Mediclinic sê sy hulpbronne is onder druk nadat opnames van Covid-19-pasiënte in sy hospitale drasties gestyg het in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng en Namibië.

Suster Martie van Aswegen is die eenheidsbestuurder by een van die Mediclinic Bloemfonein se Covid-19 waaksale. Sy sê Covid-19 het haar geleer hoe kosbaar die lewe is en dat niemand alleen moet sterf nie.
Dr. Gerrit de Villiers, mediese hoofbeampte, sê dit lyk of opnames in die Tuinroete gestabiliseer het.
In die ander gebiede het opnames in die laaste twee weke, en veral die afgelope week, toegeneem.
“Ons personeel, noodsentrums en hulpbronne vir kritieke sorg is onder groot druk en in baie gevalle is die volle vermoë reeds bereik.”
Noodeenhede
Volgens hom word bykomende maatreëls in werking gestel om die vermoë te vergroot in die gebiede waar baie opnames gesien word.
Hy sê pasiënte wat by noodeenhede opdaag word na ander hospitale verwys as een van hul hospitale se hoësorgeenheid nie meer pasiënte kan opneem nie.
Die verwysing na ander hospitale sal net vir kort tye duur en kritieke pasiënte sal steeds by Mediclinic se hospitale gestabiliseer en verder beoordeel word voordat ’n pasiënt na die naaste ander hospitaal verwys word.
Behandeling geprioritiseer
In sekere gebiede, waar hospitale oorweldig word, gaan pasiënte ook vir behandeling geprioritiseer word, gegrond op erkende riglyne daarvoor.
“In die praktyk kan dit beteken dat sekere vlakke van hoësorgbehandeling, ventilators en sekere suurstofbehandelings nie aan alle pasiënte beskikbaar gaan wees nie. Waar moontlik sal ons pasiënte na een van ons ander hospitale stuur waar daar vermoë beskikbaar is.”
Beplande operasies gestop
De Villiers sê in ’n verdere poging om die groeiende vraag te hanteer, het Mediclinic reeds sy beskikbare hoeveelheid beddens vir Covid-19-pasiënte verhoog.
Belangrike hulpbronne is na gebiede herontplooi waar ’n skerp toename in opnames ervaar word.
Bykomende opleiding is verskaf aan verpleegpersoneel om in waak- en hoësorgeenhede te help.
Beplande operasies word uitgestel vir sommige hospitale in gebiede waar die druk groot is.
Noodoperasies duur voort.