die voorgeskrewe reëls saamgestel nie. Geld wat dus betaal is aan iemand aan wie ’n diens uitgekontrakteer is, word as “onreëlmatige besteding” aangetoon.

Kabane het gesê teen die tyd dat die OG in 2018 die fout opgespoor het, was hulle reeds in die 2019-boekjaar.

Dié nienakoming van die verkrygingsproses is intussen reggestel.

Die grootste deel van die onreëlmatige besteding in die afgelope boekjaar, naamlik R10 miljoen, hou verband met hoe die paneel van inspekteurs aangestel is.

Nog R4,6 miljoen is onreëlmatig bestee omdat die paneel van prokureurs wat die RMS gebruik vir regsadvies, ook nie volgens die reëls aangestel is nie.

“Die oorsaak van die onreëlmatige uitgawes is ondersoek en die bevinding is dat die entiteit nie enige verlies gely het nie omdat die uitgawes aangegaan is vir die bedrywighede van die RMS,” lui die jaarverslag.

Daar is kwytskelding van die OG gevra vir dié bevinding oor onreëlmatige uitgawes.

LEES OOK: Vrae oor waghond oor mediese skemas se inspeksies

Die RMS het intussen ook vir Daniel Lehutjo, die voormalige finansiële hoof, en Craig Burton-Durham, die hoof van regsdienste, hangende ’n ondersoek geskors.

Burton-Durham het aan Netwerk24 gesê hy ontken alle aantygings teen hom en behou die reg voor om op ’n latere stadium volledig te reageer.

Lehutjo wou nie kommentaar lewer nie omdat dit deel van die bepalinge van sy skorsing is om nie kommentaar te lewer nie. 

Luidens die jaarverslag was daar in die 2019-oudit ’n ouditbevinding ten opsigte van bedrieglike kwotasies met verskaffers wat óf finansiële wangedrag óf onreëlmatige besteding tot gevolg kan hê.

“Die bestuur doen tans ’n interne ondersoek om te bepaal of daar moontlike finansiële wangedrag was.”

Meer oor:  Gems  |  Discovery  |  Premies  |  Hospitale  |  Mediese Fondse  |  Mediese Behandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.