Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
‘Rassisme’-verslag: Gems en ander hof toe

Gems, die mediese fonds vir staatsamptenare, en die Raad vir Gesondheidsfinansiers (BHF) het Sondag ’n dringende aansoek ingedien om te keer dat ’n voorlopige verslag oor rassisme deur mediese fondse uitgereik word.

Gems eis die kans om eers kommentaar te lewer op ’n voorlopige verslag oor beweerde rassisme deur die mediese fonds, voordat dit openbaar gemaak word.

Dié verslag spruit uit ’n ondersoek wat in Julie 2019 begin is om te bepaal of art. 59 van die Wet op Mediese Skemas korrek toegepas word deur mediese fondse om betalings van mediese praktisyns te weerhou. Die ondersoekspan moes bepaal of aantygings van rassisme in die toepassing van die artikel grondig is.

Dit is die tweede keer dat die uitreiking van die tussentydse verslag uitgestel word.

Die uitspraak oor die hofaansoek word Dinsdagoggend verwag.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi SC, een van die drie lede van die ondersoekspan, sou Sondag die voorlopige verslag op ’n mediakonferensie bekend gestel het en die verslag daarna uitgereik het.

TimesLive berig Gems en die BHF voer in hul hofaansoek aan die voorlopige verslag bevat “skerp aantygings en bevindings met betrekking tot Gems (en ander)”. Die applikante sê hulle het nie die voorlopige verslag gesien of die geleentheid gekry om daarop kommentaar te lewer nie.

Hulle voer aan die voorlopige verslag was nie veronderstel om in dié fase van die ondersoek reeds aan die publiek bekend gemaak te word nie.

TimesLive berig Gems sê in die aansoek hy is ingelig die voorlopige verslag bevat bevindinge “dat sommige van die huidige prosedures van mediese fondse om hul regte kragtens art. 59 van die Wet op Mediese Skemas af te dwing, onregverdig is en dat onbillik gediskrimineer word teen swart verskaffers op grond van ras”.

Nog ’n vereniging wat administrateurs soos Discovery Health en mediese fondse soos die Discovery Health Mediese Skema verteenwoordig, het Maandagoggend gesê hy is nie ’n party tot die dringende hofaansoek nie, maar stem saam ’n voorlopige verslag mag nie uitgereik word nie.

Die vereniging van gesondheidsfinansiers (HFA) sê hy verteenwoordig 53% van alle hooflede van mediese fondse in die land.

“Die HFA het Vrydag en op verskeie geleenthede die afgelope ses maande die Raad op Mediese Skemas (RMS) skriftelik ingelig hy glo nie die beoogde bekendmaking van die voorlopige verslag aan die publiek voldoen aan die voorskrifte vir die ondersoek waarop ooreengekom is nie.

“Daar is op bestuurskomiteevlak ooreengekom dat die voorlopige verslag aan elkeen van die betrokke persone en organisasies vir kommentaar bekend gemaak sal word, in ooreenstemming met die komitee se eie opdrag en in ooreenstemming met die audi alteram partem-beginsel (om na albei kante van die saak te luister).”

Die idee is dan dat dié kommentaar ook deur die paneel oorweeg sal word en dat enige gepaste wysigings aan die verslag gedoen word voordat dit aan die publiek bekend gemaak word.

“Die HFA waardeer die baie belangrike werk wat tot dusver deur die paneel verrig is, maar is ook bedag daarop dat ooreengekome prosesse en prosedures gerespekteer moet word ten einde onnodige of onbillike skade aan geaffekteerde persone te voorkom.”

Lawtons Africa, opdraggewende prokureurs van die paneel, het nie teen druktyd op navrae gereageer nie.

Die voorlopige verslag sou op die vakansiedag van 16 Desember uitgereik geword het. Die paneel is egter die oggend van 16 Desember ingelig dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, bekommerd is oor die publikasie van die verslag sonder dat hy die inhoud daarvan beoordeel het.

Dié kommer is blykbaar ook deur die RMS gedeel.

Die paneel het onderneem om met albei te vergader en hulle in te lig oor die verslag.

Nie die minister of die RMS was beskikbaar om te vergader nie.

Die voorsitter van die RMS se raad het later vir verdere uitstel gevra.

Dit is nie bekend of die ondersoekpaneel teen Sondag al die minister en die RMS oor die inhoud van die verslag ingelig het nie.

Agtergrond van die ondersoek

Die ondersoek kom ná openbare aantygings van die nasionale vereniging van beroepslui in die gesondheidsorgbedryf (NHCPA) en die organisasie Solutionist Thinkers dat daar teen hulle gediskrimineer word deur mediese fondse en administrateurs omdat hul eise op grond van ras en etnisiteit nie betaal word nie.

Die RMS het daarna ’n beheerkomitee saamgestel wat bestaan het uit die klaers, bedryfsverenigings en ander reguleerders. Die komitee het die idee ondersteun dat ’n onafhanklike ondersoek na die aantygings gedoen word.

Die ondersoek is in Julie 2019 van stapel gestuur.

Die onafhanklike ondersoekspan bestaan uit die advokate Tembeka Ngcukaitobi SC, Adila Hassim en Kerry Williams.

Hul taak was om die klagte te ondersoek en aanbevelings te doen wat moontlik wetsingryping of wysigings aan wetgewing en regulasies kan insluit.

Die ondersoekpaneel het eers skriftelike voorleggings ontvang en van Julie 2019 tot Januarie 2020 ook openbare sittings gehou.

Die plan was om eers ’n voorlopige verslag uit te reik en daarna die finale verslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.