Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
‘Skok’ oor 15%-verhoging vir dokters, tandartse

Dokters en tandartse is erg geskok omdat die Raad van Gesondheidsberoepe (RGB) hul jaargelde met 15,3% verhoog het.

Boonop kla hulle die RGB diskrimineer teen hulle, want geen ander gesondheidsberoepe se gelde is verhoog nie omdat die finansiële impak van die Covid-19-pandemie in ag geneem is.

Tandartse is onder die medici wat 15% meer moet opdok om te mag praktiseer.

Tien mediese en tandheelkundige beroepsverenigings – wat sê hulle verteenwoordig die meerderheid van algemene praktisyns, tandartse en spesialiste in die private en openbare sektor – het Donderdag in ’n verklaring ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gedoen om die besluit te hersien.

Die RGB is ’n liggaam wat ingevolge wetgewing in die lewe geroep is, maar wat geen subsidies of toelae van die regering ontvang nie. Die raad word hoofsaaklik gefinansier deur die jaar- en registrasiegelde wat ontvang word van geregistreerde praktisyns wat lede is van die 12 gesondheidsberoepsrade onder sy jurisdiksie. 

Die verenigings sê die RGB het op 12 Maart ’n dringende spesiale vergadering belê om die begroting wat in Desember goedgekeur is, te heroorweeg “in ag genome die uitwerking van die pandemie op gesondheidspraktisyns.

“Op dié vergadering het die raad besluit om nie die jaarlikse gelde van 11 beroepsrade van die vorige boekjaar te verhoog nie, behalwe dié van die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe.”

Die RGB het daarna op 19 Maart die jaargelde van mediese en tandheelkundige praktisyns met ’n “ongelooflike 15,3%” verhoog.

Dié verhoging kom ná ’n verhoging van 21,2% in die vorige jaar.

Die bedryfsverenigings sê die verhoging “misken heeltemal die finansiële druk wat dokters en tandartse in die openbare en private sektor weens die pandemie ervaar”.

Die verenigings sê daar word teen dokters en tandartse gediskrimineer en dat hulle nie immuun is teen die finansiële impak van die pandemie vergeleke met die lede van die ander mediese rade nie.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) sê in ’n aparte verklaring die jaarlikse verhoging is onredelik en onregverdig.

“Die toename toon ’n absolute miskenning van die finansiële druk van mediese en tandheelkundige professionele persone, sowel in die private as die openbare sektor.

“Die pandemie het ’n groot impak gehad op dokters en tandartse, wat gedwing was om terug te sny op konsultasies. Ons glo dat die verhoging diskriminerend is en dat die absurde aanname gemaak word dat geneeshere en tandheelkundiges immuun is teen die finansiële impak van Covid-19 in vergelyking met lede van ander mediese rade,” sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama.

Netwerk24 het in 2020 berig spreekkamers en hospitale staan leeg omdat pasiënte wegbly weens hul vrees om die virus op te doen.

Dr. Munyadziwa Kwinda, waarnemende registrateur van die RGB, het in ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging-vakbond (Samatu) oor die klagtes gesê “die begrotingsproses en bepaling van die jaargelde is ’n proses van die raad in konsultasie met die beroepsrade.

“Die bepaling van die jaargelde vir elke beroepsraad is gegrond op die grootte daarvan en die aktiwiteite van die betrokke raad deur die loop van die boekjaar. Die beroepsrade oorweeg alle middele om groot verhogings in jaargelde te voorkom voordat ’n begroting by die raad aanbeveel word vir goedkeuring.”

Liggame wat chirurge en narkotiseurs verteenwoordig, het ook die gesamentlike verklaring ondersteun.

Meer oor:  Dokters  |  Medici  |  Gesondheidsorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.