Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Pasop vir Paasfees se 3de vlaag, maan Discovery

As groot byeenkomste oor Paasfees nie beperk gaan word nie, gaan dit ’n derde vlaag van Covid-19-infeksies meebring wat soortgelyke sterftes tot gevolg gaan hê as met die tweede vlaag.

pase
Paasnaweek is vanjaar van 2 tot 5 April. Foto: Pixabay

Adrian Gore, uitvoerende hoof van die Discovery-groep, het aan beleggers op ’n voorlegging van die halfjaarresultate van die groep Donderdag gesê die tweede vlaag was baie erger onder Discovery se teikenmark, wat hoërinkomstegroepe is, as die eerste vlaag.

Sterftes was in die tweede vlaag 24% meer by Discovery Life en Discovery Health se kliënte.

Die finansiële invloed was 123% hoër ten opsigte van die geldwaarde van die lewenseise wat uitbetaal moes word, terwyl baie meer eise ook gekry is.

Die groep het 5 711 sterftes onder lede en polishouers van Discovery Health, Discovery Life en Vitality Life van Brittanje tot op hede beleef.

Dit is belangrik vir die groep om te verstaan wat met die tweede vlaag gebeur het en wat dit veroorsaak het. Hul ontledings en modellering toon die beweging van mense na die kus, die vakansietyd en sekere superverspreidingsbyeenkomste het tot die tweede vlaag bygedra.

Google Mobility-data is op die voorlegging getoon wat wys hoe die beweging van mense begin toeneem het namate die inperking ná die eerste vlaag verslap is en hoe beweging wesenlik in Desember gestyg het.

Die groep het ook van die superverspreidingsbyeenkomste soos matriekvakansies ontleed en dit toon hoe die infeksiekoerse onder die ouderdomsgroep van 16 tot 20 jaar binne dae baie skerp gestyg het.

“Wat ons uit die tweede vlaag geleer het, is dat byeenkomste en superverspreidings wesenlike gebeure is wat ons moet probeer keer terwyl ons op immuniteit en entstowwe wag.”

Die Discovery-groep het onlangs internasionaal opslae gemaak toe daar gesê is hy glo meer as 50% van die land se mense het reeds die virus onder lede gehad.

Gore het verduidelik die syfer is gegrond op oormatige sterftes. Die oormatige sterftes in die land het saam met die twee vlae van infeksies hul kruin bereik.

“Mens kan aanneem dat die meeste van die sterftes met Covid-19 verband hou, maar nie so geklassifiseer is nie. Die Covid-19-sterftes van meer as 40 000 is dus nader aan 140 000.”

Volgens hom het hulle op grond van dié syfers en die beskikbare inligting oor Covid-19 bepaal hoeveel mense in die bevolking reeds die virus opgedoen het.

Hy sê dit was belangrik om herinfeksie te probeer verstaan om te bepaal hoe groot ’n derde golf kan wees, veral in die konteks van hoeveel mense die virus reeds gehad het. Die getal wat hulle gebruik, is dat ’n derde van mense wat dit gehad het met die nuwe variant besmet kan word. Op grond daarvan is die modellering gedoen om scenario’s vir die derde vlaaggolf te bepaal.

Een scenario is dat die tweede vlaag met sosiale distansiëring en dissipline, asook met die verspreiding van die entstof net ’n afloop gaan hê. Dit gaan nie ’n werklike wesenlike derde vlaag veroorsaak nie en sterftes sal waarskynlik 20% van die tweede vlaag s’n wees.

Indien daar ’n paar superverspreidingsbyeenkomste plaasvind, tesame met herinfeksie, gaan 100% van die tweede vlaag se sterftes egter verkry word.

As daar ’n paar superverspreidingsbyeenkomste plaasvind, met herinfeksie, maar die entstof word behoorlik versprei, kan die sterftes gehalfveer word.

Gore sê twee belangrike punte kom uit dié inligting na vore.

“Vanuit ’n beleidsoogpunt is dit belangrik om te beklemtoon dat byeenkomste oor die Paastyd vermy moet word sodat wat in Desember gebeur het, nie weer gebeur nie.”

Tweedens moet die entstofprogram suksesvol en vinnig geïmplementeer word.

Hy hoop gesondheidswerkers (fase 1) en hoërisikomense (fase 2) sal al teen die middel van die winter klaar ingeënt wees.

Gore sê hulle het geraam dat, met ’n inisiatief waaraan hulle deelneem om 40 tot 50 inentingstasies oor die land heen in te rig sodat inentings “aktief kan plaasvind”, sowat 40 000 tot 50 000 mense per dag ingeënt kan word.

Medscheme verwag kleiner vlaag

Die groot mediesefondsadministrateur Medscheme het ook in die tweede vlaag gesien opnames in hospitale het die vorige kruin met 43% oorskry.

Dr. Lungi Nyathi, bestuurder van kliniese risiko’s en advies by Medscheme, sê hul modellering dui op ’n derde vlaag wat middel Mei kan begin. Hulle verwag dat dit kleiner as die eerste en tweede vlaag sal wees.

Dit hou ook daarmee verband dat meer mense in die land al die virus gehad het.

Behalwe as daar ’n nuwe variant is wat ons nie verwag het nie, glo ons die derde vlaag gaan kleiner wees.
Dr. Lungi Nyathi van Medscheme

“Behalwe as daar ’n nuwe variant is wat ons nie verwag het nie, glo ons die derde vlaag gaan kleiner wees.”

Van die tweede vlaag se voorspellings was nie baie akkuraat nie omdat die nuwe variant nie verwag is nie en daar nie verwag is dat dit aansteekliker sou wees nie.

Nyathi sê aanvanklik het almal gedink die nuwe variant is dodeliker en veroorsaak erger infeksies en meer jong mense kry dit. Hul statistieke toon egter dit is nie korrek nie. In geheel is daar bloot meer sterftes omdat daar meer infeksies is.

Volgens haar glo Medscheme ook tussen 48% en 53% van die bevolking het reeds Covid-19 gehad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.