Lede van mediese skemas sal vanweë ’n wysiging aan regulasies nie self hoef op te dok vir die koronavirusentstof nie.
Die Raad op Mediese Skemas (RMS) sê die Covid-19-entstof is ingesluit as ’n minimum voorgeskrewe voordeel in wysigings aan die regulasies wat deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, goedgekeur is.
Die wysigings is op 24 Desember goedgekeur om inenting teen die koronavirus te dek. Die regulasies is voorheen ook gewysig om die toetse vir bevestigde gevalle te dek.
Mmatsie Mpshane, waarnemende hoof van belangeverhoudinge, sê die RMS voer sy mandaat uit deur samewerking tussen die openbare en private sektor te koördineer wat daarop gemik is om “universele toegang” tot die entstof moontlik te maak. Dit handel daaroor dat toegang tot die entstof gefinansier gaan word vir diegene wat nie lid van ’n mediese skema is nie.
“Die RMS is in deurlopende skakeling met die nasionale departement van gesondheid en bedryfsliggame soos die verenigings vir gesondheidsfinansiers, wat ’n benadering ondersteun om universele toegang te verseker vir diegene wat geprioritiseer moet word.

Dr. Sipho Kabane, nuwe permanente registrateur van mediese skemas. Foto: Verskaf
“Die samewerking tussen die staat en die private sektor is daarop gemik om groep-immuniteit van 67% te bereik deur ‘billike toegang tot die entstof’ te verseker omdat die pandemie ’n nasionale en internasionale openbaregesondheidsorgkrisis is wat almal raak.
“Die RMS besef daar gaan ’n bykomende las vir mediese skemas wees om te betaal vir die entstof, maar dit gaan na verwagting nie buitensporig hoog wees nie.”
Die bedryfsliggame het die RMS verseker die koste van entstowwe kan deur die meeste mediese skemas gedek word.
Dit is nie seker na watter koste Mpshane hier verwys nie en of dit ook die dekking van onversekerde lewens vir die entstof insluit nie.
Stavros Nicolaou, hoof van Business for South Africa se gesondheidstaakspan, het aan Netwerk24 gesê daar is in beginsel ’n ooreenkoms gesluit dat mediese skemas ook die nodige onversekerde lewens gaan dek om groep-immuniteit te bereik.
Die minister van gesondheid het die RMS opdrag gegee om die skakeling tussen mediese skemas en verenigings voort te sit sodat ’n raamwerk ontwikkel kan word om die bedryf en lede van die publiek oor hierdie toegewing leiding te gee.
Volgens Mpshane is daar verskeie kwessies wat verder ondersoek moet word en waaroor ’n ooreenkoms bereik moet word. Dit sluit in die ontwikkeling van:
- Duidelik kriteria oor lede van die bevolking wat voorkeur moet geniet;
- Kliniese riglyne en protokolle;
- Riglyne oor mediese skemas se likiditeitsbestuur en vereistes vir skemas se reserwes;
- Die entstoffinansieringsmodel en -meganisme;
- ’n Geskikte finansieringsvoertuig; en
- Korporatiewe bestuursprosesse om bedrog, vermorsing en misbruik te voorkom.