Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Prys van medisyne plaas druk op fondse, pasiënte
Kenners meen medisyne is te duur in Suid-Afrika.

Nuwe medisyne wat tot R1 miljoen per pasiënt per jaar kos, plaas onbillike druk op Suid-Afrika se mediese fondse. Dis dalk tyd om nuwe planne te maak om medisyne bekostigbaarder te maak, reken kenners.

Die onderwerp oor hoe medisynepryse gereguleer moet word, is aangeroer op die Wêrelgesondheidsorganisasie (WGO) se forum oor billike medisynepryse, wat verlede week tot Saterdag in Johannesburg gehou is. Dit het wêreldwye belanghebbendes – regering, reguleerders in die gesondheidsektor, nieregeringsorganisasies, mediese versekeraars en natuurlik farmaseutiese maatskappye – saamgetrek.

Dis die tweede forum oor billike pryse; die eerste is twee jaar gelede in Amsterdam, Nederland, gehou.

’n Ondersoek wat die WGO in 2017 laat doen het, wys dat die produksiekoste van die meeste noodsaaklike medisynes net ’n fraksie is van die finale prys wat regerings, pasiënte of mediese skemas betaal.

Meer as 100 miljoen mense wêreldwyd verval elke jaar in armoede omdat hulle uit hul eie sak vir lewensnoodsaaklike medisyne moet betaal, volgens ’n nuusverklaring wat WGO Saterdag met die afsluiting van die forum uitgereik het.

Afgevaardigdes was bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid oor hoe farmaseutiese maatskappye hul pryse vasstel.

Selfs in welvarende lande met ’n nasionale gesondheidstelsel word pasiënte al hoe meer gerantsoeneer vir die behandeling van onder meer kanker, hepatitis C en rare siektes. Selfs ouer medisyne, waarvan die patent al verval het – soos insulien vir diabetes – is ook vir baie mense onbekostigbaar.

Afgevaardigdes was bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid oor hoe farmaseutiese maatskappye hul pryse vasstel, luidens die verklaring.

Daar is die gevoel dat groter deursigtigheid oor die koste van navorsing en ontwikkeling, sowel as produksiekoste, grootmaat-aankopers van medisyne sal help om billiker pryse te beding.

“Mediese innovasie het weinig maatskaplike waarde as die meeste mense nie toegang het tot die voordele nie,” sê dr. Mariângela Simão, die WGO se assistentdirekteur-generaal vir medisyne en gesondheidsprodukte in ’n verklaring. “Dis ’n wêreldwye menseregte-vraagstuk – almal het die reg tot toegang tot goeie gesondheidsorg.”

Een ooglopende teenstrydigheid is dat medisynepryse wissel van land tot land.

Health-e News haal voorbeelde aan van hoe medisynepryse verskil.

Dit sluit in:

  • ’n Spesifieke asmapompie kos $100 in die VSA, maar net meer as $9 in Londen, Engeland.
  • Tunisië en Marokko betaal meer vir die griepinenting as Frankryk.

Die forum het konsensus bereik dat regerings kan help om deursigtigheid oor medisynepryse te verhoog deur inligting te deel.

Daar is ook ’n voorstel dat buurlande saamwerk om medisyne as ’n groep aan te koop en danksy die groter volume wat hulle aankoop, afslag kan beding.

Die lidlande van die WGO het in 2001 die Doha-deklarasie onderteken wat lande toelaat om medisyne-patente te skend wanneer dit in die belang van openbare gesondheid is. Dit het by die forum geblyk lande is huiwerig om dit in te span.

Die WGO sal in die komende weke ’n aanlyn konsultasieproses begin om voorstelle en sienings te versamel oor wat beskou kan word as ’n “billike prys”.

Inez Naidu, hoof van Discovery Health se medisyne-eenheid, sê in dié stadium beskryf die WGO ’n billike prys een wat bekostigbaar is vir gesondheidstelsels en pasiënte, maar wat terselfdertyd genoeg aansporings vir die farmaseutiese bedryf bied om in innovasie en produksie te belê.

Medisyne het in 2018 18% van die uitgawes van die Discovery Health Medical Scheme verteenwoordig. Die mediese fonds het nagenoeg R10 miljard aan medisyne bestee.

“Dis hoekom Discovery Health aktief fokus op onderhandelinge oor die vasstelling van medisynepryse om die negatiewe impak van stygende besteding aan medisyne te verminder – dis een van die sleutelaandrywers van hoë mediese inflasie.”

In Suid-Afrika word medisynepryse gereguleer deur die enkeluitgangsprys, wat in 2004 in werking gestel is. Die enkeluitgangsprys is die maksimum prys waarteen vervaardigers medisyne aan alle apteke en hospitale moet verkoop, ongeag die volume wat die apteek bestel. Geen afslag of ander aansporings mag aangebied word nie. Dit beteken apteke kan nie groter wins maak deur meer van ’n medisyne te verkoop nie.

Volgens eHealthNews het die enkeluitgangsprys medisynepryse met 22% laat daal in die jaar nadat dit in werking gestel is. Die enkeluitgangsprys word jaarliks minimaal verhoog.

Dis belangrik dat medisyne van meet af aan teen ’n billike prys geregistreer word.

Daarby onderhandel mediese fondse met farmaseutiese maatskappye oor medisynepryse.

Naidu sê dit alles is nie genoeg om tasbare besparings vir verbruikers te bewerkstellig nie: “Elke jaar word die waarde van enige besparings uitgekanselleer deur die stygende koste en verbruik van medisyne, tesame met die baie hoë pryse van nuwe medisyne, wat daarop dui dat baie meer gedoen moet word om werklike verandering vir verbruikers teweeg te bring.”

Naidu sê sommige nuwe medisyne kan tot R1 miljoen per pasiënte per jaar beloop. “Die druk op ’n paar mediese skemas om die koste van nuwe medisyne te absorbeer, is eenvoudig nie volhoubaar nie.”

Naidu is van mening dat Suid-Afrika groter buigsaamheid in sy beleid nodig het. Dis belangrik dat medisyne van meet af aan teen ’n billike prys geregistreer word, wat groter steun van die reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (SAHPRA) gaan vereis.

“Dit sal die registrasie en beskikbaarheid van belangrike medisyne versnel, wat die grootste prysverligting vir verbruikers in Suid-Afrika sal meebring.”

Suid-Afrika verteenwoordig minder as 2% van die wêreldmark vir medisyne, sê Naidu, maar dis belangrik dat die land aanhou baklei vir bekostigbare toegang tot noodsaaklike medisyne.

Naido sê buigsaamheid wat risikodeling tussen mediese fondse en farmaseutiese maatskappye moontlik sal maak, kan een benadering wees om bekostigbaarheid en koste te verbeter.

Meer oor:  Mediese Fonds  |  Mediese Sorg  |  Medisyne  |  Pille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2579,48 (5818)
  • Top 40 48247,95 (-18709)
  • All Share 53995,82 (-19210)
  • Resource 10 42465,54 (-4274)
  • Financial and Industrial 30 73008,97 (-35550)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.