Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
‘Ons moet NGV 1ste keer regkry,’ sê Outa
Die beplande nasionale gesondheidskema hou vele risiko's in, meen kenners.

Suid-Afrika het nie die hulpbronne om foute te maak met die inwerkingstelling van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie – dit moet van die begin af reg gedoen word.

So sê dr. Heinrich Volmink van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) in dié organisasie se ontleding van alles wat fout is met die Wetsontwerp oor die NGV, wat twee weke gelede uitgereik is.

Volmink, uitvoerende direkteur van Outa se nasionale divisie, sê Outa het talle probleme met die wetsontwerp geïdentifiseer.

Die organisasie nooi mense nou uit om konstruktiewe voorstelle te doen oor gesondheidsorg wat die organisasie wil inwerk by sy voorleggings wanneer die proses van openbare deelname oor die wetsontwerp eersdaags begin. Die wetsontwerp sal dan hersien word voordat dit in werking gestel word.

Outa se vier grootste risiko’s is:

  • Die swak gehalte van bestaande openbare gesondheidsorg: “Dit skep ’n enorme risiko om ’n nuwe stelsel bo-op ’n gebroke gesondheidstelsel in werking te stel sonder om eers daardie stelsel reg te maak.”
  • Die risiko van korrupsie: “Ons het ’n nimmereindigende lys voorbeelde gesien van staatsgeld en -entiteite wat vir plundery geteiken is. Ons moet ’n onaantasbare stelsel daarstel vir die beskerming van groot fondse voordat ons so ’n enorme nuwe onderneming in die gevaar stel.”
  • Die finansiering van die NGV: “Belastingbetalers sukkel reeds. Die meeste van die openbare bekommernis oor die wetsontwerp kom daaruit dat mense bang is hulle sal hoër rekeninge en belasting hê, maar aansienlik minder gesondheidsorg. Ons land steier al hoe dieper en dieper in die skuld, met geen moontlikheid van ekstra geld vir die NGV nie.”
  • Die mislukking van NGV-toetsprojekte: “Waarom gaan ons voort met die NGV pleks daarvan dat ons leer uit die toetsprojekte en heroorweeg wat kan werk?”

Outa sê universele gesondheidsorg is nie-onderhandelbaar; dit word ook in art. 27 van die Grondwet verskans. “Ons glo egter tensy die NGV-wetsontwerp beduidend verander word, gaan dit ons nie by dié doelwit kry nie.”

Volmink sê geen Suid-Afrikaner moet “katastrofiese finansiële risiko trotseer weens siekte of besering nie”.

“Ons verstaan die diepliggende kommer van lede van die publiek wat die stelsel moet gebruik, die gesondheidsorgwerkers wat dit sal moet bedryf, en mense wat bekommerd is oor werkverliese by mediese fondse en die breër gesondheidsektor.

“Ons sou graag wou sien dat al dié bekommernisse lei tot konstruktiewe voorstelle om die debat vorentoe te neem.”

Outa sê daar is geen waarborg dat die NGV toegang tot gesondheidsorg vir armes sal verbeter nie. “Ons is bekommerd dat die sentralisering van die stelsel in die NGV – as dit nie behoorlik bestuur word nie – hulle selfs meer gemarginaliseer sal laat.”

Outa is ook bekommerd dat die raad van die NGV-fonds net deur die minister van gesondheid aangestel sal word. “Ons sal verkies dat die raad bestaan uit kundiges wat deur ’n verskeidenheid rolspelers, soos die president, burgerlike samelewing, beroepsliggame en akademici benoem sal word. Alternatiewelik, sou ons wou sien dat die raad deur ’n parlementêre proses aangestel word.”

Nagenoeg 12% van die nasionale begroting word reeds aan gesondheid bestee – die derde hoogste persentasie ná opvoeding en maatskaplike ontwikkeling.

“Ons kry nie waarde vir geld vir dié besteding nie. Die oplossing moenie wees om meer geld na die probleem te gooi nie – geld wat ons nie kan bekostig nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2085,82 (-20024)
  • Top 40 51145,55 (37671)
  • All Share 57123,78 (34185)
  • Resource 10 44133,06 (45362)
  • Financial and Industrial 30 78010,93 (42741)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.