Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Pasop: Discovery-portaal plaas jou nié op waglys

Discovery Health se aanlyn “inentingsportaal” open volgende week, maar mense moenie dink dit plaas hulle op die waglys vir inentings nie.

Rusland se plaaslik vervaardigde entstof teen Covid-19, Spoetnik V (Gam-Covid-Vac). Foto: Reuters

Die maatskappy het Vrydag ’n e-pos aan mediesefondslede uitgestuur kort voordat die nasionale departement van gesondheid om 16:00 sy datastelsel oopgestel het vir mense van 60 jaar of ouer wat vir ’n inenting wil registreer.

Registreer hier as jy 60 jaar of ouer is.

Die Discovery-portaal sal oop wees vir lede van Discovery Health- Mediese Skema sowel as geslote fondse wat deur Discovery geadministreer word.

Dis egter baie belangrik om daarop te let dat die Discovery-portaal jou nié op die waglys vir ’n inenting self plaas nie. Discovery het vroeër aangekondig sy portaal gaan mense bloot bykomende inligting gee en hulle bystaan waar nodig.

Jy móét op die nasionale departement van gesondheid se datastelsel registreer as jy ingeënt wil word. Discovery maak dit self ook duidelik.

“Almal in Suid-Afrika wat die Covid-19-entstof wil ontvang, moet op die nasionale departement van gesondheid se elektroniese datastelsel vir inentings (EVDS) registreer. Dié registrasieproses word deur die nasionale departement van gesondheid gekommunikeer en bestuur.”

In dié stadium kan net gesondheidswerkers en mense van 60 jaar en ouer registreer. Daar word verwag dat registrasie vir jonger mense later sal begin.

Discovery se “Covid-19-inentingsportaal” sal “bykomende funksies en pasgemaakte steun” aan lede verskaf. Meer inligting oor presies watter funksies of steun bedoel word, is onduidelik. Discovery belowe hy sal in die week wat kom meer inligting verskaf.

Registrasie op die EVDS gee vir jou ’n “inentingskode” en mense sal glo binne 24 uur ná registrasie ’n SMS ter bevestiging ontvang dat hul registrasie suksesvol was. Die plek en tyd van hul inentings word “nader aan die tyd” ge-SMS.

LEES OOK: Sentrums vir verswaktes al vroeër vir inentings geregistreer

Teen Sondag het 64% van lesers wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, gesê hulle het geregistreer en dit was maklik. 16% het gesê hulle het nog nie geregistreer nie, maar gaan beslis. 14% het aangedui hulle vertrou nie entstowwe nie en gaan nie registreer nie, terwyl 5% nie wil registreer nie omdat hulle nie kans sien vir lang rye met die inentings self nie.

Geen Suid-Afrikaner betaal vir inentings nie. Inentings is ’n voorgeskrewe minimum voordeel vir mediesefondslede wat fondse verplig is om te betaal.

Mense moet wel hul mediesefondskaart saamneem wanneer hulle ingeënt word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.