Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Pathcare, ander mag begin toets vir Covid-19

Private patologiedienste soos PathCare en Lancet Laboratories* het toestemming van die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes (Nios) gekry om van volgende week af vir Covid-19 te toets.

Tot dusver het net Nios die toetse gedoen.

Net mense wat aan Nios se gevalledefinisie voldoen, word vir die virus getoets.

Namate paniek oor die virus begin versprei het, is al hoe meer vrae gevra oor hoekom die private sektor nie daarvoor mag toets nie.

Covid-19

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag in die parlement gesê bewerings dat private dokters mense geld vra om vir Covid-19 getoets te word, gaan ondersoek word, volgens EWN.

Dr. Jean Maritz, viroloog van PathCare, het bevestig die private patologiesektor mag tot dusver nie vir die virus getoets het nie.

Nios het dié diens gratis verskaf aan mense wat aan die gevalledefinisie voldoen het.

Volgens hom het hulle Woensdag die groen lig van Nios gekry dat hulle vir die koronavirus mag begin toets.

Hulle sal “van vroeg volgende week af” die toetse begin doen.

Maritz sê daar was begrip daarvoor dat die toetse in Februarie gesentraliseer is.

“Ons is in een gesondheidstelsel en aan die begin van ’n vermoedelike uitbreking is daar ’n argument daarvoor uit te maak om toetsing te sentraliseer.”

Die toetse van die verskillende vervaardigers wat gebruik word om vir Covid-19 te toets, moes ook eers uitgetoets word om te bepaal watter voldoende akkuraatheid toon.

Hy sê wanneer hulle volgende week met die toetse begin, sal ’n skrywe aan die dokters en spesialiste op hul databasis gestuur word oor die toetsproses.

Maritz sê Nios se webwerf is die betroubaarste bron oor die gevalledefinisie om te bepaal of iemand getoets moet word.

“Soos meer inligting gekry word, verander ’n gevalledefinisie en Nios se webwerf word bygewerk met die inligting.”

Die gevalledefinisie bepaal in dié stadium dat ’n persoon getoets mag word indien daar aan twee vereistes voldoen word:

  • Dat die persoon sekere simptome het; en
  • Dat die persoon bevestigde of vermoedelike kontak gehad het met mense wat besmet is, wat die reis na sekere lande insluit.

Hy sê die gevalledefinisie is aangepas want aanvanklik het dit net mense wat na China gereis het, behels.

Maritz sê nadat die virus einde verlede jaar in China uitgebreek het, is sy genetika middel Januarie vasgestel.

Vervaardigers het dié inligting gebruik om diagnostiese toetse te ontwikkel wat deur patologiedienste gebruik kan word.

* Prof. Eftyxia Vardas, viroloog van Lancet Laboratories, het ook Vrydag bevestig hulle mag nou begin toets. Vardas het gesê Lancet het vandeesweek beperkte toetsing begin in noue samewerking met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios). Volgens haar sal hulle van Maandag af toetse op aanvraag verskaf. 

Meer oor:  Pathcare  |  Zweli Mkhize  |  Koronavirus  |  Mediese Sorg  |  Mediese Toetse  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.