Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Plan vir medici absurd, sê kenner

Wrywing is aan die oplaai oor ’n voorstel dat private gesondheidsorgpraktisyns in die toekoms net sal kan praktiseer waar daar volgens die staat ’n behoefte aan hul dienste is.

Private praktisyns werk in sekere gebiede omdat daar genoeg werk is. As hulle gedwing word om elders te werk, sal baie dokters eerder die land verlaat, waarsku kenners.

Die omstrede sertifikate van behoefte (die sogenaamde Certificate of Need of CON) is deel van die regering se plan vir nasionale gesondheidsversekering (NGV). Die plan is dat dokters net op ’n plek mag praktiseer as die staat so ’n sertifikaat aan hulle uitgereik het wat wys dat daar op dié plek ’n dokter nodig is.

Dis veronderstel om ’n ewerediger verspreiding van gesondheidspraktisyns in alle dele van die land te verseker.

Die mededingingspaneel wat koste in die private gesondheidsorgbedryf ondersoek het, het vroeër vanjaar sy steun vir so ’n voorstel gegee, maar in die private gesondheidsektor was daar tot dusver relatiewe eenstemmigheid dat dit onwenslik sal wees. Die vernaamste argument téén so ’n stelsel is dat dokters en ander gesondheidswerkers die beroep of die land sal verlaat.

Maar nou het die Raad op Gesondheidsfinansiers (RGF), wat van die grootste mediese fondse en administrateurs in die land verteenwoordig, gesê hulle steun die regering se voorstel vir die CON. Die RGF sê sy eie ondersoek na die verspreiding van gesondheidsorgdiensverskaffers in die private en openbare sektore het getoon daar is ’n oneweredige verspreiding van diensverskaffers in die land.

Die meeste dokters per 10 000 inwoners is in Gauteng en die Wes-Kaap. Landelike provinsies soos Limpopo en Mpumalanga het nie net minder algemene praktisyns nie, maar spesialiste is baie skaars. Die staat het ook in verhouding tot die bevolking baie minder gesondheidswerkers as die private sektor.

Maar prof. Alex van den Heever, ’n kenner van gesondheidstelsels aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê die RGF se navorsing is swak en bevat min data.

Dis irrasioneel om aan mediese praktisyns voor te skryf waar hulle mag werk.

“Dit lyk vir my meer na ’n propagandastuk, amper of daar ’n verhouding is met mense binne die departement en die departement die RGF gevra het om dit te skep. Ek kan my nie voorstel dat die meeste rolspelers in die mediesefondsbedryf die standpunt huldig nie.”

Van den Heever sê dis irrasioneel om aan mediese praktisyns voor te skryf waar hulle mag werk.

Ongrondwetlik

Hy reken dit sal nie die toets van grondwetlikheid kan deurstaan nie.

Wetgewing wat die regering in staat sal stel om ’n stelsel van behoeftesertifikate in te stel, bestaan reeds. Dit kan egter nie geïmplementeer word voordat die departement van gesondheid regulasies vir die toekenning van die sertifikate gereed het nie.

Die konstitusionele hof het in 2015 ’n stokkie gesteek voor die departement se plan om die stelsel te implementeer omdat die regulasies nie gereed was nie. Dit is nou egter weer op hande omdat dit ingesluit is in die staat se NGV-plan.

Van den Heever sê dit kan wel sin hê om voor te skryf waar ’n behoefte bestaan vir gesondheidsgeriewe soos hospitale en klinieke. Maar om te dink die staat kan elke enkele gesondheidsorgpraktisyn in die land op dié manier beheer, is absurd.

Om dwang as ’n eerste beleidsopsie te kies, is ’n teken van onbeholpenheid. Daar moet eerder ’n omgewing geskep word om medici te lok na gebiede waar hulle nodig is, sê hy.

Daar moet eerder ’n omgewing geskep word om medici te lok na gebiede waar hulle nodig is.

Dr. Chris Archer, nie-uitvoerende voorsitter van die Suid-Afrikaanse Forum vir Algemene Praktisyns (SAPPF), sê hy het nie die RGF-verslag gesien nie, maar in die algemeen beskou hy die CON as ’n stomp instrument om probleme in die gesondheidsorgstelsel aan te pak.

Private praktisyns werk in sekere gebiede omdat daar genoeg werk is. Hulle kan nie net so ontwortel word om na afgeleë gebiede te trek nie. As hulle gedwing word om dit te doen, sal baie dokters eerder die land verlaat, waarsku Archer.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het vroeër in ’n aanbieding aan die mededingingspaneel gesê die sertifikate het ten doel om gesondheidsorgpraktisyns en -geriewe ewerediger te versprei, maar dit sal nie werk as dit nie saamval met algehele belegging in landelike infrastruktuur nie.

Van den Heever sê die land se gesondheidsorgstelsel moet verander, maar die departement moet fokus op ’n behoorlike bestuursraamwerk vir die openbare gesondheidsorgstelsel. Politici behoort nie operasionele besluite te neem nie en reguleerders moet onafhanklik bly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1121,56 (1291)
  • Top 40 45851,17 (-7786)
  • All Share 52096,04 (-5000)
  • Resource 10 39712,73 (24243)
  • Financial and Industrial 30 68788,28 (-23394)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.